Microsoft Word - 1977 3-2 Opleiding v Bedryfsielkundiges aan UNISA.doc DIE OPLEIDING VAN BEDRYFSIELKUNDIGES AAN DIE UNIVERSITEIT VAN SUID-AFRIKA A. VLOK DEPARTEMENT BEDRYFSIELKUNDE UNIVERSITEIT VAN SUID-AFRIKA Die Universiteit van Suid-Afrika rig hom hoofsaaklik tot die eksterne student. Onder die geledere is daar 'n aansienlike aantal volwasse persone wat vanweë werksverpligtinge of ander omstandighede nie in staat is om voltyds of deeltyds aan 'n residensiële universiteit te studeer nie. Daar is ook diegene wat 'n studie van die bedryfsielkunde wil aanpak of voortsit. Sommige van hulle het geen vorige bedryfservaring nie, terwyl andere reeds gevorderde betrekkings in personeel of ander bestuursfunksies beklee. 'n Aantal het uit natuurwetenskaplike of tegniese rigtings in die administratiewe en bestuursvlak inbeweeg. Vir sommige studente is 'n studie van die bedryfsielkunde 'n voorbereiding op 'n professionele loopbaan, terwyl nog andere bloot die vak kies omdat hulle belang stel in menslike interaksie, wat 'n groot deel van hulle daaglikse lewe en werk uitmaak. Die Departement Bedryfsielkunde stel hom ten doel om aan die behoeftes van hierdie groeiende studentekorps, met die uiteenlopende belange wat hulle verteenwoordig, te voldoen. Die Universiteit van Suid-Afrika het tradisioneel hoofsaaklik 'n eksamineringsfunksie vervul, en dit is interessant dat bedryfsielkunde as vak reeds in leergange van die vroeë der- tigerjare voorkom. Met die latere uitbouing van die universiteit se doseerfunksie, is bedryfsielkunde aanvanklik as tweejarige kursus deur die Departement Sielkunde vir studente van die Fakulteit Handel en Administrasie aangebied. Dit was egter eers sedert 1961 dat bedryfsielkunde as hoofvak vir die grade B.Com. (Administratief) en B.Admin. aangebied is. Terselfdertyd het dit toegang tot nagraadse studie in bedryfsielkunde verleen. Die eerste leerstoel vir bedryfsielkunde is in 1966 in die Departement Sielkunde ingestel. In 1969 vind die afstigting van die Departement Bedryfsielkunde plaas en word dit 'n selfstandige studiedepartement binne die Fakulteit Handel en Administrasie. Die jong departement het merkwaardig vinnig gegroei en beskik tans oor 'n personeel van 8 en 'n studentetal van meer as 1 300, waarvan ongeveer 100 op nagraadse vlak. Veral die Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1977 3.2 Opleiding van Bedryfsielkundiges (A. Vlok) 2 toename op nagraadse vlak is bemoedigend uit die oogpunt van die departement, die wetenskap en die professie van die bedryfsielkunde. In opleidingsprogramme word betreklik vroeg gespesialiseer en val die klem op vier hoofterreine van die bedryfsielkunde wat tradisioneel onderskei word. Een van die bekendste hiervan is die personeelsielkunde waarin o.a. aandag gegee word aan die voorsiening, keuring, opleiding, evaluering en vergoeding van mannekrag. In die bestuur- en organisasiesielkunde word die interaksies tussen verskillende komponente van organisasies in gedragsterme ontleed, met verwysing na vraagstukke soos dié rakende die individu in die organisasie, menseverhoudinge, werksmotivering en bedryfsleierskap. Die ergonomika of ingenieursielkunde spits hom toe op mensmasjien-omgewing- interaksies met die oog op die optimale beplanning, handhawing en verbetering van doeltreffendheid- en veiligheidstandaarde. Waar die voorafgaande terreine veral die teoretiese en metodologiese agtergrond verskaf vir personeelbestuur, organisasiebeplanning, ens. is die verbruikersielkunde gerig op die verbruiker van die goedere en dienste van die werkorganisasie, en die konsepte en metodes waarvolgens ekonomiese gedrag verklaar en voorspel kan word. Ofskoon 'n eie bedryfsielkundige teorie en metodologie besig is om te ontwikkel, is dit steeds nodig vir die bedryfsielkundige om hom te vergewis van die basiese begrippe vanuit die algemene sielkunde waarmee gewerk word. Veral in die eerste jaar, maar waar van toepassing ook dwarsdeur die kursus, word hieraan aandag gegee. Soos alle gedragswetenskappe staan ook die bedryfsielkunde na aan die alledaagse lewe, en is dit noodsaaklik om tussen wetenskaplike kennis en algemene of vermeende kennis te onderskei. Met die oog hierop, ter voorbereiding vir gevorderde studie en navorsing, en ter beklemtoning van 'n basiese oriëntasie van die departement, word daar ook 'n studie gemaak van navorsingsmetodiek, en meer bepaald die eksperimentele bedryfsielkunde. Terselfdertyd word aandag gegee aan die professionele apparatuur van die bedryfsielkundige, bv. toets- en evaluasieprosedures. Die voorafgaande vorm die hooftemas van voor- sowel as nagraadse kursusse. Die verkorte leerplanne is tans soos volg: Kursus I: Inleiding tot die algemene, sosiale en bedryfsielkunde. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1977 3.2 Opleiding van Bedryfsielkundiges (A. Vlok) 3 Kursus II: 1. Navorsingsmetodiek en sielkundige meting 2. Organisasiesielkunde Kursus III: 1. Personeelsielkunde 2. Verbruikersielkunde 3. Ergonomika Honneurs: Dit behels die volgende vraestelle wat neerkom op 'n verdieping in die studie van geselekteerde teoretiese, metodologiese en praktiese vraagstukke uit die hoofterreine van die bedryfsielkunde: 1. Navorsingsmetodiek 2. Bestuur- en organisasiesielkunde 3. Personeelsielkunde 4. Ingenieursielkunde 5. Ekonomiese en verbruikersielkunde Enkele resente ontwikkelings sluit in 'n groter mate van integrasie van personeel- en organisasiesielkunde, en die uitbouing van beroepsielkunde en die kliniese aspekte van bedryfsielkunde. Op nagraadse vlak word die behoefte aan interdissiplinêre skakeling met die oog op groter akademiese en professionele sinvolheid van tyd tot tyd ondersoek. Tans word twee honneursvraestelle as eerste siklus vir M.B.L.-studente in Mannekragbestuur deur die Departement Bedryfsielkunde aangebied. Samewerking met ander bestuurskundige rigtings word ook in die vooruitsig gestel. Bedryfsielkunde word as hoofvak vir die graad B.Com. (Administratief) aangebied. Die leergang sien soos volg daar uit: Eerste jaar: Ekonomie I, Bedryfsekonomie I, Rekeningkunde I, Bedryfsielkunde I, Statistiek I. Tweede jaar: Ekonomie II, Bedryfsekonomie II, Bedryfsielkunde II, Kommersiële Reg I; Een van die volgende: Naturelle-ontwikkelingsadministrasie, Ekonomiese Geskiedenis, Rekeningkunde I I, 'n Goedgekeurde Bantoetaal, Koöperasiewese, Rekenaarwetenskap I of Inligtingstelsels, Statistiek II, Ekonomiese Analise I, Vervoerekonomie I. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1977 3.2 Opleiding van Bedryfsielkundiges (A. Vlok) 4 Derde jaar: Ekonomie III, Bedryfsekonomie III, Bedryfsielkunde III; Een van die volgende: Boerderybestuur, Industriële Reg, Kosteberekening, Enige kursus nie onder die opsies van die tweede jaar geneem nie, 'n Tweede of derde kursus uit die opsies vir die tweede jaar. Bedryfsielkunde kan ook as keuse-byvak vir ander B.Com.-rigtings geneem word, en ook in kombinasie met vakke soos Publieke Administrasie en Staatsleer ter voorbereiding op die M.Admin.-graad. Die neiging is om steeds meer buigsaamheid in leergangsamestelling te bewerkstellig ten einde die besondere behoeftes van studente te akkommodeer. Opleiding geskied hoofsaaklik by wyse van geskrewe studiemateriaal en werkopdragte wat daarop gebaseer is. Besoeke van dosente aan sentra dwarsdeur die Republiek word egter volgens aanvraag en behoefte gereël. Hierbenewens word daar jaarliks een of meer seminare, veral vir senior studente, gereël in die gedragslaboratorium van die universiteit. Die seminare duur in totaal ongeveer twee weke en fokus op bepaalde temas en tegnieke van belang vir die professionele opleiding van bedryfsielkundiges. Die eiesoortige aard van afstandsonderrig stel besondere uitdagings aan dosente en studente. Pogings word steeds aangewend om die doelmatigheid van onderrig en studie te verhoog. Geprogrammeerde onderrig, ervaringsleer en gerekenariseerde toets- en terugvoerstelsels is reeds in dié verband ondersoek. Terselfdertyd het 'n betreklike groot persentasie van studente die voordeel van praktiese ervaring in die personeelveld, wat hulle akademiese studie aanvul en verryk. Die departement is personeelgewys in die gunstige posisie dat daar op elk van die hoofterreine van die bedryfsielkunde waarna reeds verwys is, gespesialiseer kan word. Dit geld vir sowel opleiding as navorsing. Die universiteit beskik oor 'n goed toegeruste en bemande gedragslaboratorium wat onder meer voorsien in die navorsingsbehoeftes van personeel. Huidige navorsing wat deur lede van die departement onderneem word sluit o.a. in: studies oor keuringsmodelle, werksontleding en -evaluasie, organisasie-ontwikkeling, die kwaliteit van werkslewe, bedryfsgeestesgesondheid en verbruikershoudinge. Hierbenewens is magister- en doktorstudente met 'n verskeidenheid van navorsingsprojekte besig. 'n Belangrike en miskien die bekendste toepassingsveld van die bedryfsielkunde is op die gebied van personeelbestuur, waarvoor bedryfsielkunde in 'n groot mate die wetenskaplike grondslag vorm. 'n Groot persentasie studente is dan ook in die gebied werksaam of kom daarin tereg. Die departement huldig egter die standpunt dat die bedryfsielkundige ook in Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1977 3.2 Opleiding van Bedryfsielkundiges (A. Vlok) 5 sy eie reg 'n breër professionele rol vervul, wat tewens deur wetgewing bepaal word. Hierdie funksies sluit in die diagnosering van personeel- en ander organisasievraagstukke met 'n bedryfsielkundige strekking, en remediële optrede met behulp van professionele tegnieke en advies. Die implikasie is dat persone wat nie as bedryfsielkundiges geregistreer is nie, nie as sodanig mag praktiseer of bedryfsielkundige tegnieke mag gebruik nie. Met inagneming van registrasievereistes gee die departement volle aandag aan die akademiese aspek en vir sover doenlik ook aan die vereistes met betrekking tot die gebruik van bedryfsielkundige tegnieke. In die verband is reeds verwys na seminare vir senior studente waarin o.a. aandag gegee word aan die praktiese gebruik van gevorderde tegnieke vir die meting, evaluasie, diagnose en behandeling van personeel-, werk- en organisasievraagstukke. 'n Verdere registrasievereiste behels 'n internskap aan 'n geakkrediteerde inrigting. Die internskap is nie gekoppel aan die verwerwing van 'n graad nie, en kan deur studente wat belang stel in professionele registrasie met die betrokke instansie gereël word. Die departement kan studente hierin behulpsaam wees. Tipiese doelstellings en kriteria van die bedryfsielkunde is die kwaliteit van menslike inspanning en behoeftebevrediging. Langs die weg wat hierbo geskets is, hoop die Depar- tement Bedryfsielkunde van die Universiteit van Suid-Afrika om ook sy bydrae te lewer . _________________