untitled 185 KOMMUNIKASIEKANALE IN DIE VESTIGING EN ONTWIKKELING VAN ORANIA Communitas ISSN 1023-0556 2006 11: 185 - 191 Tienie Mynhardt* AGTERGROND EN KONTEKSTUALISERING Die Orania-nedersetting is geleë aan die Oranjerivier, sowat 250 km van Bloemfontein, 160 km van Kimberley en nagenoeg 700 km vanaf Pretoria. Dit plaas die dorp en ontwikkeling geografies bykans in die middel van Suid-Afrika. Die beplande skepping van soortgelyke nedersettings wat in die vooruitsig gestel word, sal in die rigting van die Weskus uitgebrei word. Orania is nié die Volkstaat nie. Orania is ’n eerste eksperimentele A f r i k a n e r-groeipunt. Dié groeipunt dien as “laboratorium” waar planne getoets word om die lewensvatbaarheid van dié benadering te bepaal sodat toekomstige uitbreidings die Orania-model prakties kan navolg. Orania is ’n ongeproklameerde, private Afrikanerdorp waar alle eienaars stemgeregtig is. Hulle belange word deur ’n verkose direksie van ses lede behartig. Orania akkommodeer - in hierdie stadium van sy ontwikkeling - ongeveer 700 inwoners. Onder die inwoners tel ook sommiges wat andersyds sou geëmigreer het. Die ontwikkeling is enig (en uniek) in sy soort, aangesien dit die Volkstaatideaal najaag en in totaal rondom die Afrikaner-kultuur sentreer. Die dorp word in Afrikaans bedryf en doelgerig en dinamies bestuur met ’n eie (Afrikaner) landbou-, handel-, nywerheid-, onderwys- en kultuur- a a n s l a g . Naas onlangse toevoegings (bv. ’n meule van R8 miljoen en ’n nuwe sakesentrum van R7 miljoen) is ’n woonwapark, museums, gastehuise en sportgeriewe geskep binne die oorhoofse infrastruktuur wat gekenmerk word aan goeie drinkwater, volop besproeiingswater en Eskomkrag. In totaal word ’n oppervlak van 75 vierkante kilometer ooreenkomstig die Orania-visie bestuur en bedryf. Ofskoon ’n ekodorp-omvorming die dorp nog ’n tyd sal neem, is Orania (op eie versoek) tot bewarea verklaar. Die bewarea-maatreëls gedy in die ontwikkeling met sy ruim, boomryke woonerwe, kleiner en groter landbouhoewes – waar meer as 20 000 pekanbome, duisende olyf-, amandel- en ander vrugtebome tussen * Dr Tienie Mynhardt woon sedert Januarie 2006 grootliks op Orania. 'n Doktorsgraad in Politieke Wetenskap is in 1989 deur die Universiteit van die Oranje-Vrystaat aan hom toegeken. - MEO IUDICIO - lusern, mielies en koringaanplantings verbou word. Orania was egter 15 jaar gelede ’n geplunderde, bouvallige en vergete dorpie. Orania se unikum ontlok ’n hele spektrum van reaksie by waarnemers en besoekers. Waargeneemde persepsies wat ontstaan, wissel aan die een kant vanaf dié van kuriositeit en vreemdheid en beweeg verby gewaarwordinge van rariteit en eienaardigheid tot by ’n ander (moontlik meer realistiese) pool van gevolgtrekking, nl. dat dié ontwikkeling in der waarheid op merkwaardige sosiale konstruksie berus. Die spesifieke sosiale weefsel teenwoordig, en die geformaliseerde konstruksie daarvan in Orania, groei uit ’n groot mate van eenstemmigheid onder die lede van die gemeenskap betreffende hul kollektiewe strategiese benadering tot: • die langtermyn-ekonomiese oorlewing van Orania; asook • die behoud en uitbou van die Afrikaner-kultuur as essensiële doelwit; • hul gemeenskaplike politiek-staatkundige oriëntasie; • ‘n praktiese sosiale en arbeidsetos wat inpas met hul kollektiewe waardestelsel is, en • gemeenskapsbemagtiging wat elke keer as uitdruklike motivering nagejaag word. Hierdie verskillende samestellende samelewingsdimensies vorm in die geheel die breë sosiologiese gang van – selfs dag-tot-dag – sake in Orania en wel op ’n heel spontane wyse. Dit bring ook mee dat die verskillende elemente daarvan se samehang enersyds ’n interafhanklike, maar andersyds ook ’n wedersydsbepalende dinamiek vorm. Die politiek-ekonomiese broosheid van die totale Orania-gemeenskapsvestiging en ontwikkelingsproses word in die eerste plek deur Oraniërs erken en begryp. Om hierdie rede word selfopgelegde politiek-ekonomiese riglyne deur die gemeenskap op hulself toegepas. Nieteenstaande ’n moontlike ekonomies-remmende resultaat wat uit hierdie riglyne kan volg, toon die Orania-ontwikkeling steeds merkwaardige ekonomiese groei. (Die gevandaliseerde spookdorpie en ’n aangrensende stukkie braakgrond is bv. 15 jaar gelede vir R1,85 miljoen aangekoop en die konserwatief gewaardeerde waarde van die Orania-ontwikkeling word tans ongeveer op R100 miljoen gestel.) Orania word volgens die gemeenskap se interpretasie van relevante voorsienings wat daarvoor gemaak word in die Suid-Afrikaanse Grondwet (Artikels 30, 185 (i) en 235 van Wet 108 van 1996) as die eerste ekonomies-kulturele manifestasie van ’n voorgestelde Afrikaner-selfbeskikkingsgroeipunt opgestel en bedryf. Die wenslikheid van verskillende vorme van aktiwiteite wat kollektiewe besluitneming v e rg, word daarom beoordeel binne ’n raamwerk bestaande uit die volgende oorwegings wat as kritiek beskou word: (i) Staatkundig-ekonomiese selfstandigheid; (ii) selfwerksaamheid; (iii) volhoubaarheid; (iv) gemeenskapsekonomie met ’n sterk sosio-maatskaplike bewustheid; en (v) die vermyding van polities-ekonomiese isolasie. 186 Die gemeenskap van Orania is bewus daarvan dat die langtermyninstandhouding van die gemelde raamwerk egter onmoontlik is indien dit nie met sensitiwiteit en begrip vir die eise van die makro-omgewing geskied nie. Kortom: Langtermynbestendigheid (ook met die oog op eksterne kragte en weerstande) word met elke besluit gekies bo meer opportunistiese korttermynwinsnajaging. Daar sal geredeneer kan word dat nóg meer bereik sou kon word as dit nie was vir bv. die beperking van finansiering slegs uit eie bronne, en die benutting – sover as moontlik – van slegs eie arbeid nie. Internasionale ervaring wys egter dat gemeenskapsbemagtiging wat op hierdie moeiliker wyse bewerkstellig word (nl. uitsluitlike benutting van die gemeenskap se kollektiewe bronne sover haalbaar) tot meer permanente selfopheffing en gesonde gemeenskapsontwikkeling lei. Hierdie beginsel stel so byvoorbeeld weer deurlopende groter, intern-gerigte kommunikasie- eise. Die onlangs waarneembare opswaai in die gewildheid van Orania as vestigingsopsie illustreer terselfdertyd die positiewe sowel as die negatiewe wat deur die Orania- benadering geïmpliseer word. Tesame met die groeiende belangstelling verskyn daar ook negatiewe kommunikasie-eise op die radarskerm. Die rasionaal agter hierdie stelling is dat terwyl toename in belangstelling as korttermynwins verreken kan word, moet die belangstelling verkieslik primêr op trekfaktore berus (dus: vereenselwiging met die selfstandigheid-selfwerksaamheids- volhoubaarheidsideale) en nie op drukfaktore nie (bv. kriminaliteit- en misdaad- ontvlugtingspogings; en heimlike strewes by nuwelinge om hulself en hulle belange op Orania te kom isoleer). Drukfaktore impliseer so korttermynwins en moontlike langtermyn-afvalligheid en onvoorspelbaarheid. Dit beteken ’n moontlike inherente gebrek aan volgehoue toegewydheid. Trekfaktore impliseer weer moeisamer (tydsamer), kleiner, korttermyngroei – maar bestendiger langtermynvoordele en -stabiliteit vir Orania. Toewyding is tesame met plaaslik geïnspireerde kreatiwiteit die spreekwoordelike X- faktor vir die langtermynsukses van Orania. KOMMUNIKASIEMODEL: ORANIA Die voorafgaande strategies/taktiese raamwerk – wat op filosofiese oortuiging berus – en wat ook die operasioneel-funksionele “moets en moenies” rig – plaas Orania se kommunikasiebenadering in konteks. Nie–verbale kommunikasie word aangewend om konstante, simboliese ondersteuning te verleen aan die ideaal dat Orania ’n suksesvolle groeipunt van ’n voorgestelde Volkstaat moet wees. ’n Dorpsvlag en dorpsembleem wat geskep is, die dra van oranje klere, T-hemde en pette wat die embleme vertoon, ens. is ter sake. Ook die plaaslike Ora-ruilmiddel vertoon eie Afrikanersimboliek op die note. Intern-gerigte kommunikasie Die kritieke sleuteldoelwitte met die intern-gerigte kommunikasie sentreer rondom gemeenskapsopvoeding, konsolidasie, motivering, vertolking, ingeligtheid en gemeenskapsdeelname op alle vlakke van die samelewing sover haalbaar. 187 Die sleuteldoelwitte beklemtoon ook die noodsaaklikheid vir volgehoue breë konsensus binne die gemeenskap as dié voorwaarde tot langtermynbemagtiging en opheffing. Konsensus is egter nooit ’n statiese toestand nie. Dit vereis deurlopende wisselwerking tussen alle vlakke van die gemeenskap en wel ook aangesien ’n gemeenskap – soos Orania – sy vordering binne ’n deurlopend veranderende omgewing moet bewerkstellig. Die sleuteldoelwitte (vir interne kommunikasie) word met die volgende kommunikasiekanale aangespreek: (i) “DORPNUUS” - ’n gemeenskapskoerant wat twee tot drie keer per maand verskyn en veral gerig is daarop om inwoners in te lig oor gebeure in die dorp. Hoewel die “Dorpnuus” deur die Dorpsraad geborg en uitgegee word, kan enige inwoner artikels of briewe voorlê vir publikasie. (ii) Dorpsraadkennisgewings - bied hoofsaaklik inligting oor dienslewering, maar dek ook onderwerpe soos omgewingsbewaring, dorpsverfraaiing, troeteldierbeheer of selfs verlore goedere, ens. (iii) Inligtingsessies vir nuwe intrekkers - een keer per kwartaal woon nuwe intrekkers op twee agtereenvolgende Saterdae inligtingsessies by waar hulle op hoogte gebring word van die dorp se geskiedenis, arbeidsetos, infrastruktuur, gemeenskapsaktiwiteite en algemene doelwitte. Die sessies is interaktief en ruim tyd vir vrae en gesprekvoering word gegee. (iv) Gemeenskapsvergaderings - belangrike gemeenskapaksies van algemene belang word gewoonlik voorafgegaan deur gemeenskapsvergaderings waarna alle inwoners uitgenooi word en waar elkeen die geleentheid kry om insette te lewer. (v) Gemeenskapsradio - “Radio 100” het as gemeenskapaksie inwoners op hoogte gehou van verwikkelinge op die dorp en sosiale interaksie bevorder. Die radiostasie is beman deur vrywilligers uit die gemeenskap wat as omroepers opgetree het. Die radiostasie is in November 2005 deur die Onafhanklike Kommunikasie-Owerheid van Suid-Afrika (Okosa) gesluit, maar die gemeenskap is uitgenooi om weer aansoek te doen vir ’n uitsaailisensie. (vi) Tans word die implementering van ’n reeds beplande breëband- internetfasiliteit, Orania Internet Diensverskaffer (OIDV), getoets by die gemeenskap. OIDV se missie is om ’n gemeenskapsorganisasie te word wat elektroniese kommunikasie tussen lede van die gemeenskap onderling (intranet), en die gemeenskap en die buitewêreld (internet) op ’n bekostigbare wyse moontlik maak. Die kommunikasiemedium is ’n koordlose breëbandstelsel wat dit moontlik maak om persone met mekaar in verbinding te bring sonder die gebruik van landlyne. Die verbinding na die buitewêreld sal d.m.v. ’n Diginetlyn van Telkom bewerkstellig word 188 wat 24 uur per dag kontak met die internet sal verseker. Die kostestruktuur is gebaseer op die hoeveelheid data wat die gebruiker oor die netwerk wil s t u u r. Deur die beskikbaarmaking van ’n bekostigbare kommunikasiemedium poog dié beplande gemeenskapsorganisasie om eerstens onderlinge ekonomiese aktiwiteite in die gemeenskap te bevorder en tweedens om dit moontlik te maak vir die gemeenskap om sy produkte en dienste aan die buitewêreld te bemark en te verkoop. Gedagtig aan die snelgroeiende impak van ’n ekonomies-globaliserende wêreldbevolking, waar gemeenskappe wat opheffing benodig nog verder agtergelaat word, besef Orania die belangrikheid daarvan dat die OIDV deurgevoer móét word. Orania is moontlik meer gereed as die meeste ander gemeenskappe van dieselfde demografiese omvang om lokalisering suksesvol met globalisering te koppel. (vii) Inligtingsforum - dié forum vergader weekliks om gebeure van die afgelope week te evalueer en op hoogte te kom van gebeure die komende week. Hoewel hierdie vergaderings hoofsaaklik gerig is op persone wat betrokke is by inligtingsdienste (toerisme, publikasies, ens.) is dit ’n oop vergadering wat deur enige belangstellende bygewoon kan word. Kommunikasie na buite Hierdie kommunikasie-aktiwiteite fokus onder meer op die bekendstelling van Orania; volgehoue verduideliking en perspektiefstelling (en persepsie-skepping) om bestaande wanpersepsies teë te werk; en om isolasie in alle vorme af te weer (polities, ekonomies, nuutste inligting, nuwe insigte en denkpatrone, tegnologiese ontwikkeling, ens). Die volgende kommunikasiekanale is geskep: (i) Orania webwerf - die webwerf verskaf inligting oor Orania t.o.v. ideologiese onderbou, ontwikkeling, ekonomiese bedrywighede, instellings en projekte. Die webwerf ontvang gemiddeld 3000 besoeke per maand. (ii) “VOORGROND” - Orania-inligtingstydskrif wat vier keer per jaar verskyn en veral ondersteuners van buite op hoogte hou van gebeure in Orania. (iii) Internetgespreksgroep - “Oraniagesprek” is ’n internetgespreksgroep met ongeveer 100 ingetekende lede. Hierdie gesprek vind deurlopend op die internet plaas. Ondersteuners van letterlik dwarsoor die wêreld kan inteken by oraniagesprek-subscribe@yahoogroups.com en deelneem aan gesprekke oor aktuele sake wat Orania raak. (iv) Elektroniese nuusbrief - een keer per maand word ’n elektroniese nuusbrief aan meer as 1 000 belangstellendes en ondersteuners uitgestuur. 189 (v) Mediaverklarings - die Orania-beweging reik deurlopende mediaverklarings uit oor belangwekkende gebeure op die dorp. Hierdie mediaverklarings word ook op die webwerf geplaas. (vi) Besigtigingstoere - drie toergidse vergesel besoekers op aanvraag op ’n toer deur Orania. (vii) Belsentrum - die Orania-beweging doen landswye werwingswerk deur middel van ’n belsentrum. Belangstellendes word telefonies uitgenooi om by die beweging aan te sluit. (viii) Bemarkings DVD - ’n DVD waarin ’n oorsig gegee word van die beginsels waarop Orania berus (bv. nie regs, rassisties of isolisties nie) en ’n algemene beeld wat die lewenswyse en ontwikkeling op Orania uitbeeld, word in die bemarking gebruik. WA A R D E B E PALING EN VO O RTGESETTE OPKNAPPING VAN DIE ORANIA-GEMEENSKAPSTRUKTURE Die beplanning en aanvanklike grondwerk is reeds afgehandel om alle gemeenskapstrukture weer te ondersoek (voorraadopname), en opgedateerde doelwitte na binne en na buite - waar dit benodig word - op te skerp. Die moontlike nuwe kombinasies van strukture - vir groter effektiwiteit - sal ook geformuleer word. Die kommunikasie-aktiwiteite sal in totaal ook hier weer onder die loep geneem word. Metodes om die gemeenskap by hierdie opskerpingsaksie te betrek is in plek aangesien só 'n opknappingsoefening met deelname van die gemeenskap moet geskied, want daarsonder is dit 'n futiele oefening. Nieteenstaande aanvanklike, ernstige eksterne weerstande is die Orania-ontwikkeling ongetwyfeld besig om te slaag. Dié gemeenskap het bv. uit eie bronne alleen 'n kommunikasiekragveld in en om hulle geskep waarvan die positiewe resultate heeltemal buite verhouding met hulle demografiese omvang is. Die persepsuele redusering van die ontwikkeling deur sommige kritici as synde “bloot die tydelike, laaste stuiptrekkings van 'n egoïstiese en uitsluitende Afrikanerbenadering te wees” - is deur goeie, stelselmatige kommunikasie-aksies die stryd aangesê. Die resultate hiervan is meer as bemoedigend. Eerlike, goedbeplande en deurlopende interne kommunikasie-aksies - in lyn met die besef dat breë konsensus in die gemeenskap nooit 'n (voltooide) afgehandelde proses in ’n dinamiese werklikheid kan wees nie - lei onder meer daartoe dat daar in Orania nie met die verlammende probleem van “dieselfde kerngroepie mense wat altyd ál die werk doen” gelaat word nie. Daar is interne inklusiwiteit, breë betrokkenheid en kollektiewe motivering. Normalisering van Orania se beeld na buite het in 'n groot mate omstredenheid vervang ofskoon die gemeenskap gedwing was/word om telkens die moeilike, beginselgerigte roete te volg. Weerstande sal egter altyd teenwoordig wees en dit word as ’n realiteit beskou waarmee gehandel moet word. 190 Die suksesvolle koppeling van deurdagte fundamentele beginsels met die alledaagse praktyk (d.m.v. volgehoue kommunikasie) lei tot 'n ongeforseerde funksionering van die gemeenskap waarin kreatiewe oplossings gedy. Internasionaal bekende en gerekende ontwikkelingkundiges huldig die mening (M-Net- “Carte Blanche” Oktober 2002, dr. Norman Reynolds, dr. Johan van Zyl) dat die state sowel as die nie-regeringsorganisasies van Suider-Afrika net eenvoudig nóóit die reuse opheffingstaak wat vir die sub-kontinent vereis word, alleen sal kan oorbrug nie. Ekonomiese opheffing kan nét slaag, bevind hulle, waar gemeenskappe basies vólle verantwoordelikheid neem vir die grootste deel van hulle ekonomiese opheffing en ontwikkelingsbehoeftes. Dié kundiges beskryf die Orania- ekonomiese model as een van die mees waardevolle gemeenskapsgebaseerde bates in die land waarby ander gemeenskappe - vir wie hulle eie opheffing primêr is - kers kan en moet opsteek. Orania het die punt bereik waar daar in 'n volgende fase van die ontwikkelingsproses inbeweeg kan en moet word. Belegging is egter kritiek, maar ironies genoeg mag belegging ook nooit vir Orania in 'n kollektiewe gemaksone inlei nie. Die gemeenskap is ook gereed vir interaktiewe aksies om andere by te staan. 191