Microsoft Word - 1976 2-6 BS ondersoek na verbruikerbeeld v handelsbanke in SA.doc


'N BEDRYFSIELKUNDIGE ONDERSOEK NA DIE  

VERBRUIKERBEELD VAN HANDELSBANKE IN SUID-AFRIKA 

 

 

H.I.J. SPOELSTRA
*
 

 

DEPARTEMENT BEDRYFSIELKUNDE  

UNIVERSITEIT VAN SUID-AFRIKA 

 

 

SUMMARY 

 

In this investigation the hypothesis is tested that every 

commercial bank has a unique and differentiated consumer 

image. A factor analytical study is performed to develop a 

semantic differential by means of which consumer image scales 

can be established. The results indicate that commercial banks 

can be evaluated in terms of 14 dimensions. The hypothesis is 

thus confirmed and a method is developed which can be applied 

to a variety of research objectives.  

 

 

PROBLEEMSTELLING 

 

'n Interessante verskynsel van die afgelope paar dekades is die ontwikkeling van 'n 

belangstellingsterrein of vakgebied waarna moontlik verwys kan word as die wetenskap van 

die verbruiker. Daar kan vandag min twyfel oor bestaan dat akademiese en professionele 

belangstelling in die verbruiker aan die toeneem is en dat sekere metodes, empiriese prose-

dures en teorieë eie aan die "verbruikerwetenskap", in ‘n toenemende mate ontwikkel word.  

Die verbruikersielkunde as subveld van die bedryfsielkunde, het die verklaring en 

voorspelling, asook die beïnvloeding van verbruikergedrag as oogmerk (Pottas, 1975, p. 18). 

Terwyl die personeelsielkunde en die ergonomika primêr betrokke is by die gedrag van die 

individu as produsent, is die verbruikersielkunde betrokke by die gedrag van die individu as 

verbruiker. Voorheen is na die veld verwys as advertensiesielkunde veral in die boeke van 

pioniers soos Walter Dill Scott en H.L. Hollingworth. Waar die vroeër oriëntasie die klem laat 

val het op inligtingvloei van die produsent na die verbruiker, is die verbruikersielkunde meer 

onlangs uitgebrei ten einde ook tweerigtingkommunikasie tussen produsent en verbruiker in 

te sluit. Sistematiese ondersoeke na die behoeftes en motiewe van verbruikers is vir die eerste 

keer eers ná 1920 van stapel laat loop as 'n metode om sekere produkeienskappe waarin die 

verbruiker belang stel, te beklemtoon (Anastasi, 1964, 251).  

                                                 
*
 Tans by die Skool vir Bedryfsleiding, Universiteit van Suid-Afrika 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

2 

Die menslike geestesprosesse en die optredes waartoe dit lei, word beinvloed deur 

kognisies, dit wil sê, ons kennis beïnvloed ons gedrag. Kognisie of kennis bestaan uit idees, 

opvattinge, waarnemings, houdings, menings, waardes en gelowe. Markin (1974, 121) beskou 

die woord "kognisie" of kennis, nie as geskik om kennis in 'n verbruikersituasie te 

verteenwoordig nie. Beeld sou in werklikheid 'n beter begrip (konsep) wees, aangesien dit 

verwys na die verpersoonlike, geïnternaliseerde en gekonseptualiseerde begrip van wat ons 

weet. Beeld is subjektiewe kennis. Kennis impliseer geldigheid en waarheid. Beeld is dus die 

konnotasie wat ek glo om waar te wees. Verbruikers is geneig om vele beelde te skep. Hierdie 

beelde affekteer hul gedrag, houdings, waardes en predisposisies. 

Beeld ontstaan as 'n geesteskonstruk na gelang van enkele geselekteerde indrukke uit 

die stroom van totale indrukke waarmee die verbruiker daagliks in aanraking kom. Dit 

ontstaan deur middel van 'n skeppende proses waarin geselekteerde indrukke uitgebrei, 

opgetooi en georden word (Markin, 1974, p.122). Beelde is gevolglik invloedsisteme wat aan 

(objektief verifieerbare) kennis verwant mag wees of nie mag wees nie. (Laasgenoemde veral 

waar subjektiewe waardeoordele die beeld voltooi.) Verbruikers skep beelde van winkels, 

artikels, handelsmerke en persone waarmee hulle in die mark te make kry. Dit is nie die 

objektiewe en feitelike wat selektiewe gedrag tot gevolg het nie, maar dit wat verbruikers sub-

jektief dink of voel aangaande 'n produk, handelsmerk of organisasie.  

Die vae en subjektiewe aard van die konsep (beeld) was tot dusver geensins bevorderlik 

vir die ontwikkeling van die kennis daaromtrent nie. Die twyfelagtige en vormlose aard van 

die konsep het die nut van menige studie baie verlaag.  

Die probleem van hierdie ondersoek is dan ook in die eerste plek gesetel in die 

definiëring van die beeldkonsep in terme van 'n bedryfsielkundige benadering. Dit is van min 

waarde om die konsep te definieer indien die konstruk nie ook uiteindelik waarde het nie. In 

ons geval lê die waarde van die verbruikersielkundige konsep in die vermoë daarvan om 

menslike gedrag as verbruiker van goedere en dienste in ons moderne en gekompliseerde 

samelewing te kan verklaar.  

Beeld in sy korrelasie met gedrag en instrumenteel tot gedrag, is dus ons veld van 

belangstelling.  

In die literatuur word verskeie benaderings tot die konsep, beeld, aangetref. Die 

benaderings wissel van 'n persoonlikheidsbeskouing van die konsep aan die een kant tot 'n 

neiging om beeld as 'n houding te definieer aan die ander kant. Deur die term verbruikerbeeld 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

3 

te gebruik, word die klem verskuif na die verbruiker en verbruikergedrag. In hierdie studie 

word verbruikerbeeld as 'n weerspieëling van die houding van 'n individu teenoor die 

organisasie gesien en dit bevat 'n sterk affektiewe, gedrags- en kognitiewe element.  

Deur die beskouing van beeld as 'n funksie van houdings wat in oortuiginge 

gemanifesteer word, te huldig, beteken dat een van die talle houdingsmetingstegnieke vir ons 

doel van meting aangewend kan word. Die semantiese differensiaal wat deur Osgood (1952) 

as maatstaf van betekenis ontwikkel is, is reeds in talle soortgelyke gevalle ingespan met meer 

of minder sukses. In Suid-Afrika blyk daar 'n groot gebrek aangaande literatuur ten opsigte 

van beeld en beeldmeting te wees. Uit oorsese publikasies oor die konsep blyk dit dat 

beeldnavorsing in die verlede met vele kritiek te make gekry het. Daar word dan ook baie 

teenstrydighede in die literatuur aangetref.  Afgesien van teenstrydighede in definiëring word 

die geldigheid van die meetmiddels in baie gevalle bevraagteken. Die konsep is by meer as 

een geleentheid gekritiseer as 'n stereotipe en dat response op een dimensie die response op 

die volgende dimensies van beeld kan voorspel (Tucker, 1961). 

 

NUT VAN DIE ONDERSOEK 

 

Beeldinligting kan vir een of meer van die volgende doelwitte aangewend word: 

(Mindak, 1961; Kelly en Stephensen,1964).  

- Die onderneming kan deur beeldinligting kennis neem van die sukses of 

mislukking van sy huidige kommunikasiemetodes.  

- Die prestasiegedrag van mededingers in die mark kan deur beeldinligting bekom 

word.  

- Beeldinligting kan behulpsaam wees in die formulering van reklamestrategie.  

- Opvolgstudies kan houdingsverandering jeens die organisasie weerspieël.  

- Inligting wat voorheen vaag en onduidelik was en op subjektiewe raaiwerk berus 

het, word gekwantifiseer.  

- Swak areas in die huidige reklame- of bemarkingsopset kan deur beeldinligting 

blootgelê, ontleed en herbeplan word.  

 

Met ander woorde, die inligting deur beeldnavorsing bekom, kan gebruik word vir:  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

4 

- beplanning en reklamestrategie;  

- effektiwiteitsevaluering en interne reorganisasie en  

- as kommunikasiemedium vir beter wedersydse begrip tussen verbruiker en 

produsent.  

Die vyf handelsbanke in Suid-Afrika wat by hierdie studie betrek is, is almal reeds goed 

gevestigde instellings wat geruime tyd reeds aktief in die volkshuishouding opereer. Al vyf 

hierdie banke, te wete Volkskas, Barclaysbank, Standardbank, Nedbank en die Trustbank, 

maak aktief van radio-, koerant- en tydskrifreklame gebruik.  

Gevolglik behoort dit te verwagte te wees dat elkeen van hierdie organisasies met 

sekere houdinge, voorkeure, aksies, beleidsrigtings en groepe geassosieer sal word, dat elkeen 

unieke beeld by die verbruiker sal beskik en dat aspekte van hierdie beeld bepalend in sy 

keuse en of verandering van keuse van 'n handelsbank sal wees.  

Indien 'n metode ontwikkel kan word wat tot die beskikking van hierdie organisasies 

gestel kan word, is die moontlikhede daarvan onbeperk. Dit maak deure tot marksegmentasie, 

herhaalde opvolgstudies en die evaluering van strategie op gereelde basis moontlik, mits die 

meetmiddel sodanig is dat dit hom daartoe leen.  

Afgesien van al die suiwer tegniese moontlikhede van die studie bly die uiteindelike nut 

gesetel in die wese van die bedryfsielkundige benadering, naamlik dat 'n studie van hierdie 

aard ons kennis van die verbruiker in interaksie met sy omgewing en met die produsent van 

sekere essensiële dienste sal toelig. Dit kan slegs tot diens van ons samelewing wees 

aangesien die wedersydse begrip sowel die verbruiker as produsent sal stimuleer tot 

maksimale doeltreffendheid in die organisasie en ook tot die bevordering van verbruiker-

tevredenheid.  

 

DOELSTELLING 

 

Die hipotese word gestel dat elke bank oor 'n unieke, gedifferensieerde verbruikerbeeld 

beskik wat uit sekere veralgemeenbare eienskappe bestaan wat nuttig in terme van die be-

markingsproses aangewend kan word.  

Voordat hierdie hipotese ondersoek kan word, moet oorgegaan word tot die 

ontwikkeling van 'n maatstaf van handelsbankverbruikerbeeld in Suid-Afrika. Gevolglik 

bestaan die ondersoek uit twee fases. In die eerste fase word die metode waarvolgens die 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

5 

maatstaf ontwikkel is, bespreek, en in die tweede fase word die metode van toepassing van die 

gefinaliseerde maatstaf uiteengesit.  

 

METODE VAN ONDERSOEK 

 

FASE 1 

 

Die metingstegniek  

Daar is besluit om van 'n semantiese differensiaal as tegniek in die meting van 

verbruikerbeeld gebruik te maak, en wel om die volgende redes:  

- In die sielkunde en bemarkingswese is die semantiese differensiaal as navorsings-

tegniek al dikwels met vrug benut. Die tegniek is oorspronklik deur Charles E. Osgood 

(1957) ontwikkel as 'n instrument om die konnotatiewe betekenisse van konsepte te 

meet. Die semantiese differensiasieproses lokaliseer die konnotatiewe betekenis van 'n 

konsep in 'n multidimensionele semantiese ruimte. Die term "semantiese differensiaal" 

verwys na enige versameling gradeerskale wat deur teenoorgestelde byvoeglike 

naamwoorde geanker is.  

- Volgens Nunnally (1967, p.535) behoort die semantiese differensiaal nie as 'n 

spesifieke toets beskou word nie, maar as 'n baie buigbare benadering ten einde metings 

van houdings en ander sentimente te bekom. Volgens Nunnally kan feitlik enige konsep 

met behulp van 'n semantiese differensiaalskaal gradeer word, byvoorbeeld Winston 

Churchill, perskeroomys, vakbonde, motorkarre, ensovoorts. Dit is volgens Nunnally 'n 

uiters bruikbare metode vir die meet van houdings en ook verskillende fasette van 

houdings.  

- Heelwat studies is reeds gedoen waar die semantiese differensiaal aangewend is om die 

houding van proefpersone jeens sekere konkrete en abstrakte objekte te bepaal. Een van 

Osgood se kollegas, Tannenbaum, was een van die eerste om 'n skaal saam te stel ten 

einde die houdings van persone jeens sekere konsepte te bepaal (Tannenbaum, 1956), 

alhoewel Stagner en Osgood (1946) reeds in 1946 die metode gebruik het om 

verandering in houdings jeens sekere stereotipes gedurende die Tweede Wêreldoorlog 

te meet. Meer onlangs, en nader aan die verbruikersielkunde, is die differensiaal ook 

nuttig aangewend deur Kjeldergaard (1961), Brinton (1961) en Barclay (1964) in die 

meet van houdings jeens objekte in die omgewing, terwyl Mindak (1961), Kunkel en 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

6 

Berry (1968), Bridwell (1968) Clevenger et.al. (1965) en Lamone (1967) enkeles was 

wat spesifiek daarin geïnteresserd was om verbruikerbeeld met behulp van die 

semantiese differensiaal te meet.  

In wese bestaan die semantiese differensiaalmetode uit herhaalde beoordelings van die 

een of ander konsep teen pare beskrywende byvoeglike naamwoorde op 'n sewepuntskaal. Die 

aantal punte op die skaal varieer gewoonlik van 5 tot 9, byvoorbeeld:  

goed - - - - - - - sleg  

Van die linkerkant af sal elk van die posisies op die skaal dus verteenwoordigend wees 

van uiters goed, baie goed, taamlik goed, gemiddeld, taamlik sleg, baie sleg en uiters sleg.  

Die kenmerke van voorwerpe in ons omgewing word grootliks deur middel van 

byvoeglike naamwoorde in ons spreek- en skryftaal oorgedra. Die kenmerke van 'n persoon 

word gevolglik getipeer as vriendelik, saggeaard, intelligent, terwyl 'n regering se buitelandse 

beleid as oud-modies, stagnant of diskriminerend beskryf kan word. Dit kan geredelik aanvaar 

word dat die betekenis van dinge grootliks deur soortgelyke byvoeglike naamwoorde 

oorgedra word en dat hierdie woorde ook aangewend kan word om verskeie fasette van 

betekenis te meet. Die metode om teenoorgesteldes van byvoeglike naamwoorde as "ankers" 

van gradeerskale te gebruik, is gevolglik baie nuttig aangesien die meeste byvoeglike 

naamwoorde direkte teenoorgesteldes het.  

Die primêre faktore word gewoonlik verteenwoordig deur die gradeerskale alhoewel 

daar in sommige studies deur middel van faktoranalise meer as drie faktore gevind is 

(Nunnally, 1967).  

Die algemeenste faktor is dié van evaluasie wat gedefinieer word deur pare byvoeglike 

naamwoorde wat met 'n waarde-oordeel verband hou, byvoorbeeld:  

 goed - sleg    eerlik - oneerlik  

Die evaluasiefaktor is verreweg die sterkste faktor in semantiese differensiaalskale. Dit 

laat inderwaarheid min variasie oor vir definiering deur die ander faktore. Die negatiewe-

positiewe dimensie van betekenis word veral deur hierdie faktor ontleed en min byvoeglike 

naamwoorde beskik nie oor 'n negatiewe of positiewe element nie. Die evalueringsfaktor is 

dan ook dié een wat die term houding veral definieer. Skale wat verteenwoordigend is van die 

evaluasiefaktor behoort dus goed te dien as maatstaf van geverbaliseerde houdings.  

Die tweede faktor is dié van potensie en hou verband met woorde soos:  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

7 

 hard - sag    groot - klein  

'n Derde faktor wat algemeen voorkom, is aktiwiteit en kan die volgende insluit: 

aktief   -   passief  vinnig  -  stadig 

Dit is moeilik om skale te vind wat die laaste twee faktore duidelik meet.  Gewoonlik 

korreleer selfs die beste skale vir die meet van potensie en aktiwiteit ook met die 

evalueringskale. 

Opstel van die aanvanklike vraelys  

'n Voorlopige vraelys is saamgestel deur semantiese differensiaalitems wat voorheen 

deur ander navorsers in beeldnavorsing gebruik is, saam te voeg.  

Die gekeurde items is aangevul met enkele items wat eie aan Suid-Afrikaanse 

omstandighede behoort te wees. Die items is met behulp van taalkundiges in sowel Afrikaans 

as Engels so noukeurig moontlik gestel. Die items is met verantwoordelike bankamptenare 

bespreek en in enkele gevalle is van die items uitgelaat en/of aanvullings tot die lys gedoen. 

Die uiteindelike lys het uit 66 items bestaan.  

Die gegewens  

Die 66 aanvanklike items is in 'n tweetalige vraelys saamgevat en vir voltooiing aan 'n 

aantal proefpersone in Johannesburg en Pretoria gepos.  121 Vraelyste is uiteindelik verwerk. 

Die proefgroep het bestaan uit 50 bankamptenare (10 per bank) terwyl die res uit dosente, 

staatsdiensamptenare en derdejaar Unisa-studente bestaan het.  

Die faktoranalise  

Die gegewens is onderwerp aan 'n faktoranalise waaruit veertien onafhanklike faktore 

geisoleer is. Uit die faktore word die afleiding gemaak dat die proefpersone banke in terme 

van veertien dimensies evalueer wat soos volg omskryf is:  

Faktor 1:  Dinamiek  

Faktor 2:  Doeltreffendheid  

Faktor 3:  Lojaliteit  

Faktor 4:  Produktiwiteit  

Faktor 5:  Lokalisasie  

Faktor 6:  Verbruikergerigtheid  

Faktor 7:  Gebruikerassosiasie 

Faktor 8:  Gemeenskapsgerigtheid   

Faktor 9:  Atmosfeer  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

8 

Faktor 10:  Geslagsverbintenis  

Faktor 11:  Fisiese aantreklikheid  

Faktor 12:  Finansiële toerekenbaarheid  

Faktor 13:  Prys van dienste  

Faktor 14:  Sekuriteit 

 

FASE II 

 

Die finale vraelys  

Aan die hand van die statistiese gegewens uit die faktoranalise verkry, is die finale 

vraelys saamgestel met die volgende kenmerke:  

- Slegs skale met ladings van >0,70 is vir die samestelling van die finale skale in 

aanmerking geneem.  

- Negentien skale is uiteindelik geselekteer en in een vraelys onderaan die name van 

elk van die vyf  handelsbanke aangebring. (Vergelyk Figuur 1).  

- Die skale is verteenwoordigend van sewe van die veertien faktore wat deur die 

faktoranalise identifiseer is. Dié sewe is:  dinamiek, doeltreffendheid, lojaliteit, 

produktiwiteit, gebruikerassosiasie, atmosfeer en prys van dienste.  

- Die vraelys is van deeglike instruksies in albei landstale voorsien.  

- Die volgende demografiese inligting is van elke proefpersoon aangevra:  naam, 

adres, beroep, huistaal, geslag en of hy ‘n kliënt van een van die betrokke han-

delsbanke is.  

Samestelling van die steekproef  

Die steekproef is saamgestel deur gebruik te maak van die "Rand and Pretoria 

Directory" van 1974.  Uit die afdeling vir Pretoriase straatadresse, is 750 name op ewekansige 

wyse getrek en aan elke persoon 'n vraelys gepos. Die vraelyste is in Augustus 1975 

uitgestuur.  

Van die 750 vraelyste is 159 terugontvang, dit wil sê, 21,2 % van die aanvanklike 

steekproef. Van die 159 kon egter slegs 103 vraelyste gebruik word, vanweë foute wat deur 

proefpersone gemaak is en wat kodering van die inligting onmoontlik gemaak het. Die finale 

proefgroep verteenwoordig dus 13,73 % van die oorspronklike proefgroep. 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

9 

 

1. dinamies/dynamic ---------- staties/static 

2. verbeeldingryk ---------- verbeeldingloos 

 imaginative    unimaginative 

3. modern/modern ---------- oud-modies/old fashioned 

4. aktief/active  ---------- passief/passive 

5. aantreklik  ---------- onaantreklik 

 attarctive    unattractive 

6. opwindend  ---------- vervelig 

 exiting     boring 

7. progressief  ---------- stagnant 

 progressive    unprogressive 

8. unieke dienste  ---------- slegs gewone dienste 

 unique services   only the usual services 

9. groei vinnig  ---------- groei stadig 

 growing fast    growing slowly 

10. deeglik/thorough ---------- nalatig/negligent 

11. effektief  ---------- oneffektief 

 effective    ineffective 

12. betroubaar  ---------- onbetroubaar 

 reliable    unreliable 

13. versigtig  ---------- agterlosig 

 careful     careless 

14. patrioties  ---------- onpatrioties 

 patriotic    unpatriotic 

15. Afrikaans  ---------- Engels/English 

16. baie dienste  ---------- min dienste 

 many services    few services 

17. gesofistikeerd  ---------- ongesofistikeerd 

 sophisticated    unsophisticated 

18. informeel  ---------- formeel 

 informal    formal 

19. nie duur nie  ---------- duur 

 inexpensive    expensive 

 

 

      Figuur 1.  Lys van skale in finale vraelys opgeneem 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

10 

Verwerking van gegewens  

Vir die doel van die hipotese van die ondersoek is die volgende verwerkings uitgevoer: 

Ten einde 'n profiel van elke bankinstelling te kan saamstel en die betekenisvolheid van 

verskille binne groepe te kon evalueer, is rekenkundige gemiddeldes ( X ) asook 

standaardafwykings (s) en variansies (s
2
) per skaal per bank ondersoek. 

Om te kon bepaal of die verskille binne die groepe betekenisvol is al dan nie, is 

eenrigtingvariansie-ontledings uitgevoer.  Betekenisvolle verskille bestaan in hierdie geval 

waar F >2,4 (Winer, 1971, p.868).  Aangesien 'n betekenisvolle F-waarde slegs 'n aanduiding 

gee dat daar wel betekenisvolle verskille tussen twee of meer van die banke op die spesifieke 

skaal bestaan, is die lokalisasie van die verskille verder ontleed deur gebruik te maak van die 

meervoudige vergelykingstoets van Scheffé.  

Die Scheffé-metode is volgens Ferguson (1966, p.297) maklik om toe te pas en word 

nie ernstig beïnvloed deur aannames van normaliteit en homogeniteit van variansies nie, 

behalwe as die variansieverskille baie groot is. Aangesien A-posteriori-hipoteses ondersoek 

word, d.w.s. die rigtings van verskil word nie vooraf gestel nie, is F-waardes vir betekenis-

volheid op die 5 % en 1 % vlak ten opsigte van die meervoudige vergelykingstoets van 

Scheffé in hierdie geval onderskeidelik 9,56 en 13,44.  

In die laaste fase van die ondersoek is 'n meervoudige groep diskriminantanalise 

(Unisa-rekensentrum, 1975) uitgevoer. Die doel van hierdie analise is om te bepaal of elke 

bank 'n unieke profiel het. Dit is 'n kragtige metode om elke beeld van elke handelsbank te 

toets en is 'n finale aanduiding van die ware onafhanklikheid van verbruikerbeeld van elke 

handelsbank.  

Aangesien die inligting wat uit die vraelyste voortspruit, tot die nadeel van sommige 

van die handelsbanke mag strek, word aan elk van die instellings met 'n kode aangedui. Daar 

word dus vir die doeleindes van die res van die bespreking na banke 1, 2, 3, 4 en 5 verwys. 

Dié volgorde is op ewekansige basis aan elke bank toegeken. 

 

Resultate en gevolgtrekkings  

In hierdie studie is die volgende vasgestel:  

- Ten opsigte van die dinamiekfaktor (items 1 tot 9) het bank 4 ten opsigte van elke item 

'n hoër gradering gekry. Bank 4 is dus dinamieser, verbeeldingryker, moderner, ak-

tiewer, aantrekliker (behalwe as bank 2), opwindender en progressiewer, met unieker 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

11 

dienste en besig om vinniger te groei as enige van die ander vier mededingers.  Banke 2 

en 3 is dinamieser as bank 5, asook verbeeldingryker as bank 5.  Bank 5 is ook minder 

verbeeldingryk as bank 1.  Bank 2 is moderner as banke 1, 3 en 5.  Bank 3 is ook 

moderner as bank 5, wat dus die mees oud-modiese bank is.  So is bank 5 ook 

onaantrekliker as banke 2 en 4.  Bank 2 lê deurgaans tweede op al die skale in die 

dinamiek-dimensie en word as opwindender as minstens bank 5 beskou. Laasgenoemde 

is ook verveliger as bank 3.  Bank 5 blyk ook, afgesien van bank 4, meer stagnant te 

wees as bank 2.  Laasgenoemde het unieker dienste as bank 5.  

- Met betrekking tot die doeltreffendheidsdimensie, word bank 4 deurgaans as die mins 

doeltreffende bank beskou. Bank 4 is dus nalatiger as sy mededingers, minder effektief 

as banke 1, 3 en 5, minder betroubaar en agtelosiger as enige van die ander vier banke.  

- Op die lojaliteitsdimensie (skale 14 en 15) word bank 5 as die mees patriotiese en die 

mees Afrikaanse beskou. Bank 4 is betekenisvol meer patrioties as bank 2 en meer 

patrioties as bank 1. Wat die skaal Afrikaans - Engels betref, verskil al die banke 

betekenisvol.  Bank 1 is die meeste Engels en bank 3 die tweede meeste. Bank 2 is 

meer Afrikaans as Engels, maar nie soveel soos banke 5 en 4 nie.  

Ten opsigte van die produktiwiteitsdimensie is Bank 4 die enigste wat betekenisvol 

meer dienste het as die ander banke.  

- Met betrekking tot die kliënte-assosiasiefaktor is daar slegs een beduidende verskil. 

Bank 4 word as gesofistikeerder as bank 5 beskou.  

- Die tweede laaste faktor is dié van atmosfeer. Bank 4 word as minder formeel as banke 

1, 3 en 5 beskou. Bank 1 is dus ook formeler as bank 2.  

- Die dimensie prys van dienste, en die skaal nie duur nie, toon geen betekenisvolle 

verskille tussen enige van die banke nie. Dit is duidelik dat die verskille hier toevallig 

is. Hieruit kan afgelei word dat die koste-aspek by banke moontlik belangrik mag wees, 

maar nie determinerend ten opsigte van potensiële verbruikergedrag jeens die banke 

nie.  Met ander woorde, die koste-aspek speel geen werklike rol by die verbruiker in sy 

keuse van 'n handelsbank nie.  

- Die resultate is grafies as 'n verbruikerbeeldprofiel voorgestel (Figuur 2). Aangesien al 

die banke op een profiel aangebring is, kan die relatiewe posisie van elke bank ten 

opsigte van elke skaal onmiddellik waargeneem word. Dit behoort die profiel 'n nuttige 

werkstuk in die hande van die bemarkingsbestuurder te maak.  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

12 

Uit die profiel kan die volgende veralgemeende beskrywings van elke bank afgelei 

word: 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

13 

 

Bank 1  

Bank 1 is ook besonder deeglik en effektief en betroubaarder as enige van sy 

mededingers wat hom in die algemeen as van die doeltreffendste bankinstellings klassifiseer. 

Hy stel nie besondere patriotisme ten toon nie en is die mees Engelse bank in Suid-Afrika. Hy 

is ook baie formeel en wat gesofistikeerdheid betref, is daar min tussen hom en die 

mededingers te kies.  

 

Bank 2  

Bank 2 is 'n baie dinamiese bank. Op een na is hy die mees dinamiese, 

verbeeldingrykste, modernste, aktiefste, opwindendste, progressiefste, uniekste (ten opsigte 

van dienste) en vinnigste groeiende. Wat deeglikheid en algemene doeltreffendheid betref, is 

daar min tussen hom en die bestes te kies. Met betrekking tot lojaliteit is hy betreklik neutraal 

-  moontlik effens aan die Afrikaanse kant en verder is hy nie formeel nie maar ook nie 

informeel nie, beskik oor bogemiddelde aantal dienste en is van bogemiddelde gesofisti-

keerdheid.  

 

Bank 3  

Bank 3 is 'n gemiddelde bank. Hy is in baie opsigte die bank in die middel, behalwe dat 

hy meer na die Engelse kant toe neig en dat hy as baie betroubaar, doeltreffend en boge-

middeld aktief beskou word.  

 

Bank 4  

Bank 4 is 'n bank van uiterstes. Dié bank is sonder uitsondering die mees dinamiese, 

progressiefste, verbeeldingrykste, modernste, aantreklikste, opwindendste bank met die uniek- 

ste dienste. Hy groei ook die vinnigste. In teenstelling hiermee is hy die heel nalatigste bank 

en is baie meer oneffektief, onbetroubaar en agtelosig as enige mededinger en is baie 

informeel. Nogtans is dit ‘n Afrikaanse bank wat as patrioties en betreklik gesofistikeerd 

beskou word, met meer dienste as enige konkurrent in die handelsbankmark.  

 

Bank 5  

Bank 5 is 'n bank met 'n lae dinamiek, relatief tot die ander, alhoewel nog nie ver onder 

‘n suiwer gemiddelde nie. Dis 'n vervelige bank met slegs gewone dienste. In teenstelling 

hiermee is hy net so doeltreffend soos sy mededingers.  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

14 

Hy is verreweg die mees patriotiese bankinstelling en uit en uit Afirkaans. Nogtans bied 

dit minder dienste as sy mededingers, is ongesofistikeerder as die konkurrente, maar verskil 

nie ten opsigte van formaliteit nie.  

Met behulp van 'n diskriminantanalise is die onafhanklikheid en uniekheid van die 

verbruikerbeeld van elke handelsbank gedemonstreer. In Tabel 1 word die resultate daarvan 

weergegee. Die bank met die duidelikste verbruikerbeeld is bank 5, aangesien hy deur 88 van 

die proefpersone op 'n wyse soortgelyk aan die verbruikerbeeld van bank 5 beoordeel is.  'n 

Mate van twyfel bestaan oor bank 3. Drie-en-veertig proefpersone se beoordelings van bank 3 

kom ooreen met die verbruikerbeeld van bank 3, maar 32 beoordelings kom in werklikheid 

met die beeld van bank 1 ooreen, terwyl 20 proefpersone 'n evaluasie nader aan bank 2 tydens 

hulle evaluasie van bank 3 neergeskryf het. Daar mag dus sprake wees van 'n mate van 

stimulusveralgemening tussen banke 1 en 3. 

- Banke in Suid-Afrika word die algemeenste onder dimensies van dinamiek, 

doeltreffendheid en lojaliteit beoordeel deur die verbruikerpubliek. Die skaal Afrikaans-

Engels blyk die mees sensitiewe skaal te wees en het ook die grootste en betkenisvolste 

verskille getoon.  

- 'n Maatstaf van verbruikerbeeld van handelsbanke is hiermee ontwikkel wat heelwat 

prakties uitvoerbare moontlikhede inhou. Die bank se sterk en swak punte kan 

onmiddellik raakgesien word en so ook die van die mededingers. Huidige kommuni-

kasiedoelwitte kan aan die hand van die inligting opgeweeg word. Die metode kan 

herhaaldelik en in andersoortige situasies of segmente toegepas word ten einde 

houdingsveranderinge en/of verbruikerbeeld onder spesifieke segmente van die mark 

vas te stel.  

 

SLOT 

 

Deur middel van hierdie ondersoek word aangetoon dat daar aanduidings is dat daar vir 

elke handelsbank in Suid-Afrika 'n unieke en andersoortige verbruikerbeeld bestaan.  Verder 

word aangetoon dat hierdie banke regstreeks of onregstreeks met sekere eienskappe en groepe 

geassosieer word.  

Die verbruiker neem in groot mate dinge uit sy omgewing op selektiewe wyse waar.  

By banke is dit ook nie anders nie. Die persoonlike vooroordele is waarskynlik in groot mate 

ongegrond ten opsigte van vele van die aspekte wat onder die vergrootglas geplaas is, maar  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

15 

 

TABEL 1 

 

RESULTATE VAN DIE DISKRIMINANT-ANALISE 

 

Bank 
Verwagte 

bank 

Getal 

proefpersone 

1 

1 

2 

3 

4 

5 

63 

14 

23 

2 

1 

2 

1 

2 

3 

4 

5 

5 

68 

15 

6 

9 

3 

1 

2 

3 

4 

5 

32 

20 

43 

4 

4 

4 

1 

2 

3 

4 

5 

1 

9 

2 

3 

88 

5 

1 

2 

3 

4 

5 

1 

9 

2 

3 

88 

 

die beeldkonsep dien as indrukwekkende illustrasie van die geweldige tempo waarteen 

inligting, selfs betreffende sake soos banke, in die verbruikermark versprei. 

Newe-inligting wat uit die ondersoek geblyk het, het dit onder meer duidelik gemaak 

dat daar heelwat moontlikhede vir verdere navorsing ten opsigte van beeld en verwante 

aspekte bestaan. Die veld lê nog braak vir sover dit navorsing van hierdie aard betref.  

*
Die waarde van hierdie navorsing lê waarskynlik meer op die metodologiese vlak waar 

dit 'n aantal riglyne neerlê vir verbruikerbeeldnavorsing, veral met betrekking tot handels-

banke in Suid-Afrika. Die bevindinge moet egter as tentatief beskou word aangesien slegs 

                                                 
*
 Redaksionele kommentaar 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

16 

13,73 % van die oorspronklike ewekansige steekproef aan die navorsing deelgeneem het.  

Daarbenewens was dit in hierdie navorsingsopset nie prakties om onderskeid te tref tussen 

verskillende marksegmente nie sodat dit ook nie vasgestel kon word of positiewe of 

negatiewe beelde deur werklike verbruikers of potensiële verbruikers van 'n bepaalde bank, 

nagehou word nie. 

 

OPSOMMING 

  

In hierdie ondersoek word die hipotese gestel dat elke 

handelsbank oor 'n unieke en gedifferensieerde verbruikerbeeld 

beskik.  Deur middel van 'n faktoranalitiese ondersoek word 'n 

semantiese differensiaal ontwikkel ten einde verbruikerbeeld-

skale op verskillende faktore daar te stel vir die verkryging van 

'n spektrum van verbruikerevaluasies van elke bank. Uit die 

resultate word vasgestel dat handelsbanke in terme van 14 

dimensies evalueer word. Die hipotese wat in die toekoms ten 

opsigte van talle navorsingsoogmerke aangewend kan word. 

  

 

VERWYSINGS 

 

Anastasi, A.  Field of Applied Psychology. McGraw-Hill, 1964.  

Barclay, W.D. The semantic differential as an index of brand attitude. Journal of Advertising 

Research, 1964, 4, 30-33.  

Birdwell, E.A.  A study of the influence of image congruence on consumer choice. Journal of 

Business, January 1968, XLI(1), 76-88.  

Brinton, J.E. Deriving an attitude scale from semantic differential data. Public Opinion 

Quarterly, Summer 1961, 25, 289-295.  

Clevenger, T. (jr.), Lazier, G.A. & Clark, M.L. Measurement of corporate images by the 

semantic differential. Journal of Marketing Research, February 1965, 2, 80-82.  

Ferguson, G.A. Statistical Analysis in Psychology and Education. N.York: McGraw-Hill, 

1966.  

Kelly, R.F. & Stephenson, R.  The semantic differential: an information source for designing 

retail patronage appeals. Journal of Marketing, 1964, 31, 43-47.  

Kjeldergaard, P.M.  Attitudes towards newscasters as measured by the semantic differential. 

Journal of Applied Psychology, 1961, 45(1), 35-40.  

Kunkel, J.B. & Berry, L.L.  A behavioural conception of retail image. Journal of Marketing, 

October 1968, 32, 21-27.  

Lamone, R.P. The Use of the Semantic Differential in a Study of Self-image, Product Image 

and Prediction of Consumer Choice. Ph.D. thesis, University of North Carolina, 1967.  

Markin, R.J. (jr.) Consumer Behaviour, New York: MacMillan, 1974.  

Mindak, W.A. Fitting the semantic differential to the marketing problem.  Journal of 

Marketing, 1961, 25, 28-33.  

Nunnally, J.C. Psychometric Theory. McGraw-Hill, 1967.  

Osgood, C.E. The nature and measurement of meaning. Psychological Bulletin, 1952, 49(3), 

197-237.  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

17 

Osgood, C.E., Suci, G. & Tannenbaum, P. The Measurement of Meaning. University of 

Illinois Press, 1957.  

Pottas, C.D.  Persoonlikheidskorrelate van Kognitiewe Dissonansie in Verbruikersgedrag. 

D.Phil.-proefskrif, R.A.U., 1975.  

Stagner, R. & Osgood, C.E. Impact of war on a nationalistic frame of reference: changes in 

general approval and qualitative patterning of certain stereotypes. Journal of Social 

Psychology, 1946, 24, 187-215.  

Tannenbaum, P.H.  Initial attitude toward source and concept as factors in attitude change 

through communication. Public Opinion Quarterly, 1956, 20, 413-425.  

Tucker, W.T.  How much of the corporate image is stereotype. Journal of Marketing, January 

1961, 61-65.  

Unisa Rekensentrum, 1975.  

Winer, B.J. Statistical Principles in Experimental Design. 2nd Ed., McGraw-Hill, 1971.  

_____________________ 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

18 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1976 2.6 

Verbruikerbeeld van Handelsbanke in S.A. 

(H.I.J Spoelstra) 

19