Microsoft Word - 1980 6-1 Doeltreffendhied v Org Ontw.doc


DIE GEBRUIK EN DOELTREFFENDHEID VAN ORGANISASIEONTWIKKELINGSTEGNIEKE 

 IN 73 GROOT SUID-AFRIKAANSE ORGANISASIES 

 

L.D. COETSEE  

E.A. COSTER  

A.M. VAN NIEKERK 

 

DEPARTEMENT BEDRYFSIELKUNDE  

UNIVERSITEIT VAN SUlD-AFRlKA 

 

 

ABSTRACT 

 

Data on various aspects regarding the use of Organisational 

Development techniques (OD-techniques) in 73 large South 

African organisations indicate that OD-practice is founded on a 

sound scientific basis in some of these organisations. In other 

organisations the use of OD-techniques are characterised by 

the problems typically found in many organisations overseas. 

The specific problems and their possible causes are discussed 

and some proposals for the improvement of OD-practice are 

made.  
 

 

Gedragswetenskaplike kennis het gedurende die afgelope drie dekades vinnig 

toegeneem. Een van die sub-terreine van die gedragswetenskappe waarop veral aktief gewerk 

is, is dié van organisasie-ontwikkeling (OO) wat in die algemeen beskryf word as die 

toepassing van gedragwetenskaplike kennis in organisasies ten einde sekere veranderinge in 

organisasies te weeg te bring. Die toepassing van OO-tegnieke het die maksimering van 

individuele doeltreffenheid en bevrediging, en van organisasie-effektiwiteit, ten doel. Daar 

bestaan egter heelwat probleme in verband met die toepassing van OO-tegnieke. Die doeltref-

fendheid en uitwerking van die tegnieke is veral onder verdenking terwyl daar heelwat 

leemtes inherent aan en in die toepassing van die tegnieke blyk te wees. Hierdie probleme 

word in die artikel toegelig nadat die konsep organisasie-ontwikkeling gedefinieer is. Die 

resultate van 'n ondersoek na die gebruik van OO-tegnieke in van die grootste organisasies in 

Suid-Afrika word teen bogenoemde agtergrond weergegee en bespreek.  

 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

2 

DIE BEGRIP ORGANISASIE-ONTWIKKELING (OO) 

 

Een van die bekendste en steeds mees populêre definisies van OO is die van Beckhard 

(1969, p.9): "Organization development is an effort (1) planned, (2) organization wide, and 

(3) managed from the top, to (4) increase organization effectiveness and health through (5) 

planned interventions in the organization's 'processes', using behavioural science knowledge".  

Ons sien OO as 'n 'op-behoefte-gebaseerde (soos deur diagnose aangetoon) beplande, 

sistematiese proses van langtepmyn veranderinge, gegrond op gedragwetenskaplike teorieë en 

waarby alle organisasie substelsels betrek word, ter verbetering van organisasiedoeltref-

fendheid en die doeltreffendheid en bevrediging van organisasielede'.  

In die literatuur word daar soms 'n onderskeid getref tussen bestuurderontwikkeling en 

organisasie-ontwikkeling. Volgens Beckhard (1969, p.20) is die verskil geleë in wie die kliënt 

is. Die doel van bestuurderontwikkeling is om die vaardighede, vermoëns en kapasiteite van 

die bestuurders (die kliënt) te verbeter. By organisasie-ontwikkeling is die doel die ver-

betering van alle substelsels van die organisasie (die kliënt). OO kan dus gesien word as die 

meer omvattende begrip wat ook bestuurderontwikkeling insluit. Vir die doeleindes van die 

artikel sal OO dan ook so beskou word.  

 

Die doeltreffendheid van OO-tegnieke  

Dit is bekend dat heelwat geld en man-ure aan die toepassing van OO-tegnieke bestee 

word. Navorsing dui egter daarop (Beer, 1976; Bowers, 1976; Kahn, 1974; Levinson, 1972; 

Tichy 1974) dat alhoewel OO-tegnieke reeds vir drie dekades in die Verenigde State van 

Amerika toegepas word, daar min wetenskaplike bewyse bestaan dat dit gelei het tot die 

verhoging van individuele en organisasie-doeltreffendheid. Trouens, die kenners, waarna 

hierba verwys is, is dit eens dat die gevolge en uitwerking van die toepassing van OO-

tegnieke het, in 'n groot mate nog bekend is. Dit kan, volgens sommige van hulle, veral 

daaraan toegeskryf ward dat die resultate van OO-pogings nie dikwels openbaar gemaak word 

nie.  

Dit blyk dat OO-praktisyns in die algemeen 'n groot weerstand openbaar teen die 

evaluering van hul ingrypings in organisasies. Tichy (1974) en Brown en Somerville (1977) 

sê dat in baie min organisasies pogings aangewend word om te bepaal of die gebruik van OO-

tegnieke gesonde beleggings is in terme van geld en man-ure bestee. Daar bestaan, na ons 

wete, geen gepubliseerde studies na die doeltreffendheid van OO-tegnieke wat in Suid-Afrika 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

3 

toegepas is nie. Een van die min omvattende ondersoeke na die doeltreffendheid van OO-

tegnieke tot op datum is die van Bowers (1973) waar 14 000 respondente, afkomstig uit 23 

organisasies in die Verenigde State van Amerika, by betrek is. Verskillende doeltreffendheid-

metings, voor en na elke afsonderlike toepassing van OO-tegnieke, is vergelyk. Die resultate 

van die studie dui daarop dat die toepassing van  

− opname-terugvoertegnieke (“survey feedback techniques”) gelei het tot statisties 

beduidende verbeteringe ten opsigte van die oorgrote meerderheid metings 

− interpersoonlike-proseskonsultasietegnieke ook ten opsigte van die meerderheid 

metings ‘n verbetering (alhoewel nie in al die gevalle statisties beduidend nie) getoon 

het 

− taakproseskonsultsietegnieke geen veranderinge in metings teweeggebring het nie 

− laboratoriumopleidingstegnieke, en waar geen opleiding gegee is nie, beide tot afnames 

in doeltreffendheidsmetings gelei het. 

Die bevindings versterk die vermoede wat reeds deur ander skrywers soos Levinson 

(1972), Bass (1967), Deep, Bass en Vaughan (1967) geopper is, naamlik dat 

laboratoriumopleiding teenproduktief kan wees, met ander woorde, naegatiewe en 

selfs destruktiewe gevolge mag hê, soos byvoorbeeld ‘n afname in doeltreffendheid.  

Dit blyk dus dat die toepassing van OO-tegnieke in die algemeen en veral 

laboratoriumtegnieke, dusver telerustellende resultate gelewer het.  Die rede hiervoor 

word veral toegeskryf aan sekere tekortkominge in die tegnieke self en in die 

toepassing daarvan. 

 

Die belangrikste tekortkominge van OO-tegnieke 

 Gebrekkige teoretiese grondslag 

 Ons het OO omskryf as gegrond op wetenskaplike beginsels en dat dit gebruik maak 

van gedragwetenskaplike kennis.  Verskeie skrywers (onder andere Bowers, 1976; Kahn, 

1974; Levinson 1972) is dit eens dat een van die belangrikste tekortkominge van baie OO-

tegnieke daarin geleë is dat dit nie aan wetenskaplike vereistes voldoen nie. Kontemporêre 

organisasieteorieë het nog nie iets wesenliks bygedra tot die gebied van organisasie-

ontwikkeling nie (Friedlander en Brown, 1975; Levinson 1972) en gevolglik kan OO nie 

aanspraak maak op 'n wetenskaplike teoretiese onderbou nie. In veral laboratorium-opleiding 

word daar dikwels van clichés gebruik gemaak soos 9,9 of selfaktualisering-terme wat nog nie 

genoegsaam verfyn is ten einde psigologiese intervensie op grond daarvan moontlik te maak 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

4 

nie. Levinson (1972) beweer dat meeste OO-tegnieke 'n foefie ("gimmick") is en Kahn (1974) 

wys daarop dat die term Grid Organization Development geregistreer is as 'n handelsmerk of 

produk  

− die antitese van wetenskaplike konseptualisering. 

  

Indikasie ontleding (diagnose) word nie deurgaans gebruik nie  

In Beckhard se definisie van OO word daarop gewys dat dit 'n beplande proses is en in 

die verdere omskrywing word pertinent aangetoon dat dit 'n "op-behoefte-gebaseerde (soos 

deur diagnose aangetoon)" proses is. Die kritiek dat die werk van baie OO-konsultante 

gekenmerk word deur tegniek gebondenheid is al dikwels gehoor. Dieselfde tegnieke word in 

elke organisasie of afdeling van organisasies toegepas, ongeag die unieke probleme van die 

spesifieke organisasie of afdeling. Daar word dus in sulke gevalle aanvaar dat dieselfde OO-

tegnieke van toepassing is en suksesvol sal wees vir alle betrokke individue en organisasies.  

Sistematiese en beplande verbetering van 'n organisasie vereis volgens kenners 

(Beckhard, 1969; Levinson, 1972; Huse, 1975; Beer, 1976) in die eerste plek 'n deeglike 

diagnose van die verskillende substelsels van die organisasie, en van prosesse (byvoorbeeld 

besluitneming en kommunikasie). Die indikasie ontleding behoort die basis te vorm vir die 

beplanning van die organisasie-ontwikkelingsprogram, insluitende die keuse van die 

spesifieke OO-tegnieke wat toegepas gaan word.  

Navorsing (Bowers, 1976) dui daarop dat OO-konsultante in die algemeen en veral 

diegene wat aan laboratoriumopleidingstegnieke voorkeur gee, óf 'n deeglike indikasie 

ontleding versaak óf waar daar wel so 'n ontleding gemaak word, die gegewens dikwels nie 

reg benut nie.  

 

Alle organisasie substelsels word nie deurgaans betrek nie  

Beckhard (1969) beklemtoon in sy definisie dat OO 'n "organization wide" benadering 

moet wees. In die verdere omskrywing word dit gemeld dat "alle organisasie substelsels 

betrek (moet) word".  

Die toepassing van sekere OO-tegnieke is gemik op die verandering van 'n spesifieke 

substelsel van die organisasie. Voorbeelde hiervan is laboratoriumtegnieke wat gebruik word 

om die individuele of sosiale substelsels te verander, en doelwitbestuursopleiding gerig is op 

die verandering van die bestuurstelsel. Die interafhanklikheid en interaksie van alle sub-

stelsels in 'n organisasie en hul dinamika word vandag wyd in die literatuur erken.  Die 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

5 

besondere prominensie wat die stelselbenadering in die literatuur oor organisasiegedrag 

geniet, dien as 'n bewys hiervan. Dit wil voorkom asof die stelselbenadering in OO-praktyke 

in 'n groot mate oor die hoof gesien word en in su1ke gevalle word dit dus nie in ag geneem 

nie dat 'n verandering, in 'n enkele substelsel van die organisasie, onvoorsiene gevolge vir die 

ander substelsels en die organisasie as gehee1 mag inhou.  

 

Daar word nie deurgaans rekening gehou met die "oordrag van leer"-probleem nie  

Daar bestaan baie min bewyse dat gedragsvorme wat deur middel van OO-tegnieke 

aangeleer word wel na die werksituasie oorgedra word. In dié verband merk Argyris (1971) 

op dat alhoewel laboratoriumtegnieke soos T-groepe nuwe gedragsvorme motiveer, dit min 

vaardighede verskaf wat in die werksituasie gebruik kan word. Gedurende 1aboratorium-

op1eiding word gedragsvorme soos "openheid" en "vertroue" - daar is a1 hierna verwys as die 

hoekstene van OO (Frank, 1976, p.2) - en "risiko neming" aangeleer. Na die opleiding keer 

individue terug na dieselfde werkrolle en rolverwagtings as voor opleiding. Individue onder-

vind dan dat daar 'n sterk konf1ik bestaan tussen die nuut aangeleerde gedrag en die norme, 

waardes en houdings van hul werkomgewing en kry hulle min geleentheid om wat hulle 

geleer het toe te pas.  

 

Kommersialisme en gebrekkige opleiding van konsultante  

Van die belangrikste oorsake van die swak resultate wat dusver met OO-tegnieke 

behaal is, mag volgens Bowers (1976), aan kommersialisme toegeskryf word. In advertensies 

waar OO-programme bekend gestel word, in veral semi-vakkundige tydskrifte en brosjures, 

word dikwels ongegronde aansprake gemaak ten opsigte van die verbetering van individuele 

en organisasiedoeltreffendheid deur midde1 van hierdie programme.  

'n Verdere probleem behels die opleiding van konsultante. Levinson (1972) beweer dat 

meeste mense wat OO-tegnieke toepas nie oor genoegsame opleiding vir die taak beskik nie.  

 

Die doeltreffendheid van OO-tegnieke word selde geëvalueer teen eksterne (die 

sogenaamde “harde”) kriteriadata  

Dit is natuurlik dikwels nie prakties moontlik om in evalueringstudies gebruik te maak 

van eksterne kriteria nie. Waar evaluering wel onderneem word, word dikwels aan "sagte" 

kriteriumdata, veral houdingsveranderinge, voorkeur gegee. Daar kan heelwat besware teen 

die gebruik hiervan geopper word, byvoorbeeld dat dit subjektiewe kriteria is en in die geval 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

6 

van houdingsveranderinge bestaan daar min, indien enige, bewyse dat die houdingsverande-

ringe nie maar net kortstondig van aard is nie.  

Uit die voorafgaande blyk dit dat alhoewe1 OO-tegnieke reeds vir ongeveer dertig jaar 

toegepas word, daar heelwat probleme bestaan op grond waarvan die doeltreffendheid van 

OO-tegnieke bevraagteken kan word.  

Teen die agtergrond van die groot verskeidenheid probleme rondom die gebruik van 

OO-tegnieke is die algemene doel van hierdie ondersoek om vas te stel in watter mate die 

grootste organisasies in Suid-Afrika van OO-tegnieke gebruik maak, hoe hierdie tegnieke 

geïmp1ementeer word en of OO-praktyk in SuidAfrika ook die leemtes openbaar van OO-

praktyk elders.  

Die meer spesifieke doelstellings (aan die hand waarvan die resultate van die ondersoek 

ook weergegee en bespreek sal word) is om die volgende faktore rakende die gebruik van 

OO-tegnieke in die grootste Suid-Afrikaanse organisasies te ondersoek.  

− Watter OO-tegnieke gebruik word.  

− Die samestelling van OO-programme.  

− Wie die gebruik van OO-tegnieke beplan en beheer.  

− Of indikasie ontleding (diagnose) van opleidingsbehoeftes vooraf gemaak word en, 

indien wel, hoe hierdie diagnose gemaak word.  

− Of die doeltreffendheid van OO-programme, na die afloop daarvan, geëvalueer word 

en, indien wel, hoe hierdie evaluering onderneem word.  

− Hoeveel geld en man-ure gedurende die afgelope twee jaar aan OO-programme bestee 

is.  

− Die mate waartoe OO-programme as doeltreffend beskou word. 

 

METODE 

 

Die gegewens is met behulp van 'n vraelys, wat spesifiek vir die doel van die ondersoek 

opgestel is, ingesamel.  

Die vraelys is in beide ampstale opgestel en in boekvorm gebind. Dit, tesame met 'n 

begeleidende brief waarin die doel van die ondersoek en instruksies vir die voltooiing van die 

vraelys uiteengesit is en 'n gefrankeerde koevert, is aan die hoof van personeel en/of hoof van 

personeelopleiding van 280 organisasies gestuur.  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

7 

In die begeleidende brief is die versekering gegee dat geen name van individue of 

organisasies in navorsingsverslae vermeld sal word nie. 'n Afskrif van die uiteindelike 

navorsingsverslag is ook aan elke deelnemende organisasie belowe.  

Na ontvangs van die voltooide vraelyste is die gegewens met behulp van 'n rekenaar 

verwerk.  

 

Monster  

Daar is besluit om slegs die grootste organisasies in SuidAfrika by die ondersoek te 

betrek.Dit is gedoen omdat daar van die veronderstelling uitgegaan is dat OO-tegnieke meer 

algemeen in gebruik sal wees by die organisasies as by klein organisasies.  

Die name van die grootste organisasies is uit twee bronne verkry. Eerstens uit 'n verslag 

gepubliseer deur die Financial Mail Special Survey, getitel Top Companies, 22 April 1977. 

Vraelyste is gestuur aan die 50 organisasies gelys onder die opskrif  The S.A. Giants League 

(p.66) wat volgens die opname beskou word as die grootste op grond van totale bates.  'n 

Verdere 80 vraelyste is gestuur aan organisasies wat in bogenoemde publikasie se lys The Top 

100 (pp.19-25) opgeneem is en wat nie in eersgenoemde lys verskyn nie. Die organisasies is 

die grootste organisasies in Suid-Afrika op grond van hul totale bates, aandele markkapitaal 

en netto wins.  

Die monster is aangevul uit 'n tweede bron, naamlik deur vraelyste te stuur aan die 150 

grootste vervaardigingsorganisasies in Suid-Afrika (in terme van aantal werknemers in diens) 

wat nie reeds in die Financial Mail Special Survey se lyste opgeneem is nie. Die naamlys van 

organisasies is verkry van die Universiteit van Suid-Afrika se Buro vir Marknavorsing wat 

onder meer gemoeid is met die samestelling van sulke lyste.  

Van die 280 uitgestuurde vraelyste is 119 (42,5 %) terug ontvang wat 65 van die 130 

(50 %) vraelyste van die organisasies genoem in die Financial Mail Special Survey en 54 van 

die 150 (36 %) van die Buro vir Marknavorsing se lys insluit.  

OO-tegnieke word nie in al die organisasies wat die vraelys voltooi het gebruik nie. 

Van die 119 organisasies pas 73 een of meer OO-tegnieke toe, terwyl 46 nie OO-tegnieke 

voor of ten tyde van die opname toegepas het nie. Die 73 organisasies wat wel OO-tegnieke 

gebruik, het gesamentlik meer as 625 500 Blanke werknemers in diens.  

Die monster sluit 'n verskeidenheid organisasies in soos bankinstellings, versekerings-

organisasies, vervoerorganisasies, ligte- en swaar nywerhede, mynbouinstellings en 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

8 

konstruksiemaatskappye. Daar is enkele semi-staatsondernemings in die monster, maar nie 

staatsdepartemente of departemente van provinsiale administrasies nie. Daar kan dus nie 

daarop aanspraak gemaak word dat hierdie monster verteenwoordigend is van groot Suid-

Afrikaanse ondernemings nie. Die resultate en die bespreking van die bevindings het dus 

slegs betrekking op die 73 organisasies, wat volgens die ondersoek, OO-tegnieke gebruik.  

Uit 'n ontleding van gegewens wat die voltooiers van die vraelyste moes verstrek, blyk 

dit dat die persone in die algemeen hoëvlak poste in hul organisasies beklee en oor heelwat 

relevante ervaring met personeelwerk en personeelopleiding beskik om die gevraagde 

inligting vir die ondersoek te verstrek.  

 

RESULTATE EN BESPREKING 

 

Die gebruik van OO-tegnieke  

'n Uiteensetting (in populariteitsvolgorde) van die OO-tegnieke wat in die 73 

organisasies gebruik word, word in Tabel 1 weergegee. Daar word ook aangedui hoeveel 

organisasies die tegnieke toepas, asook die persentasie wat die syfers verteenwoordig ten 

opsigte van die totale aantal organisasies wat OO-tegnieke gebruik. 

 

TABEL 1 

 

OO-TEGNIEKE WAT IN DIE 73 ORGANISASIES GEBRUIK WORD 

 
 

Tegnieke 

Organisasies 

(N) 

Persentasie van die 

73 organisasies 

(%) 

Indienstegnieke  66 90 

Strukturele veranderingstegnieke 59 81 

Laboratoriumtegnieke 53 73 

Doelwitbestuur 51 70 

Taak en proses konsultasie  39 53 

Ruitekaart- tipe opleiding  33 45 

Opname gebaseerde tegnieke 31 42 

Gedragmodifikasietegnieke 21 29 

Beoordelingsentrums 14 19 

Transaksionele analise 12 16 

 

Uit Tabel 1 blyk dat die organisasies in die algemeen van 'n verskeidenheid tegnieke 

gebruik maak.  Indienstegnieke - dit sluit tegnieke in soos werkrotasie, assistent aanstellings, 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

9 

tydelike taakmagte en spesiale opleidingsprojekte - word net in sewe van die organisasies nie 

toegepas nie. Die gewildheid van die tegnieke kan moontlik daaraan toegeskryf word dat die 

toepassing daarvan goedkoop is, nie die normale werkvloei onderbreek of versteur nie en ook 

nie 'n hoë vlak opleiding en ervaring van die persoon wat die tegnieke toepas, verg nie.  

Strukturele veranderingstegnieke is tegnieke deur middel waarvan strukturele 

veranderinge in organisasies te weeg gebring word, byvoorbeeld in poste struktuur, hiërargie, 

werkinhoud, ensovoorts, en behels tegnieke soos werkherontwerp, veranderinge in 

personeelstelsels en in vergoedingstelsels. Werkverruiming en werkverryking is ook as 

strukturele veranderingstegnieke beskou. Die gebruik van die tegnieke in 59 organisasies, dui 

daarop dat die strukturele komponente van organisasies, wat dusver, volgens Levinson (1972) 

en Bowers (1976), so min aandag in OO-programme in die Verenigde State van Amerika ge-

niet het, tog wel in van hierdie Suid-Afrikaanse ondernemings, saam met die ander 

organisasiekomponente in ag geneem word en doelwitte van veranderingspogings is.  

Laboratoriumtegnieke soos T- of L-groepe, sensitiwiteitsopleiding, konfrontasiegroepe 

en spanbou word in 73 % van die organisasies gebruik. OO-tegnieke soos die ruitekaart-tipe 

opleiding (dit sluit Blake en Mouton ruitekaart, LOS-seminare en aangepaste vorms daarvan 

in), gedragmodifikasietegnieke, beoordelingsentrums en transaksionele analise word veral in 

laboratoriumsituasies toegepas, en kan dus streng gesproke, ook as laboratoriumtegnieke 

beskou word. Die tipe tegnieke word ook in heelwat van die organisasies gebruik, soos in 

Tabel 1 aangedui.  

Daar is aangetoon dat die teoretiese grondslag waarop laboratorium- en ruitekaart 

tegnieke berus, onder verdenking is en daar is daarop gewys dat die toepassing van 

laboratoriumtegnieke tot afnames in doeltreffendheidsmetings kan lei (Bowers 1973) en dat 

ander skrywers soos Levinson (1972), Bass (1967), Deep, Bass en Vaughan (1967) van 

mening is dat die tipe opleiding teenproduktief kan wees. Op grond hiervan blyk die wye 

toepassing van laboratoriumopleidingstegnieke in hierdie SuidAfrikaanse organisasies op 'n 

tendens wat bevraagteken moet word.  

Die mees gesofistikeerde kategorie OO-tegnieke en ook die tegnieke wat volgens 

Bowers (1973) se studie die doeltreffendste is, naamlik opnameterugvoer-tegnieke word 

relatief min in die organisasies gebruik. Dit kan moontlik daaraan toegeskryf word dat die 

tegnieke nog nie so bekend is in Suid-Afrika as in ander lande nie en ook omdat die 

toepassing daarvan hoër eise stel aan die persone wat dit gebruik.  

 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

10 

Die samestelling van OO-progpamme  

Gegewens oor die samestelling van OO-programme wat in die 73 organisasies toegepas 

word, word in Tabel 2 verstrek.  

 

TABEL 2 

 

DIE SAMESTELLING VAN OO-PROGRAMME WAT IN DIE  

73 ORGANISASIES GEBRUIK WORD 

 

Aard van OO-program 
Organisasies 

(N) 

Organisasies 

(%) 

'n Pakket  14 19 

Spesiaal vir die organisasie saamgestel 48 66 

'n Spesifieke tegniek waaraan voorkeur 

gegee word 
12 16 

Ander  12 16 

 

Die bevinding dat twee derdes van die organisasies voorkeur gee aan tegnieke wat 

spesiaal vir die organisasie saamgestel is, laat die indruk dat OO-praktyk in Suid-Afrika in die 

algemeen gesond is. By verdere ontleding van die vraelys het dit geblyk dat 'n groot aantal 

vraelysvoltooiers tegnieke soos LOS-seminare as 'n spesiaal saamgestelde program vir hul 

organisasie beskou het, wat dit natuurlik nie is nie. Die geldigheid van die bevinding is dus 

onder verdenking.  

Sou ons egter aanvaar dat die syfer korrek is, dan blyk dit dat 'n verdere 36 

organisasies, óf van 'n 'pakket' gebruik maak ('n program wat vooraf saamgestel word en in 

dieselfde vorm aan organisasies bemark word, sonder om individuele organisasies se 

behoeftes in ag te neem) óf voorkeur gee aan die toepassing van 'n spesifieke tegniek.  

'n OO-program behoort altyd aan te pas by die besondere omstandighede wat in 'n 

organisasie heers. In gevalle waar 'pakkette' sonder meer toegepas word, of waar 'n spesifieke 

tegniek net bloot toegepas word omdat geglo word dat die tegniek 'werk', word organisasie 

realiteite oor die hoof gesien. Daar is reeds daarop gewys dat die toepassing van OO-tegnieke 

altyd voorafgegaan moet word deur diagnose ten einde probleme te identifiseer. Daar kan met 

'n redelike mate van sekerheid aanvaar word dat die diagnose nie vooraf onderneem word nie 

waar 'pakkette' of spesifieke 'voorkeur tegnieke' toegepas word. Daar is dus aanduidings dat 

heelwat organisasies bereid is om bepaalde tegnieke toe te pas sonder inagneming van hul 

spesifieke behoeftes. Tegniekgebondenheid blyk dus ook 'n kenmerk van OO-praktyk in 'n 

groot aantal van hierdie Suid-Afrikaanse organisasies te wees.  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

11 

 

Die beplanning en beheer van OO-programme  

Wie is die mense wat die OO-programme in die 73 organisasies beplan en die beheer 

oor die verloop van die programme uitoefen? In Tabel 3 word die akademiese opleiding van 

die persone uiteengesit, terwyl daar in Tabel 4 'n ontleding gemaak word van hul ervaring met 

OO-werk.  

TABEL 3 

 

DIE AKADEMIESE KWALIFIKASIES VAN PERSONE WAT OO-PROGRAMME 

 BEPLAN EN BEHEER 

 
AKADEMIESE KWALIFIKASIE 

Organisasies 
Nie 

Universi-

teitsgraad 

nie 

Baccalaureus 

of 

Honneurs 

graad 

Meesters- 

graad 

Doktors- 

graad 

Geen 

Inligting 

N 18 16 18 8 13 

% 25 22 25 11 17 

 

 

TABEL 4 

 

ERVARINGS MET OO-WERK VAN PERSONE WAT OO-PROGRAMME  

BEPLAN EN BEHEER 

 

JARE ERVARING 
Organisasies 

5 en minder 6 - 9 10 en meer Geen inligting 

N 17 14 18 24 

% 23 19 25 33 

 

Die gegewens in Tabel 3 verstrek, dui aan dat slegs 36% van die persone wat OO-

programme beplan en beheer, oor 'n gevorderde akademiese kwalifikasie ('n meesters- of 

doktorsgraad) beskik.  In 25 % van die organisasies het die persoon nie oor 'n universiteits-

graad beskik nie en 13 organisasies (17 %) wou of kon nie inligting verstrek oor die 

akademiese opleiding van die persone nie. Uit Tabel 4 blyk dit dat dieselfde tendens voorkom 

met betrekking tot die ervaring van die persone, 23 % het slegs 5 of minder jare ervaring, 

terwyl een derde van die organisasies nie inligting wou of kon verstrek oor die ervaring van 

die persone nie.  

In die bespreking van die tekortkominge van OO-tegnieke is verwys na Levinson 

(1972) se opmerking dat die meeste mense wat OO-tegnieke toepas, nie oor genoegsame 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

12 

opleiding vir die taak beskik nie. Die gegewens, hierbo uiteengesit, dui daarop dat die 

opmerking ook waarskynlik waar kan wees ten opsigte van sommige persone wat die 

toepassing van OO-tegnieke in die 73 organisasies beplan en beheer.  

In 35 organisasies (48 %) word van die dienste van buite konsultante gebruik gemaak, 

terwyl 33 (45 %) uitsluitlik hul eie personeel gebruik. In 29 organisasies (39 %) is 

konsultante, afkomstig uit Europa of die Verenigde State van Amerika, gebruik, terwyl slegs 

8 organisasies (11 %) Suid-Afrikaanse buite konsultante se dienste gekoop het. Van die 35 

organisasies wat buite konsultante gebruik het, het 26 die buite konsultante om hul dienste 

gevra; terwyl 9 organisasies deur die buite konsultante genader is wat hulle dienste aan die 

organisasies kom aanbied het.  

 

Die gebruik van diagnose in OO-programme  

Daar is telkens beklemtoon dat 'n deeglike diagnose van probleme en behoeftes 'n 

voorvereiste is vir beplande en sistematiese organisasie-ontwikkeling. Gegewens in verband 

met die gebruik van diagnose in OO-programme word in Tabel 5 verstrek. 

 

TABEL 5 

 

DIE MAAK VAN DIAGNOSE EN DIE GEBRUIKMAKING VAN DIE  

INLIGTING IN OO-PROGRAMME 

 

DIAGNOSE 
Organisasies 

Deurgaans Soms Glad nie 

N 46 15 12 

% 63 20 17 

 

Ses en veertig organisasies (63 %) rapporteer dat hulle diagnose onderneem en die 

diagnose gebruik as basis vir OO-program beplanning. In 15 organisasies word die diagnose 

soms gemaak en soms gebruik vir beplanning. In die oorblywende 12 organisasies (17 %) 

word geen diagnose gemaak nie. Bykans twee derdes van die organisasies blyk dus 'n 

wetenskaplike benadering te volg tot die instelling en gebruik van OO-programme. Die vraag 

ontstaan egter, of die manier waarvolgens die diagnose gemaak word, wel as wetenskaplik 

beskou kan word. Inligting oor hoe die diagnoses gemaak word verskyn in Tabel 6.  

Vraelyste na werknemerhoudings word in 23 organisasies (32 %) toegepas - in 6 

organisasies (8 %) op sigself en in 17 ander in kombinasie met ander metodes. Die nagaan 

van beskikbare rekords (onder meer produksiestate), beoordelings van werknemerprestasie en 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

13 

bestuur se siening van ontwikkelingsbehoeftes is ook metodes wat gebruik word om OO-

behoeftes uit te wys. Die gegewens in Tabel 7 dui aan dat in die diagnoses veral gelet word op 

die individuele substelsel van organisasies ten einde behoeftes en probleme te diagnoseer en 

dat die ander substelsels van die organisasie, bv. die organisasie-, taak en sosiale struktuur, 

dikwels oor die hoof gesien word. Die gegewens dui ook daarop dat die wisselwerking tussen 

die verskillende substelsels nie dikwels in die diagnose fase ondersoek word nie. 

 

TABEL 6 

 

METODES WAARVOLGENS DIAGNOSE VAN OO-BEHOEFTES GEMAAK WORD 

 
Organisasies 

Diagnose deur - 

N % 

1.  Die nagaan van beskikbare rekords  12 16 

2.  Beoordelings van werknemerprestasie  8 12 

3.  Bestuur se siening van ontwikkelingsbehoeftes in te win 7 10 
4.  Vraelyste na werknemerhoudings  6 8 

5.  Ander vraelyste   4 5 

6.  Ander metodes (byvoorbeeld kritiese insidente, 

ondervraging van werknemers) 
7 10 

7.  Beide 4 en 1   12 16 

8.  Beide 4 en 2   1 1 

9.  Beide 4 en 3   3 4 

10.  Beide 4 en 5   1 1 

11.  Doen nie diagnose nie   12 16 

 

Gesien die belangrikheid van die diagnose fase in enige organisasieontwikkelings-

program behoort organisasies heelwat meer aandag te skenk aan die sistematiese 

identifisering van organisasie-ontwikkelingsbehoeftes. Nie net die individuele substelsel nie, 

maar alle organisasie substelsels en die wisselwerking tussen hulle, moet ondersoek word. Die 

inligting moet gebruik word om die verdere verloop van die OO-program te beplan.  

 

Die evaluering van OO-programme  

In Tabel 7 word aangetoon dat meer as die helfte van die 73 organisasies hul OO-

programme, na die afloop daarvan, evalueer. 

  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

14 

TABEL 7 

 

DIE EVALUERING VAN OO-PROGRAMME 

 
Organisasies 

OO-Programme 
N % 

Word geëvalueer  40 55 

Word soms geëvalueer  22 30 

Geen inligting verstrek nie  11 15 

 

Die gegewens wek die indruk dat OO-praktisyns in Suid-Afrika nie so 'n groot 

weerstand teen die evaluering van OO-programme toon nie, as wat Tichy (1974) en Brown en 

Somerville (1977) in die Verenigde State van Amerika teëgekom het.  

Net soos in die geval van diagnose is die belangrike vraag egter hoe die evaluering 

gedoen word, dit wil sê, watter kriteria gebruik word om die doeltreffendheid van die OO-

programme te evalueer. Inligting hieroor verskyn in Tabel 8.  

Slegs drie organisasies (4 %) maak in die evaluering van OO-programme uitsluitlik van 

eksterne kriteria gebruik. Die beswaar, dat OO-programme baie selde teen slegs eksterne, die 

sogenaamde harde kriteriadata, soos verbeterde produksie, groter doeltreffendheid, 

verminderde afwesigheid en arbeidsomset geëvalueer word, geld dus ook vir meeste van 

hierdie Suid-Afrikaanse organisasies.  

Die interne kriteria wat in 42 organisasies (58 %) gebruik is om die doeltreffendheid 

 

TABEL 8 

 

DOELTREFFENDHEIDSKRITERIA GEBRUIK IN EVALUERING  

VAN OO-PROGRAMME 

 
Organisasies 

Doeltreffendheidskriteria N % 

Slegs eksterne kriteriadata 

Slegs interne kriteriadata 

Beide eksterne en interne data 

Geen inligting verstrek nie 

3 

42 

14 

14 

4 

58 

19 

19 

 

van hul OO-programme te bepaal, is veral houdingsveranderinge wat individue ondergaan, 

persone wat OO-programme deurloop se eie subjektiewe verslae oor die doeltreffendheid van 

programme, sowel as OO-praktisyns se menings oor die geslaagdheid daarvan. As die 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

15 

aanname gemaak word dat 'n OO-program wel effektief is op grond van slegs sodanige be-

oordelings, kan die wetenskaplikheid van evaluasie in twyfel getrek word.  

 

Geld en man-ure aan OO-programme bestee  

In die ondersoek is organisasies gevra om aan te dui hoeveel geld en man-ure 

gedurende die twee jaar, wat die ontvangs van die vraelys voorafgegaan het, aan OO-

programme bestee is. Slegs 52 organisasies was bereid om inligting hieroor te verstrek. In 

hierdie 52 organisasies is gesamentlik R2 518 700 gedurende die twee jaar tydperk aan OO-

programme bestee - dit verteenwoordig 'n gemiddeld van meer as R24 000 per organisasie per 

jaar.  

In Tabel 9 word inligting aangaande die verspreiding van bestedings weergegee. 

  

TABEL 9 

 

FONDSE AAN OO-PROGRAMME BESTEE 

 
Organisasies 

Doeltreffendheidskriteria 
N % 

Minder as 1 000 2 3 

    1 000 – 9 000 12 16 

  10 000 – 24 000 9 12 

  25 000 – 49 000 10 14 

  50 000 – 99 000 9 12 

100 000 – 149 000 6 8 

150 000 – 199 000 2 3 

200 000 en meer 2 3 

Geen inligting verstrek nie 21 29 

 

Veertig van die 73 organisasies was bereid om inligting bekend te maak oor die totale 

aantal man-ure aan OO-opleiding bestee oor die bogenoemde twee jaar periode.  Gedurende 

die tydperk is altesaam 324 700 man-ure in hierdie organisasies aan OO-opleiding bestee, ‘n 

gemiddeld van 4 058,75 uur per organisasie per jaar of 507,2 agtuur-werksdae per organisasie 

per jaar.  Die ware aantal man-ure bestee is na alle waarskynlikheid baie meer, aangesien die 

vraag in die vraelys wat oor hierdie aspek gehandel het moontlik verwarrend was.  In baie 

gevalle is slegs die man-ure vermeld wat deur persone in beheer van OO- programme bestee 

is en is die man-ure bestee deur werknemers aan die deurloping van OO- opleiding nie 

bygereken nie. 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

16 

Uit hierdie gegewens is dit egter duidelik dat OO-opleiding in hierdie Suid-Afrikaanse 

organisasies duur is in terme van geld en man-ure daaraan bestee. 

 

Die doeltreffendheid van OO-programme  

Weens die vraagstukke rakende die doeltreffendheid van OO-programme, soos reeds 

verduidelik is, was een van die doelwitte van hierdie opname om te probeer bepaal hoe 

doeltreffend die OO-programme is wat in die organisasies toegepas word. Omdat dit 

onmoontlik is om die doeltreffendheid van hierdie programme op 'n objektiewe wyse tydens 

'n opname soos hierdie te bepaal, is besluit om as 'n uitweg die voltooier van die vraelys te 

versoek om eerstens sy eie siening oor die doeltreffendheid van programme in sy organisasie 

toegepas, op 'n vierpunt skaal, wat strek van uiters effektief na effektief, weer te gee. Inligting 

oor hierdie beoordeling verskyn in Tabel 10.  

 

TABEL 10 

 

VRAELYS-VOLTOOIERS SE BEOORDELING VAN DIE DOELTREFFENDHEID  

VAN OO-PROGRAMME IN HUL ORGANISASIES 

 
Organisasies 

OO-Program beoordeel as 
N % 

 Uiters doeltreffend  4 5 

 Doeltreffend  33 45 

 Soms doeltreffend  16 22 

 Ondoeltreffend  0 0 

 Inligting nie verstrek nie  20 28 

 

In 'n verdere vraag is die voltooiers versoek om aan te dui wat die algemene beskouing 

in hul organisasie is oor die doeltreffendheid van OO-programme wat in hul organisasies 

uitgevoer is.  Die inligting hieroor word in tabel 11 opgesom. 

 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

17 

TABEL 11 

 

DIE ALGEMENE BESKOUING IN ORGANISASIES OOR DIE  

DOELTREFFENDHEID VAN OO-PROGRAMME 

 
Organisasies OO-Programme word in die algemeen beskou as 
N % 

Uiters doeltreffend  1 1 

Doeltreffend  19 26 

Soms doeltreffend  38 52 

Ondoeltreffend  3 4 

Inligting nie verstrek nie  12 17 

 

In teenstelling met Tabel 10, wat aantoon dat die helfte van die vraelys voltooiers die 

OO-programme in hul organisasies toegepas as doeltreffend of uiters doeltreffend beskou, dui 

hierdie mense aan (Tabel 11) dat hulle die algemene siening, ten opsigte hiervan in hulle 

organisasies, as baie minder gunstig waarneem. In die meerderheid gevalle word aangedui dat 

die mees algemene beskouing is dat OO-programme net soms doeltreffend is.  

Die gegewens weergegee in Tabelle 10 en 11 dui op die moontlikheid dat daar heelwat 

meningsverskille bestaan oor die doeltreffendheid van OO-programme. Dit kan waarskynlik 

in 'n groot mate toegeskryf word aan die gebrekkige evaluering van OO-programme soos 

hierbo bespreek is. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die doeltreffendheidsbeoor-

delings in Tabelle 10 en 11 weergegee, bloot subjektiewe menings is.  

Desnieteenstaande die waarskynlike onsekerheid oor die doeltreffendheid van OO-

tegnieke, dui 55 organisasies (75 %) aan dat hulle definitief in die toekoms weer OO-tegnieke 

gaan toepas, 8 organisasies (10 %) dui aan dat hulle dit moontlik weer gaan toepas, terwyl die 

res nie hieroor inligting wou of kon verstrek nie.  

Daar is dus aanduidings dat daar ook in minstens sommige van hierdie organisasies 

onsekerheid bestaan oor die doeltreffendheid van OO-tegnieke. As dit nou gesien word teen 

die agtergrond van uitsprake van skrywers, soos Beer (1976), Bowers (1976) Kahn (1974), 

Tichy (1974) en Levinson (1972), dat daar min bewyse bestaan dat die toepassing van OO-

tegnieke lei tot die verhoging van individuele- en organisasiedoeltreffendheid, dat die 

uitwerking en gevolge wat OO-tegnieke het, nog in 'n groot mate onbekend is en as daar 

verder in ag geneem word dat organisasies heelwat geld en man-ure in die tipe opleiding belê, 

toon dit die noodsaaklikheid daarvan dat organisasies deurgaans behoort te poog om die 

doeltreffendheid van OO-programme te evalueer.  

 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

18 

GEVOLGTREKKINGS 

 

Die belangrikste bevindings van die ondersoek is die volgende:  

'n Verskeidenheid OO-tegnieke word in meeste van die organisasies toegepas en groot 

bedrae geld, 'n gemiddeld van meer as R24 000 per organisasie per jaar, word hieraan bestee.  

Daar is aanduidings dat van die organisasies wetenskaplik te werk gaan in die gebruik 

van OO-tegnieke deurdat hulle vooraf - op 'n wetenskaplike wyse – poog om 'n ontleding of 

diagnose te maak van behoeftes en probleme in al die substelsels van die organisasie. OO-

tegnieke word dan deur deskundiges met genoegsame opleiding en ervaring, toegepas. 

Hierdie OO-tegnieke is tegnieke wat gerig is op die oplossing van die spesifieke 

geïdentifiseerde probleme. Na toepassing van die tegnieke word die doeltreffendheid van OO-

opleiding geëvalueer.  

Aan die ander kant blyk dit dat alhoewel van die organisasies rapporteer dat diagnoses 

van behoeftes en probleme vooraf gemaak word, die gegewens daarop dui dat die diagnose in 

baie van die gevalle op 'n onwetenskaplike, lukraak manier gedoen word. Meer as 'n derde 

van die organisasies pas OO-tegnieke toe wat deel uitmaak van 'n pakket of waaraan hulle 

spesifieke voorkeur gee. Deur dit te doen word aanvaar dat die OO-tegnieke relevant is tot die 

organisasie se spesifieke probleme en dat dit die probleme sal verbeter. Navorsing dui daarop 

dat bogenoemde aannames op onvaste gronde staan.  

Daar word ook in die organisasies tegnieke toegepas waarvan die wetenskaplike basis 

onder verdenking is en waarvan min bekend is oor die doeltreffendheid en uitwerking van die 

tegnieke. Die toepassing van tegnieke is dikwels gerig op die verandering van slegs 'n 

bepaalde organisasie substelsel.  

Organisasies kon of wou in heelwat gevalle nie rekenskap gee van die opleiding en 

ervaring van konsultante wat in hul organisasies die toepassing van OO-tegnieke beplan en 

beheer nie. Daar is ook aanduidings dat die tegnieke in organisasies toegepas word deur 

persone wat nie oor die nodige opleiding en ervaring beskik nie.  

Die doeltreffendheid van OO-tegniek-toepassing word in slegs 3 % van die organisasies 

op 'n wetenskaplike wyse geëvalueer. Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat daar baie 

min bekend is oor die doeltreffendheid, gevolge en uitwerking, wat die toepassing van die 

tegnieke het. Die toedrag van sake kan niks bydra om lig te werp op die bestaande menings-

verskille oor die doeltreffendheid van OO-tegnieke nie.  



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

19 

Alhoewel daar dus aanduidings bestaan dat OO-tegnieke in heelwat van die 

organisasies op 'n wetenskaplike manier beplan, toegepas en geëvalueer word, dui die 

bevindings daarop dat die kritiek wat navorsers oor die toepassing en doeltreffendheid van 

OO-tegnieke uitgespreek het ook waar kan wees ten opsigte van die gebruik van die tegnieke 

in heelwat van hierdie groot Suid-Afrikaanse organisasies.  

Daar bestaan bedenkinge oor veral die wyse waarop organisasieontwikkelingsbehoeftes 

geïdentifiseer word; oor die mate waarin geïdentifiseerde behoeftes as basis vir die beplan-

ning van OO-programme gebruik word; oor die verskynsel dat min pogings aangewend word 

om die doeltreffendheid van OO-programme te evalueer; oor of die persone wat OO-program-

me beplan en beheer deurgaans oor die laboratorium-tipe tegnieke, tegnieke wat in pak-

ketvorm bemark word en spesifieke tegnieke waaraan organisasies voorkeur gee, ongeag die 

besondere probleme en behoeftes van die bepaalde organisasie. Pogings waar die totale 

organisasie en nie net afsonderlike substelsels nie, betrek word, behoort ook meer aandag te 

geniet.  

Die Bedryfsielkundige het 'n belangrike taak en bydrae te lewer ten einde hierdie 

tekortkominge in die toepassing van organisasie-ontwikkelingstegnieke in Suid-Afrika te 

bowe te kom, veral ten opsigte van die uitbouing van die teoretiese basis waarop die 

tegniektoepassing berus, die ontwikkeling van tegnieke om probleemgebiede en opleidings-

behoeftes te identifiseer en om metodes te ontwikkel waarvolgens die doeltreffendheid van 

ingrypings in organisasies geëvalueer kan word. Aan die ander kant moet die betrokke 

bestuurders in organisasies bewus gemaak word van die bestaande probleemareas en moet 

hulle aangemoedig word om groter omsigtigheid aan die dag te lê met betrekking tot al die 

aspekte rakende die toepassing van OO-tegnieke wat hier bespreek is.  

 

OPSOMMING 

 

Inligting oor verskeie aspekte van organisasieontwikkelings-

tegnieke soos toegepas in 73 groot Suid-Afrikaanse 

organisasies dui daarop dat dit soms wetenskaplik goed 

gefundeer is. By andere egter kom heelwat leemtes voor. Die 

spesifieke probleme en moontlike oorsake daarvan word be-

spreek en aanbevelings ter verbetering van organisasie-ontwik-

kelingspraktyk word aan die hand gedoen.  

 

 



Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.1 

Doeltreffendheid van Organisasie-ontwikkelingstegnieke 

(L.D. Coetzee, E.A. Coster en A.M. van Niekerk) 

20 

VERWYSINGS 

 

Argyris, C. Management and Organizational Development: The Path from Xa to Xb. New 

York: McGraw-Hill, 1971.  

Bass, B.M. The anarchist movement and the T-group. Journal of Applied Behavioral Science, 

1967, 3, 211-226.  

Beckhard, R. Organizational Development: Strategies and Models. Reading, Mass.: Addison-

Wesley, 1969.  

Beer, M. The technology of organization development. In Dunnette, M.D. (Red.), Handbook 

of Industrial and Organisational Psychology. Chicago: Rand McNally, 1976.  

Bowers, D.G. OD techniques and their results in 23 organizations: the Michigan ICL study. 

Journal of Applied Behavioral Science, 1973, 9(1), 21-42.  

Bowers, D.G. Organization development: it's promises, performance and possibilities. Pre-

publication Draft, 1976.  

Brown, R.J. & Somerville, J.D. Evaluation of management development programs: an 

innovative approach. Personnel, 1977, 54(4), 28-39.  

Deep, S., Bass, B.M. & Vaughan, J. Some effects on business gaming of previous quasi-T-

group applications. Journal of Applied Psychology, 1967, 51, 426-431.  

Frank, F. Questions and answers on organizational development. Industrial Training 

International, 1976, 11(9), 2.  

Franklin, J.R. Organization Development: an Annotated Bibliography. ISR, The University of 

Michigan. Ann Arbor, Michigan, 1973.  

Friedlander, F. & Brown, D.L. Organization development. Annual Review of Psychology, 

1975, 25, 313-341.  

Huse, E.F. Organizational Development and Change. St. Paul: West Publishing Co., 1975.  

Kahn, R.L. Organization development: some problems and proposals. Journal of Applied 

Behavioral Science. 1974, 10(4), 485-502.  

Levinson, H. The clinical psychologist as organizational diagnostician. Professional 

Psychology, 1972, 3, 34-40.  

Tichy, N. An interview with Max Pages. Journal of Applied Behavioral Science, 1974, 10(1), 

8-26.  

Top Companies. Financial Mail Special Survey, April 22, 1977.  

________________________