116 ASPEKTE VAN NARRATIEWE KOMMUNIKASIE AS RETORIESE STRATEGIE BINNE PREDIKING Marésa van der Walt, Willemien Marais and Johann C. de Wet* ABSTRACT Human beings are susceptible to the rhetorical power of narrative communication. Narrative communication is an organisational element that helps people to make sense of the world they live in. Rhetoric is the application of reason to imagination to bring the human will into movement. In the world of communication within the Christian philosophy, narrative communication can be used as a rhetorical strategy. This article discusses the different aspects of the use of narrative communication as rhetorical strategy within preaching. Both narrative techniques and narrative style elements can be used to contribute to the rhetorical effectiveness of a sermon. The use of “story elements” and “style elements” qualify a text (sermon) as “narrative”. The rhetorical success of narrative communication when used in sermons was tested in traditional Afrikaans-speaking Apostolic Faith Mission congregations in Bloemfontein. Churchgoers completed questionnaires to convey their experience and opinion of the use of narrative communication in preaching during 12 sermons. The results were overwhelmingly positive. * Marésa van der Walt lectures in the Department of Communication Science at the University of the Free State in Bloemfontein, where she completed a Master’s dissertation on narrative and religious communication. Willemien Marais and Professor Johann de Wet, of the same Department, acted as her supervisors. Communitas ISSN 1023-0556 2013 18: 116-135 117 Aspekte van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking INLEIDING In hierdie artikel word aspekte van narratiewe kommunikasie, of vertellings, as retoriese strategie in die algemeen behandel, gevolg deur narratiewe kommunikasie as ’n retoriese strategie in die prediking van die Christelike teologie. ’n Gevallestudie om die argumentasielyne te toets, word ook verskaf. Net soos die retoriek, naamlik die kunstige gebruik van spraak en skrif met die doel om te oorreed deur ’n verandering in houding en optrede teweeg te bring, is die antieke kuns van narratief, oftewel narratiewe kommunikasie, ’n onlosmaaklike en belangrike deel van ons moderne bestaan. Narratiewe kommunikasie kan ook as ’n strategie (plan van aksie) van retoriek gebruik word, veral in die veld van religieuse kommunikasie met inbegrip van prediking waaroor daar weinig vanuit die kommunikasiewetenskap in Suid-Afrika navorsing gedoen is. Wanneer narratief gebruik word, word ’n ervaring aan die ontvanger oorgedra. Dit sal beskryf wat gebeur het en hoe dit gebeur het (Brooks & Warren 1970: 57). ’n Gebeurtenis moet egter ’n beweging in tyd voorstel, anders is dit net ’n narratiewe stylelement en nie ’n verhaal of storie nie. Kruger, Rayner en Wall (2004: 43) stel dat die gebruik van narratief effektief is om die reaksie van die gehoor teenoor ’n spesifieke boodskap te beïnvloed. Josselson en Lieblich (1999: 170) bevestig hierdie stelling deur te sê dat ’n narratief se doel nie net is om ’n situasie te beskryf nie, maar om mense te motiveer om op ’n bepaalde wyse op te tree sodat ’n sekere praktyk kan voortduur of kan verander. Dus kan narratief as ’n retoriese strategie gesien word aangesien dit gebruik word om die ontvanger te oorreed om te doen wat die kommunikator met sy of haar boodskap beoog. Perelman (1982: 110) glo dat historiese verhale, sowel as fiktiewe verhale wat deur die spreker uitgedink is, gebruik kan word om ’n retoriese effek te skep. Selfs verhale wat doelbewus foutief is, kan strategies gebruik word om die ontvanger van ’n saak te oorreed (Perelman ibid.). Volgens Perelman (1982: 108) is die enigste vereiste van ’n vertelling dat, wanneer aangewend as ’n retoriese strategie, die vertelling die ontvanger se verbeelding moet aangryp. Abbott (2002: 36) verduidelik dat al die elemente van narratiewe bydra tot die retoriese krag daarvan. Al hierdie elemente word saam gebruik om sterk of subtiele kombinasies van gevoelens en gedagtes by die ontvangers te skep, en dus het al hierdie elemente die een of ander retoriese funksie. Sou een van hierdie elemente weggelaat of verander word, kan die effek wat die hele narratief op die ontvanger het, verander word (Abbott 2002: 36). Dus kan narratief, en al die narratiewe elemente, as instrumente van groot retoriese krag beskou word. 118 Marésa van der Walt, Willemien Marais and Johann C. de Wet NARRATIEWE TEGNIEKE EN STYLELEMENTE Dit is nie net volledige narratiewe of vertellings wat as retoriese strategieë gebruik kan word nie. Daar is ook ’n aantal narratiewe tegnieke en stylelemente wat retories aangewend kan word, soos byvoorbeeld analogie en metafoor, temas en taal, humor, asook onomatopieë en sintuiglike waarnemings. Analogie en metafoor Analogie, metafoor en ander simboliek kan as hulpmiddele gebruik word in die oordra van sekere begrippe (De Wet 2006: 31). ’n Analogie word gebruik wanneer een saak of verhouding met ’n ander saak of verhouding vergelyk word (Perelman 1982: 114). “Analogie” kan ook gedefinieer word as die vergelyking van twee verskillende voorwerpe wat die een of ander ooreenkoms toon (Cultural Dictionary 2010: 3). Die gebruik en uitbreiding van ’n goeie analogie sal altyd nuttig wees tydens die oorredingsproses (Perelman 1982: 118-119). So kan die beskrywing van oorlog in skaakterme byvoorbeeld die gruwels van oorlog in die wind slaan (Perelman 1982: 119). Analogieë word dan veral gebruik om komplekse of omstrede idees aan te raak en te verduidelik (Porter s.a.: 3). Aristoteles (in Perelman 1982: 120) definieer “metafoor” as die proses waar ’n voorwerp ’n naam gegee word wat eintlik aan iets anders behoort. Metafoor is dus ’n gekondenseerde vorm van analogie. Berggren (in Perelman 1982: 125) gaan so ver om te stel dat ware kreatiewe denke, hetsy in die kunste, die wetenskap of godsdiens, altyd metafories van aard sal wees. Metafore word veral gebruik om sekere sake te beklemtoon of weg te steek (Western Washington University s.a.: 1). Dit werk veral goed wanneer ’n vergelyking getref word tussen die situasie wat ’n karakter beleef, en ’n situasie wat die ontvanger beleef, of wanneer ’n vergelyking getref word tussen die ontvanger en ’n sekere situasie wat die oorreder beskryf (Western Washington University ibid.). So sal ’n predikant byvoorbeeld vir ’n gemeente sê hulle is Israel wat moet kies of hulle die beloofde land wil binnegaan en of hulle in die woestyn wil bly. Metafore kan ook beskrywend van aard wees wanneer dit saam met figuurlike taal gebruik word (Porter s.a.: 3). Temas en taal ’n Tema is die verbindingselement wat ’n boodskap struktureel saambind en kan ook die algemene idee oor die lewe wees wat die oorreder wil oordra. Die gebruik van temas staan dan dikwels sentraal tot die sukses van ’n retoriese boodskap, aangesien die mens ’n behoefte het aan die strukturele organisering van die boodskappe wat hy ontvang. Narratief, en die temas wat daarin voorkom, is een van die mees fundamentele maniere waarop die mens gebeure en ervaringe orden en juis hieroor is narratief en tema so ’n kragtige oorredingstrategie (Josselson 119 Aspekte van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking & Lieblich 1999: 190). Narratiewe en hul temas kan maklik deur die ontvanger geassimileer word om sodoende verandering teweeg te bring. Alle retoriese strategieë is afhanklik van sekere taalelemente wat in kleiner eenhede afgebreek en bestudeer kan word (Dubois, Edeline, Klinkenberg, Minguet, Pire & Trinon 1981: 25). Die taalelemente wat van toepassing is op narratiewe kommunikasie is die gebruik van kort sinne, die gebruik van eenvoudige woorde, die gebruik van die direkte rede, die gebruik van uitroepe, die gebruik van herhaling, alliterasie en assonansie en die gebruik van temporale oorgangswoorde (Hattingh 2004: 3-6). Gebruik van kort sinne Wanneer narratiewe kommunikasie as retoriese strategie gebruik word, moet daar nooit te veel detail gegee word en te veel afgedwaal word nie (Hattingh 2004: 3). Die oorreder moet selekteer wat vir die saak nodig is en hiervoor is die gebruik van kort sinne nodig (Hattingh 2004: 5). Die oorreder moet eerder van aktiewe sinskonstruksie as passiewe sinskonstruksie gebruik maak (Hattingh 2004: 8). Gebruik van eenvoudige woorde Wanneer narratiewe kommunikasie as retoriese strategie gebruik word, moet die woordkeuses met versigtigheid gedoen word. Die woorde moet ’n spreekstyl in plaas van ’n skryfstyl reflekteer (Hattingh 2004: 5). Die woordkeuse moet ook so eenvoudig as moontlik gehou word en daar moet nie te veel variasie wees in die woorde wat gebruik word nie (Hattingh ibid). Mathewson (in Hattingh 2004: 8) stel voor dat konkrete, spesifieke woorde gebruik sal word. Veralgemenings en clichés moet vermy word en storiewoorde, of emosionele woorde, moet liewer gebruik word. Woorde soos “wenner”, “verloorder”, “vryheid” en “moed” is kragtig en kan tot groot voordeel deur die spreker gebruik word (Western Washington University s.a.: 2). Byvoeglike naamwoorde en bywoorde moet minimaal gebruik word (Hattingh 2004: 8). Die oorreder moet nie hoogdrawend voorkom deur gedurig beskrywings te gebruik nie (Hattingh ibid). Die ontvanger moet voel dat hy gewys word wat aangaan, eerder as wat hy voel dat hy vertel word wat aangaan. Gebruik van direkte rede en dialoog Dialoog en direkte rede kan ekstensief uitgevoer word in die skryf en vertel van die storie-teks (Hattingh s.a.: 11). Volgens Hattingh (ibid.) is die Bybel, die sentrale geskrif binne Christelike religieuse kommunikasie, juis geskryf binne ’n milieu waar retoriek baie belangrik was. Min mense kon lees en die gemeenskap van die dag het hul tradisies hoofsaaklik mondelings oorgedra. Wanneer narratiewe kommunikasie as ’n retoriese strategie binne die konteks van 120 Marésa van der Walt, Willemien Marais and Johann C. de Wet Christelike religieuse kommunikasie gebruik word, kan die oorreder direkte rede en dialoog implementeer om die storie meer effektief te maak vir memorisering. Memorisering speel ’n uiters belangrike rol wanneer opleiding, en so ook gedragsverandering, moet plaasvind. In die geval van sekere karakters kan innerlike dialoog ook gebruik word (Hattingh 2004: 4). Hier gee die oorreder ’n stem aan die karakter se gedagtes. Dit kan ’n effektiewe tegniek wees om gehooridentifikasie met die karakter te skep. Hierdie gehooridentifikasie kan bydra tot die oorreding van die ontvangers van die kommunikasie. Gebruik van uitroepe Die gebruik van sterk imperatiewe dra by tot memorisering wat dan lei tot oorreding (Hattingh s.a.: 11). ’n “Imperatief” word gedefinieer as ’n opdrag of versoek wat dringend gerig word (The Free Dictionary 2010a: 1). Uitroepe en emotiewe uitlatings, bv. “O tog!”, “Hardloop!” en “Hou moed!” kan ook hier ingesluit en gebruik word (Hattingh s.a.: 11). Wanneer narratiewe kommunikasie as retoriese strategie gebruik word, moet die storie herleef word (Hattingh 2004: 5). Die verstand en liggaam moet saamwerk terwyl die angs in die liggaam beleef word en die verhaal met die oorreder se eie emosies gevul word. Die gebruik van uitroepe en imperatiewe kan bydra om hierdie doel te bereik. Gebruik van herhaling, alliterasie en assonansie Herhaling is ’n effektiewe retoriese tegniek (Hattingh s.a.: 11). Dit kan die herhaling van woorde en/of sintaktiese konstruksies wees. Dit kan ook die herhaling van klanke, grammatikale strukture of sekere begrippe insluit (Nell 1986: 81). Die herhaling van klanke en woorde kan aan die begin, in die middel of aan die einde van ’n sin of frase wees (Nell ibid.). Die herhaling kan in onmiddellik opeenvolgende frases, of in frases wat nie direk op mekaar volg nie, wees. Repetisie en herhaling word dikwels gebruik om sekere belangrike punte te onderstreep (Hattingh 2004: 7). Herhaling kan ook gebruik word om sekere gebeure te vergroot en anders te laat voorkom as wat dit werklik is (Dubois et al. 1981: 141). Sekere standaarde en herhalende patrone kan ook vir dieselfde doel gebruik word (Hattingh 2004: 7). Hieruit kan temas en motiewe ook die maklikste afgelei word (Abbott 2002: 88). Alliterasie en assonansie kan ook as retoriese strategieë gebruik word (Hattingh s.a.: 11). Alliterasie is die herhaling van dieselfde klanke of letters, gewoonlik mede-klinkers, wat aan die begin van ’n woord voorkom (Scaife 2004: 1). Hierdie woorde sal altyd naby mekaar, en soms direk langs mekaar, gevind word. ’n Voorbeeld hiervan is Julius Ceasar wat sê: “Veni, vidi, vici.” 121 Aspekte van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking Assonansie is die herhaling van dieselfde klanke wat binne-in ’n woord voorkom. Hierdie klanke is meestal klinkers (Scaife 2004: 3). Hierdie woorde sal ook naby mekaar, of direk langs mekaar, voorkom. ’n Voorbeeld hiervan is die aanhaling “Thy kingdom come, thy will be done” uit die Onse Vader-gebed (Scaife ibid.). Gebruik van temporale oorgangswoorde Die storielyn van ’n narratief is verantwoordelik vir die skep van ’n interpreteerbare, oorredende eenheid binne die narratief (Josselson & Lieblich 1999:170-171). Binne narratiewe word gebeure temporaal aan mekaar verbind (Josselson & Lieblich ibid.). Hierdie temporale orde van gebeure lei dan tot die sukses van die storielyn. Die temporale orde word geskep deur gebruik te maak van temporale oorgangswoorde. Voorbeelde van hierdie woorde en terme is “en toe”, “daarna” en “nadat”. Gebruik van humor Die gebruik van humor, en ook verskuilde humor, is ’n uitstekende strategie om die ontvanger van die kommunikasie minder krities en meer ontvanklik vir die oorreder se boodskap te maak (Western Washington University s.a.: 2). Verbeelding en kreatiwiteit speel ’n belangrike rol wanneer narratiewe kommunikasie gebruik word. Daar moet altyd gepoog word om die onsigbare op te roep en te bevry en die gebruik van humor kan bydra tot die bereiking van hierdie doel (Hattingh 2004: 4). Dit is egter belangrik om daarop te let dat die gebruik van humor as ’n retoriese strategie ’n ingewikkelde saak is. Die oorreder bereik nie altyd deur die gebruik van humor die resultate wat hy wou nie en daarom moet humor as retoriese strategie met groot omsigtigheid aangewend word (Western Washington University s.a.: 2). Gebruik van onomatopieë en sintuiglike waarnemings Sintuiglike waarnemings en onomatopieë kan gebruik word om die narratief meer effektief te maak vir memorisering en oorreding (Hattingh s.a.: 11). Sintuiglike waarnemings is enige deel van die narratief wat die ontvanger se sintuie streel en groter sintuiglike betrokkenheid by die ontvanger vereis as net die blote aanhoor van die vertelling. Hierdie waarnemings kan groter betrokkenheid vereis van die ontvanger se gehoor-, smaak-, sig-, gevoel- of reuksintuig. Onomatopieë, of klanknabootsings, is die gebruik van woorde om natuurlike klanke na te boots (Scaife 2004: 4). Op hierdie wyse word klank met die sintuie verbind sodat daar sintuiglike waarneming kan plaasvind. Dit is die mees gebruikte vorm van sintuiglike waarneming. “Die by zoem…” of “Hy stap doef-doef-doef in die gang af” is voorbeelde van klanknabootsings. 122 Marésa van der Walt, Willemien Marais and Johann C. de Wet Gebruik van historiese konteks Historiese en kulturele agtergrondinligting is dikwels nodig om te verseker dat narratiewe kommunikasie ’n suksesvolle retoriese strategie vorm (Hattingh 2004: 9). Binne die breë studieveld van semantiek, die studie van betekenis, word dit algemeen aanvaar dat konteks betekenis bepaal (Hattingh s.a.: 5). Daar kan twee soorte kontekste onderskei word binne narratiewe, naamlik die historiese konteks en die logiese konteks. Die historiese konteks is die milieu waarin die teks geskryf is (Hattingh s.a.: 5). Die implisiete historiese konteks is die milieu van die narratief binne die teks en die eksplisiete historiese konteks is dié van die skrywer van die narratief. Wanneer narratiewe retories gebruik word, is dit belangrik dat die oorreder die betekenis van die sosio-kulturele en geskiedkundige merkers besef (Hattingh ibid.). Die oorreder moet dan besluit of sekere van hierdie inligting noodsaaklik is om by te voeg of nie. Hierdie besluit moet geneem word in die lig van die spesifieke teikengehoor (Hattingh ibid.). Te min inligting of te veel inligting kan moontlik ’n negatiewe invloed op die retoriese proses hê. Narratiewe kan ook mites, geskiedenis en legendes insluit wanneer dit as retoriese strategie gebruik word (Longenecker 2002: 132). Mitiese taal kan net soveel soos metaforiese taal en simboliese taal binne narratiewe kommunikasie gebruik word. Somtyds is die gebruik van mites, geskiedenis en legendes onafskeidbaar van die gebruik van narratiewe kommunikasie as ’n retoriese strategie. INTERPRETASIE VAN NARRATIEF AS RETORIESE STRATEGIE Die religieuse konteks Die mens is vatbaar vir die retoriese mag van narratiewe kommunikasie (Abbott 2002: 79). Narratiewe kan ook sekere kulturele norme oordra en toepas, en juis daarom is dit so ’n kragtige retoriese strategie. Tog het die ontvanger van die narratief ook ’n mate van mag wat hy oor narratiewe kan uitoefen – die mag van die interpretasie van die narratief. Die ontvanger van narratief as ’n retoriese strategie absorbeer nie bloot die inligting binne die narratief, of die inligting wat deur die narratiewe stylelemente oorgedra word nie (Abbott 2002: 79). Die ontvanger sal dikwels sekere inligting miskyk of oorsien, en sekere inligting invoeg wat nie oorspronklik deel van die narratief was nie. Dit word die onderlees en die oorlees van narratiewe genoem. In die wêreld van religieuse kommunikasie, veral kommunikasie binne die Christelike lewensbeskouing, word narratiewe kommunikasie gereeld gebruik as ’n retoriese strategie. Religieuse kommunikasie word beskou as die oordra en vertolking van geloofsisteme. Snyman (1986: 6) stel dit dat alle religieuse sisteme 123 Aspekte van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking retories is, aangesien dit pogings is om religieuse waarhede te kommunikeer net soos wat politieke diskoers ’n poging is om politieke doktrines te kommunikeer, en dus noodsaaklik retories is. Retoriese kenmerke word in die Ou en Nuwe Testament van die Bybel gevind (Snyman 1986: 14). Wanneer ’n mens retories besig is binne die veld van religieuse kommunikasie, dit wil sê wanneer hy/sy kommunikeer met die doel om die ontvanger te oorreed, moet hy/sy een of ander strategie gebruik ten einde sy/haar doel te bereik (Snyman 1986: 14). Hierdie strategie is dan dikwels narratiewe kommunikasie. Dit stem ooreen met die siening van Dechant en Fasching (2001: 10) dat, vir die grootste deel van die mens se geskiedenis, die mens geïnspireer is deur, en sy optrede gerig is deur, die groot religieuse stories. Storievertel is die primêre en mees deurdringende wyse waarop religieuse tradisies etiese optrede skep (Dechant & Fasching 2001: 6). Binne die meeste religieuse tradisies is filosofiese en wettiese rede, sonder stories en rituele, nie in staat om ’n begrip van reg en verkeerd tuis te bring en optredes te rig nie. Dit verklaar dan waarom Jesus Christus, die “seun van God” volgens die Christelike Kerk (Rensburg 1989: 103), self ’n bobaas-storieverteller was wat deur stories Sy groot waarheid kom vertel het (Hattingh 2004: 1). In die Nuwe Testament en die vroeë Christelike kerk het Christus en die apostels in die kerk veral gebruik gemaak van die vrye dialogiese en verhalende wyse van prediking (Hattingh 2004: 2). Prediking en die gebruik van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie Dwarsdeur die Nuwe Testament van die Bybel word daar op prediking en lering klem gelê (Van Rensburg & Zeeman 1999: 83). Volgens Van Rensburg en Zeeman (1999: 83) is dit dan van uiterste belang dat die suiwer leer ooreenkomstig met die Woord altyd tydens prediking gehandhaaf moet word. Prediking kan dan gedefinieer word as die oordra van religieuse diskoers en die kuns van vermaning of lering (Brainy Media 2010: 1). Dit is ’n publieke handeling en sluit ook die ernstige, opregte oordrag van advies in (Brainy Media ibid.). Dit kan ook aandring op die aflegging van ’n sekere idee, lewenstyl of aksie wat deur die ontvanger van die preek gehou of beoefen word (Merriam Webster Online 2010: 1). Prediking word dus in hierdie artikel geoperasionaliseer as die oordra van religieuse diskoers binne die Christelike kerk, met die doel om die ontvanger te vermaan, te leer, aanbevelings te maak en te waarsku. Janse van Rensburg (2003: 27) beskou effektiewe prediking as ’n samewerkende aksie tussen God en die mens. Die een pilaar van effektiewe prediking is gebou op ewige Waarheid, terwyl die ander pilaar geanker is in die mens se ervaring (Janse van Rensburg ibid.). Juis om hierdie rede moet ’n preek ook die kognitiewe 124 Marésa van der Walt, Willemien Marais and Johann C. de Wet en die emosionele aspekte van mense se bestaan aanspreek (Janse van Rensburg 2003: 40). Volgens Snyman (2007: 34) steek groot waarheid in die woorde van Matthéüs 13 vers 34 in die Bybel: “Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer en sonder ’n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie.” Sweet en Schmidt (in Snyman 2007: 34) stel dit dat die verhouding van poësie tot suiwer doktrine in die Bybel minstens 50 tot een is en die meeste van die res van die Bybel bestaan uit stories en gelykenisse, wat veral in die lewe en die leerstellings van Jesus Christus gesien kan word. McLaren (in Snyman 2007: 34) sluit hierby aan as hy opmerk dat die hart van Jesus Christus se leerstellinge oorgedra word deur die gebruik van die unieke literêre genre bekend as gelykenisse. Volgens hedendaagse interpreteerders kan ’n gelykenis beskryf word as ’n storie (Snyman 2007: 35). Shillington (in Snyman 2007: 35) beskryf dit as ’n metafoor of vergelyking gevind in die natuur en die alledaagse lewe. Die duidelikheid en vreemdheid daarvan neem die gedagtes van die ontvanger gevange. ’n Gelykenis is dikwels ’n kort storie van sedelike aard (WordNet 2003: 1). Groenewald (1963: 10) ondersteun hierdie definisies deur “gelykenis” as ’n eenvoudige vertelling, ontleen aan die natuur of die alledaagse lewe, met die bedoeling om ’n praktiese les van diepe geestelike inhoud verstaanbaar en onvergeetlik voor te hou, te beskryf. Gelykenisse, stories en narratiewe stylelemente was in Ou Testamentiese tye, Nuwe Testamentiese tye en in die Eerste-eeuse Christelike kerk goed bekend en dikwels gebruik as ’n vorm van prediking. Dit was die beproefde vorm van onderrig van daardie tyd (Groenewald 1963: 11). Dit is dus veilig om te sê dat narratiewe kommunikasie reeds toe as retoriese strategie tydens prediking gebruik is. Met die huwelik tussen kerk en staat in die vierde en vyfde eeue het daar ’n verandering in prediking gekom (Hattingh 2004: 2). Die prediking vir die massas het aansluiting gevind by die Griekse denke met die klem op die argument en rede terwyl verhalende prediking as minderwaardig beskou is. Prediking is al meer geskoei op logiese redenasies en die verhaal het plek gemaak vir die argumentatiewe, die ordelike en die logiese. In dié proses is die gevoel, die ervaring, die gevoel van geborgenheid, soeke na die sin van die lewe, die dialogiese en die verhalende grootliks buite rekening gelaat (Hattingh ibid.). Daar is egter vandag, in die een-en-twintigste eeu, ’n oplewing in die gebruik van narratiewe tydens prediking. Janse van Rensburg (2003: 1) verduidelik dat dit vir baie predikante ’n “nuwe” vorm van prediking is. Narratiewe prediking word steeds minder gebruik as baie ander vorme van prediking en dit ontvang nou eers die aandag wat dit verdien binne die Suid-Afrikaanse konteks. Hoewel narratiewe prediking reeds vir ’n wyle in akademiese kringe erken word, is daar predikante wat 125 Aspekte van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking onlangs eers daarvan bewus geword het as ’n praktiese vorm van prediking (Janse van Rensburg ibid.). Die gebruik van narratiewe in prediking skep ’n wonderlike geleentheid om die evangelie op ’n opwindende en onverwagse wyse oor te dra en kan die effektiwiteit van die retoriese kommunikasiehandeling verhoog (Janse van Rensburg 2003: 3). Die idee dat ons almal blote storievertellers en storie- ontvangers is, is baie aanloklik vir die mensdom (Prickett 2002: 4) en juis hierom is die gebruik van narratiewe tydens die oordrag van belangrike sake en meester- narratiewe so aanloklik. Volgens Prickett (2002: 128) is die Christelike godsdiens die eerste en oorspronklike meester-narratief. Vir meer as ’n duisend jaar is dit gesien as ’n allesomvattende, finale en samehangende “teorie van alles”. Teologie, sterrekunde, plantkunde, dierkunde en die organisering van die menslike samelewing het alles ingeskakel by, en soms afgehang van, die Bybelse narratief (Prickett ibid.). Hoewel die idee van ’n verenigde en verenigende meester-narratief in die postmoderne wêreld bevraagteken word (Prickett 2002: 131), behoort die oordrag van hierdie meester-narratief juis meer suksesvol te wees deur van narratiewe en narratiewe stylelemente gebruik te maak. Die gebruik van narratiewe tydens prediking is vandag veral gewild onder jonger predikante (Janse van Rensburg 2003: 43). Lowry (in Janse van Rensburg ibid.) gaan sover om te impliseer dat alle preke narratief moet wees. Janse van Rensburg (ibid.) voel egter dat die gebruik van totale narratiewe of vertellings slegs een van die genres is wat gebruik kan word om die evangelie te verkondig. Die afwisseling en kombinasie van narratiewe met ander style van prediking blyk die sleutel te wees. Juis om hierdie rede kan die gebruik van narratiewe stylelemente tydens die gebruik van ’n ander preekstyl aangemoedig word. Soos met die gebruik van enige styl van prediking, is daar voordele sowel as sommige slaggate verbonde aan die gebruik van narratiewe kommunikasie tydens prediking. Voordele Volgens Hattingh (2004: 2-3) het die gebruik van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie tydens prediking bepaalde uniekhede en voordele wat dit in die oordra van die evangelie besonders nuttig maak: ♦ Dit kommunikeer ’n saak lewendig, duidelik en maklik onthoubaar; ♦ Dit besit ’n dinamiese karakter wat voorsiening maak vir beweging, ontwikkeling, doel en ook verskuilde sake; ♦ Dit verkry en behou die aandag van die ontvanger maklik; 126 Marésa van der Walt, Willemien Marais and Johann C. de Wet ♦ Dit maak die ontvanger betrokke en neem hulle op reis saam met die oorreder; ♦ Dit verbind die oorreder en die ontvanger aan mekaar; ♦ Abstrakte waarhede word in die verhaal tot konkrete lewenswerklikhede gebring, omdat dit vol menslike gebeure en ervarings is; ♦ Die ontvanger word genooi om met karakters te identifiseer en dit lei tot selfontdekking; ♦ Daar is ruimte vir betrokkenheid, maar ook genoeg afstand om tot ’n eie selfstandige besluit te kom; ♦ Geloof word makliker oorgedra deur vertelling as deur redenasie of deur argumente; ♦ Dit is ’n uitstekende wyse vir die kommunikasie van sensitiewe materiaal en vir sake wat andersins moeilik tot woorde gebring word; ♦ Dit bied ’n beter benadering vir ’n vyandige gehoor; ♦ ’n Goeie narratief is toeganklik vir mense van alle ouderdomme en vlakke van begrip; ♦ ’n Vertelling is dikwels meer interessant as ’n redenasie; ♦ Die weerstand teen gesag en die anti-outoritêre gevoel wat nie absolute waarheid wil aanvaar nie, word beter deur die gebruik van narratiewe hanteer; ♦ Narratiewe kommunikasie stel nie summier direkte eise nie en moralisering, wat makliker weerstand veroorsaak, kom nie voor nie; en ♦ Die affektiewe word aangespreek, eerder as net die kognitiewe, en daar is ruim geleentheid vir emosie en vir die verbeelding. Janse van Rensburg (2003: 3-4) het die volgende voordele verbonde aan die gebruik van narratiewe en narratiewe stylelemente tydens prediking gevind: ♦ Mense van alle ouderdomme geniet vertellings en stories; ♦ Televisie-dramas, boeke, films en toneelstukke het die weg voorberei vir die gebruik van narratiewe tydens prediking. Wanneer narratiewe tydens prediking gebruik word, is dit dus nie ’n vreemde ervaring vir die ontvanger nie. Simpson (2009: 3) verduidelik ook dat die tyd verby is dat predikante net die stories van die Bybel moet vertel tydens hul prediking.Volgens Simpson (ibid.) moet predikante ook die stories van hul gemeentelede, stories van die universele Christelike kerk, stories van dié wat arm en 127 Aspekte van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking onderdruk is en stories van Christene wat onderdrukkingsmagte oorkom en ontbloot het, vertel. Hierdie stories kan ook vertel word deur van video- tegnologie en die internet gebruik te maak (Simpson ibid.); ♦ Die krag van storievertel sorg dat die gebruik van narratiewe tydens prediking ook kragtige gevolge kan hê; ♦ Die induktiewe aard van narratiewe prediking kan tot suksesvolle oorreding lei; en ♦ Die tradisionele preekstyle is byna altyd linkerbrein-gestruktureerd terwyl baie mense regterbrein-geöriënteerd is. Die gebruik van narratiewe tydens prediking skep ’n geleentheid om ook met die lede van die gemeente te kommunikeer wat nie logies-geöriënteerd is nie. Venter (in Janse van Rensburg 2003: 44) stem saam dat die gebruik van narratiewe binne prediking ’n wêreld vol nuwe geleenthede laat oopgaan, maar hy beklemtoon dat dit slegs een van die moontlike benaderings tot prediking is. Die oorgebruik van narratiewe kommunikasie tydens prediking kan nadelig wees en daar moet besef word dat nie alle skrifgedeeltes sal pas by prediking wat van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie gebruik maak nie (Janse van Rensburg 2003: 4). Daar is ook ’n aantal ander gevare waarop gelet moet word wanneer die prediker van narratiewe kommunikasie gebruik wil maak. Probleme en gevare Kellerman (in Hattingh 2004: 9) lys ’n aantal probleme en gevare waarop gelet moet word wanneer die prediker narratiewe kommunikasie as ’n retoriese strategie tydens prediking wil gebruik: ♦ Verwringing van die mensbeeld in die goddelike openbaring kan maklik plaasvind; ♦ Konteksverskuiwing kan ’n probleem wees en ’n verhaal se konteks wat vreemd is aan die gemeente moet vermy word; ♦ Moralisering is ’n wesenlike gevaar; ♦ Allerlei innerlike belewenisse kan ingelees word en dan kan daar maklik van die Woord (of dan die boodskap) afgedwaal word; ♦ Pedagogisering moet nie te volledig wees nie. Alles moet nie verklaar word nie, aangesien daar iets aan die verbeelding van die hoorders oorgelaat moet word; ♦ Die prediker moet hom nie allerlei vryhede veroorloof en dan nie die vertelling van die oorspronklike verteller voortsit nie; en 128 Marésa van der Walt, Willemien Marais and Johann C. de Wet ♦ Soms wil die hoorder hom nie laat inlei binne die grense van die Bybelvertelling nie en dit kan tot ’n groot kommunikasiebreuk lei. Narratiewe prediking is moeiliker as wat algemeen aanvaar word en daarom is dit belangrik dat die predikante wat hiervan gebruik wil maak, sal besef dat hulle die gebruik van narratiewe kommunikasie tydens prediking moet verstaan en dat hulle goed sal moet voorberei wanneer hulle hiervan gebruik wil maak (Janse van Rensburg 2003: 4). Miller (in Janse van Rensburg 2003: 50) het ’n lys opgestel van die gevare en probleme wat voorkom tydens die gebruik van narratiewe kommunikasie in prediking: ♦ Daar is geen waarborg dat die narratief die korrekte identifikasie van die ontvanger met die karakters en gebeure van die vertelling sal skep nie; ♦ Narratiewe prediking kan moontlik lei tot die verlies van suiwer lering binne die kerk; ♦ Narratiewe binne preke kan moontlik meer verstom, fassineer en vermaak as wat dit tot verandering in mense se lewe lei; ♦ Die effektiwiteit van narratiewe preke hang af van die kreatiewe vaardighede van die ontvanger van die spesifieke preek; en ♦ Die effektiwiteit van narratiewe preke hang af van die kreatiewe vaardighede van die prediker. Daar is twee groot gevare betrokke by die gebruik van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie tydens prediking, naamlik moralisering en literêre vryheid. Hierdie probleme kom ook die meeste voor en hou groot gevaar in vir die gebruik van narratiewe kommunikasie tydens prediking (Janse van Rensburg 2003: 50). Moralisering kom voor wanneer die prediker die ontvangers laat met die gedagte dat, tensy hulle sekere optredes implementeer, of sekere optredes afleer, hulle verlore sal gaan (Janse van Rensburg 2003: 51). Hier word die ontvangers met die Wet en met die gevolglike etiese optrede gekonfronteer, maar nie met die Een wat die wette maak nie. Narratiewe kommunikasie tydens prediking moet dus nooit die gevoel skep dat selfregverdiging en redding deur middel van goeie dade die weg vorentoe is nie (Janse van Rensburg 2003: 51-52). Moralisering kom gewoonlik voor wanneer daar van ’n vyandige kommunikasiestyl gebruik gemaak word. Hier sal ’n predikant nie eenheid met en liefde vir sy gemeente uitstraal nie, maar eerder veroordeling (Janse van Rensburg 2003: 52). Hier word die belangrikheid van die rol wat ’n oorreder se verhouding met die ontvangers van sy boodskap speel, beklemtoon (Janse van Rensburg ibid.). Dit is ook moontlik dat die inhoud van die boodskap op liefde dui, maar dat die predikant se stemtoon, 129 Aspekte van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking lyftaal en gesigsuitdrukkings ’n boodskap van afstand en oordeel projekteer. Dus moet die oorreder aandag gee aan die nie-verbale boodskappe wat hy uitstuur wanneer hy narratiewe kommunikasie tydens prediking gebruik. Daar is ook die gevaar dat die predikant sal toegee aan literêre vryheid om sodoende die vertelling meer interessant te maak (Janse van Rensburg 2003: 53). Literêre vryheid is toelaatbaar solank dit die ware bedoeling van die Skrif weergee en nie die historiese, teks-kritiese en teologiese konteks kontrasteer nie (Janse van Rensburg 2003: 54). Binne die wêreld van narratiewe kommunikasie is daar ’n onvermydelike element van beperkte literêre vryheid, maar die oorreder moet altyd bewus wees van die moontlike misbruik van literêre vryheid, wat ingrypende gevolge kan inhou (Janse van Rensburg 2003: 55). Baie van die probleme en gevare van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie tydens prediking kan vermy word wanneer die predikant tyd daaraan bestee om die regte preekstyl en die regte kombinasie van narratiewe stylelemente te kies. Hier volg ’n lys van sommige van die veranderlikes wat die predikant in ag moet neem wanneer hy kies om narratiewe kommunikasie tydens sy prediking te gebruik (Janse van Rensburg 2003: 44): ♦ Die aard van die skrifgedeelte wat hy wil gebruik, gesien deur die lens van die literêre genre van die teks binne die Bybels-wetenskaplike konteks, byvoorbeeld histories (Rigters), poëties (Job), profeties (Jesaja), apokalipties (Daniël), gelykenisse (die verhaal van die verlore seun in Lukas), wyshede (Prediker) of briewe (Romeine) van die Nuwe Testament (Hattingh s.a.: 4-5). Die gebruik van narratiewe kommunikasie pas beter by die historiese of poëtiese skrifgedeeltes as by die wysheid-skrifgedeeltes; ♦ Die aard van die predikant, hetsy linkerbrein-dominerend of regterbrein- dominerend. Predikante wat goeie verklarende preke lewer, moet eerder net narratiewe stylelemente gebruik en nie totale narratiewe preke lewer nie. Predikante moet somtyds net hou by die preekstyl wat hom/haar die beste pas; ♦ Die kulturele konteks waarin die preek sal plaasvind. Binne die Afrika- konteks is stories en vertellings tweede natuur en sal die gebruik van narratiewe kommunikasie binne prediking effektief wees; ♦ Die demografiese samestelling van die gehoor sal ’n groot rol speel. ’n Gemeente vol ouer gemeentelede, wat gewoond is aan meer tradisionele prediking, mag dalk nie totaal en al ten vinde vir narratiewe kommunikasie tydens prediking wees nie, terwyl ’n gehoor wat uit studente en tieners bestaan, sal floreer op narratiewe kommunikasie tydens prediking; en 130 Marésa van der Walt, Willemien Marais and Johann C. de Wet ♦ Persoonlike voorkeure van individue kan ook ’n rol speel om te bepaal of narratiewe kommunikasie tydens prediking positief of negatief ontvang sal word. Wanneer ’n predikant sy gemeente goed ken, kan hy bepaal of narratiewe kommunikasie tydens sy prediking gebruik moet word, al dan nie. EFFEKTIWITEIT VAN NARRATIEWE KOMMUNIKASIE IN PREDIKING: ’N GEVALLESTUDIE Lotter (2009) het ’n studie oor kerkgangers van die Bloemfonteinse Apostoliese Geloofsending-gemeentes se reaksie op die gebruik van narratiewe kommunikasie in 12 preke gedurende 2008 en 2009 gedoen. Daar was 295 respondente in totaal op die vraelyste wat anoniem ingevul is. Tydens hierdie studie het die navorser van formele, gestandardiseerde vraelyste gebruik gemaak. Die respondente was deel van ’n willekeurige proefgroep en die vraelyste het uit Likertskaal-vrae bestaan wat horisontaal gerangskik is. Die vraelyste is gebruik om die kerkgangers se ervaring van en algemene gevoel oor die gebruik van narratiewe kommunikasie tydens prediking in die Bloemfonteinse Apostoliese Geloofsending-gemeentes te ondersoek. Die volgende vrae, waarop die respondente “baie beslis”, “beslis”, “moontlik”, “beslis nie” en “baie beslis nie” moes antwoord, is in die vraelys ingesluit: 1. Pas storie-vertel by u predikant se persoonlikheid? 2. Is die preek relevant vir die gehoor? 3. Is die preek verstaanbaar? 4. Raak die preek u op ’n emosionele vlak? 5. Sal u hierdie preek onthou? 6. Verkry u predikant u aandag maklik? 7. Behou hy u aandag regdeur die preek? 8. Betrek hy u by die preek? 9. Sal u die boodskap van die preek toepas in u eie lewe? 10. Het die preek u meer geleer van die lewe in die algemeen? 11. Val prediking in storie-vorm in u persoonlike smaak? Die oorgrote meerderheid van die kerkgangers meen die preke is relevant (276 of 93,55%; n=295) en verstaanbaar (282 of 95,59%; n=295) vir die gehoor. Die preke het volgens 252 (85,42%; n=295) kerkgangers hulle op ’n emosionele vlak 131 Aspekte van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking geraak en sal volgens 274 (92,88%; n=295) van hulle onthou word. Die meeste kerkgangers voel dat die predikante hulle aandag verkry (276 of 93,55%; n=295) en behou (260 of 88,13%; n=295) regdeur die preek. Die kerkgangers meen verder dat hulle by die preek betrek word (238 of 80,67%; n=295) en hulle dink dat hulle die boodskap van die preke gaan toepas in hulle eie lewe (278 of 94,23%; n=295). Die meeste (272 of 92.20%; n=295) voel dat die preke hulle meer geleer het van die lewe in die algemeen en 259 (87,79%; n=295) voel ook dat prediking in storievorm in hulle persoonlike smaak val. Dit is interessant om daarop te let dat 96% (n=295) van die respondente sterk gevoel het dat die preke wat narratiewe kommunikasie ingesluit het, verstaanbaar was. Dit is een van die voordele van die gebruik van narratiewe kommunikasie (Hattingh 2004: 2) en dus kan die gebruik van narratiewe kommunikasie tydens die preke as geslaag beskou word. Net 50% (n=295) van die respondente het egter gevoel dat hulle baie beslis by die preek betrek word. Dit was die laagste positiewe reaksie op die vraelys. Vos (in Janse van Rensburg 2003: iv) verduidelik dat die hoorder van die narratiewe preek sal deel voel van die preek wanneer hy verras of bedroef word deur die preek, of wanneer daar ’n deel van die lewe vir die hoorder in die preek geïnterpreteer word. Aangesien dit (die betrekking van die gehoor) ’n belangrik doelwit van narratiewe prediking is, behoort die predikante by die Bloemfonteinse Apostoliese Geloofsending meer aandag hieraan te gee om sodoende nog groter sukses met die gebruik van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie te behaal. Narratiewe stylelemente het in al 12 preke wat geëvalueer is, voorgekom. Die stylelemente sluit in spreekwoorde; die gebruik van algemene en gedeelde ervarings; die afstuur op ’n keuse; ’n waarde-gelaaide boodskap; die voorkoms van temas en motiewe; direkte rede; alliterasie; en die stem en liggaam wat die storie versterk. Die gebruik van humor, die gebruik van metafore en die self-openbaring van die verteller is die stylelemente wat by verre die meeste voorgekom het in terme van die hoeveelheid kere wat elkeen van daardie elemente gebruik is. Daar is in die studie van Lotter (2009) bevind dat die gebruik van volledige narratiewe, in samewerking met die gebruik van narratiewe stylelemente, meer dikwels tydens die aanddienste voorkom. Tydens die oggenddienste fokus die predikant meer op die gebruik van slegs narratiewe stylelemente. Geen verskil tussen die oggenddienste en aanddienste in die gemiddelde gebruik van narratiewe storie-elemente en narratiewe stylelemente is gevind nie. In die geheel beskou, het die respondente van die vraelyste oorwegend positief gereageer op die gebruik van narratiewe kommunikasie tydens die prediking in die Bloemfonteinse Apostoliese Geloofsending. Die respondente het veral sterk gevoel dat die preke verstaanbaar was. Die afleiding is dat narratiewe 132 Marésa van der Walt, Willemien Marais and Johann C. de Wet kommunikasie suksesvol as ’n retoriese strategie in die prediking van die Apostoliese Geloofsending in Bloemfontein aangewend word. SLOTBESKOUING Narratief, en die gebruik daarvan, kan dikwels as rigtingwyser dien in ’n wêreld van onsekerheid (Roberts 2004: 131). Die mens konstrueer sy lewe met en deur verhale (Gerber 2005: 24). Deur verhale gee die mens vorm aan sy lewe en daarmee organiseer hy ook sy lewe. Verhale in die mens se geheue, ongeag of dit oorvertel word of nie, help die mens om sin te maak uit die lewe. In en deur verhale ontdek die mens sy identiteit, en bou die mens sy identiteit (Gerber ibid). Nie net kan hierdie besef individue beskerm teen liggelowigheid wanneer hulle aan voortdurend veranderende retoriek blootgestel word nie (Roberts 2004: 132), maar dit kan ook, wanneer sekere riglyne gevolg word, gebruik word om retoriese sukses binne prediking te behaal. Dit is duidelik uit die literatuur dat die gebruik van narratiewe kommunikasie tydens prediking kunstige vermoëns en ’n groot voorraad kommunikasievaardighede benodig (Janse van Rensburg 2003: 58). Wanneer daar nie kunstige organisering en vaardige voordrag binne ’n narratief voorkom nie, word dit ’n onaantreklike warboel van gebeure en kan dit nie meer as ’n narratief beskou word nie (Janse van Rensburg ibid.). In die afgelope dekades het “narratiewe teologie”, of narratiewe kommunikasie wat gebruik word as retoriese strategie in prediking, weer na vore getree (Longenecker 2002: 133). Een van die grootste redes hiervoor is die gepastheid van narratiewe kommunikasie binne die Christelike diskoers, aangesien ’n groot deel van die Christelike teologie op die gelykenis-gebruik, of storie-gebruik, van Jesus Christus gebou is. Daar is vele voordele verbonde aan die gebruik van narratiewe kommunikasie tydens prediking, maar daar is ook sekere gevare waarop gelet moet word. Mits die predikant hierdie gevare in gedagte hou, en die tegnieke en riglyne wat daargestel is toepas, behoort hy met groot sukses van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking gebruik te maak. 133 Aspekte van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking VERWYSINGS Abbott, H.P. 2002. The Cambridge introduction to narrative. Cambridge: Cambridge University Press. Brainy Media. 2010. Definition of preaching. [Aanlyn]. Beskikbaar by: http:// www.brainyquote.com/words/pr/preaching205726.html [Besoek op 9 Augustus 2010]. Brooks, C. en Warren, R.P. 1970. Modern rhetoric. (Derde uitgawe). New York: Harcourt, Brace & World. Cultural Dictionary. 2010. [Aanlyn]. Beskikbaar by: http://dictionary.reference. com/browse/analogy [Besoek op 29 Julie 2010]. Dechant, D. en Fasching, D.J. 2001. Comparative religious ethics. A narrative approach. Oxford: Blackwell Publishing. De Wet, R. 2006. Ontwerp en toepassing van ’n pastorale narratiewe model. Ongepubliseerde Magister-verhandeling. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. Dubois, J., Edeline, F., Klinkenberg, J-M., Minguet, P., Pire, F. en Trinon, H. 1981. A general rhetoric. Baltimore: The Johns Hopkins University Press. Gerber, R. 2005. ’n Narratiewe pastorale betrokkenheid by gesinne. Ongepubliseerde Magister-verhandeling. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. Groenewald, E.P. 1963. In gelykenisse het Hy geleer. Pretoria: Van Schaik. Hattingh, J. 2004. Narratiewe prediking: ’n Kontemporêre wyse van preek. (Lesingnotas vir die Auklandpark Teologiese Seminarium). Johannesburg: Auklandpark Teologiese Seminarium. Hattigh, J. s.a. Narratologiese tegnieke vir die (her)skryf van Ou Testament narratiewe (Sondagskool Fase). (Lesingnotas vir die Auklandpark Teologiese Seminarium). Johannesburg: Auklandpark Teologiese Seminarium. Janse van Rensburg, J. 2003. Narrative Preaching - Theory and praxis of a new way of preaching. Acta Theologica: Supplementum 4. Josselson, R. en Lieblich, A. (reds.). 1999. Making meaning of narratives – in Narrative Study of Lives (6). London: Sage. Kruger, S., Rayner, P. en Wall, P. 2004. AS Media Studies: The essential introduction. (2de uitgawe). New York: Routledge. Longenecker, B.W. (red.). 2002. Narrative dynamics in Paul: A critical assessment. London: Westminster John Knox Press. 134 Marésa van der Walt, Willemien Marais and Johann C. de Wet Lotter, M. 2009. Effektiwiteit van narratiewe kommunikasie in prediking: ’n Gevallestudie. Ongepubliseerd. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. Merriam Webster Online. 2010. [Aanlyn]. Beskikbaar by: http://www.mer riam- webster.com/dictionary/preach [Besoek op 9 Augustus 2010]. Nell, I.A. 1986. Styl en (semiotiese) betekenis in enkele gedeeltes uit die Filippensebrief. Acta Academica – Reeks D (6): 79-83. Perelman, C. 1982. The realm of rhetoric. VSA: University of Notre Dame Press. Porter, H.M. s.a. Rhetorical strategies of idea development and organization: MSU Writing Center. [Aanlyn]. Beskikbaar by: http://www1.english.montana. edu/wc/Information/rhetorical-strategies. [Besoek op 2 September 2008]. Prickett, S. 2002. Narrative, religion and science: Fundamentalism versus irony, 1700 – 1999. Cambridge: Cambridge University Press. Rensburg, R.S. 1989. Vertikale kommunikasie: ’n Kommunikasiekundige ondersoek van die transendente ervaring. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika. Roberts, K.G. 2004. Texturing the Narrative Paradigm: Folklore and Communication. Communication quarterly 52 (2): 129-141. Scaife, R. 2004. A glossary of rhetorical terms with examples. [Aanlyn]. Beskikbaar by: http://www.uky.edu/AS/Classics/rhetoric.html [Besoek op 3 September 2008]. Simpson, B. 2009. Media and spiritual formation. [Aanlyn]. Beskikbaar by: http:// www.collidemagazine.com/article/277/media-and-spiritual-formation [Besoek op 28 Januarie 2010]. Snyman, A.H. 1986. Retoriese kritiek en die Nuwe Testament. Die bydraes van en verband tussen Kennedy en Perelman. Acta Academica – Reeks D (6): 1-15. Snyman, G. 2007. Die Bergrede van Matteus 5 – 7 en die koninkryksgelykeniss van Matteus 13 as interpretante van die Koninkryk van God. – ’n Teologies- kommunikatiewe ondersoek. Ongepubliseerde Magister-verhandeling. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. The Free Dictionary by Farlex. 2010. [Aanlyn]. Beskikbaar by: http://www. thefreedictionary.com/imperative [Besoek op 4 Augustus 2010]. Van Rensburg, J. en Zeeman, T. 1999. Kom, Skepper-Gees, Heilige Gees! Bloemfontein: Drufoma. 135 Aspekte van narratiewe kommunikasie as retoriese strategie binne prediking Western Washington University. s.a. Persuasive words, logical fallacies and intent signals. [Aanlyn]. Beskikbaar by: http://www.ac.wwu.edu/~gmyers/esssa/ rhetoric.html [Besoek op 2 September 2008]. WordNet 2.0. 2003. [Aanlyn]. Beskikbaar by: http://define.com/Parable [Besoek op 9 Augustus 2010].