(Microsoft Word - 1980 6-4 Sielkundige Diepte-ori\353ntering.doc) SIELKUNDIGE DIEPTE-ORlËNTASIE: 'n KOSEPTUELE OMSKRYWING EN VERFYNING L.C. DE JAGER DEPARTEMENT BEDRYFSIELKUNDE UNIVERSITEIT VAN STELLENBOSCH ABSTRACT An effort is made to define and describe on a conceptual basis the psychological depth dimension of the 4-dimensional classification theory of human behaviour (Raubenheimer, 1978) as a construct of human behaviour. Cognitive and non-cognitive behavioural correlates of different cognitive styles are also related on a logical basis to the construct psychological depth orientation. In die afgelope aantal jare het min, indien enige, globale integrerende teorieë van menslike gedrag die lig gesien waarin vir die samebinding van fundamentele konsepte van gedrag voorsiening gemaak word. Wanneer die vakgebied Bedryfsielkunde krities beskou word, is dit opvallend dat die veld al meer gespesialiseerd raak en gevolglik opgebreek word in 'n aantal mikroteorieë van menslike gedrag. Een rede vir die besonder hoë mate van spesialisasie is waarskynlik die pogings wat gedragwetenskaplikes aanwend om menslike gedrag fyner te omlyn. Hierdie benadering tot 'n geïntegreerde sisteem van kennis is inder- daad 'n aanvaarbare doelstelling van wetenskapsbeoefening. Die toenemende klem op spesialisasie is egter besig om die veld van die Bedryfsiel- kunde te verbrokkel en pogings om ‘n geïntegreerde sisteem van kennis te bou, kom weinig in die literatuur voor. In 'n poging om hierdie versplintering van kennis te probeer voorkom, stel Rauben- heimer (1978) 'n 4-dimensionele klassifikasieteorie van menslike gedrag voor. Hierdie teorie berus op die postulaat dat die mens se vroegste belewenisse hul oorsprong in die fisiese ruimte rondom die individu het. Die dimensies van die fisiese ruimte verkry vir die individu mettertyd sielkundige betekenis sodat hy in sy denkprosesse as't ware binne die sielkundige ruimte rondbeweeg. Die posisie wat die individu in die sielkundige ruimte inneem, behoort beskryf te kan word aan die hand van drie psigiese koördinate, naamlik, lengte (diepte), breedte en hoogte (Raubenheimer, 1978). Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 2 Die drie koördinate van die sielkundige ruimte vorm drie dimensies van die 4- dimensionele teorie. Die vierde dimensie, tyd, word beskou as 'n primêre eerste-orde maatstaf van klassifikasie aangesien tydoriëntasie 'n relatief meer fundamentele bepaler van menslike gedrag is (Augustyn, 1978). Die konseptuele verfyning en omlyning van die diepte-dimensie is die sentrale tema van hierdie artikel en word voorts omskryf en toegelig. DIE DIEPTE-DIMENSIE Dieptewaarneming het te make met die rangskikking van voorwerpe in bepaalde verhoudings tot mekaar en tot die waarnemer daarvan. Hierdie verhoudings is gewoonlik realiteitsgebonde, maar namate voorwerpe verder van die waarnemer af verwyder is, raak dit al hoe moeiliker om die verhoudings tussen voorwerpe suiwer en realisties waar te neem (Raubenheimer, 1978). Die psigiese analoog van dieptewaarneming weerspieël die mate waarin die individu homself kan "distansieer" of sielkundig kan verplaas na situasies en omstandighede weg van hom af. Hy beweeg dus uit na situasies (vreemd of bekend) en konstrueer dit op 'n suiwer en realistiese grondslag in sy geestesoog. Hy probeer dus sy eie posisie in die gekonstrueerde situasie (fisies, psigologies, maatskaplik, sosiaal, menseverhoudings of beroep) suiwer en realisties uitbeeld. Die sielkundige verplasing of uitbeweging na 'n situasie impliseer dat die persoon ook sy eie plek, posisie en rol in die situasie sal bepaal en dat hy 'n evaluasie van die belangrik- heid en rol van elke objek in die situasie sal maak. Die gemak van verplasing (of die gemak waarmee die persoon uitbeweeg op die diepte-dimensie) hang nou saam met empatie en meelewing en behoort te bepaal hoedat hy in 'n situasie gaan optree. Daar behoort dus ook individuele verskille te bestaan wat betref die gemak waarmee individue hulle op die sielkundige diepte-dimensie kan verplaas en die suiwerheid (realiteit) waarmee hulle situasies "weg" van hulle af kan konstrueer. Sommige persone sou hulself dus relatief makliker en "verder" kan verplaas en sou gevolglik ook die situasie meer suiwer en realisties kan konstrueer. Daarenteen sou ander persone hulself weer relatief moeiliker verplaas en gevolglik die situasie nie so realisties en suiwer kan konstrueer nie. Laasgenoemde persone het 'n vaste ankerpunt of verwysingsraamwerk nodig waarbinne hulle hul optrede kan beplan. Hulle gedrag is dus gekoppel aan dit wat "naby" en waarneembaar is. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 3 Afgesien van die voorafgaande definiëring is daar sekere kenmerke van beweging op die diepte-dimensie wat nader toegelig moet word: Afstand van verplasing Verplasing behels nie net die gemak waarmee die individu hom in 'n situasie kan inleef nie, maar ook die afstand waaroor 'n individu hom na 'n bekende of vreemde situasie kan verplaas. Die volgende aspekte kan hier aangestip word * : − Afstand in tyd en rigting van verplasing. Die tydsaspek tree onmiddellik na vore wanneer daar aan verplasing gedink word. Verplasing na die verlede is relatief maklik vir die individu, maar verplasing na 'n situasie in die toekoms is, daarenteen, heelwat moeiliker. Laasgenoemde aspek het te make met die antisipering en vooruitbeplanning van toekomstige gebeure. Nie alle persone kan ewe maklik hierdie beplanningsfunksie uitvoer nie en beplanningsvaardigheid behoort dus logies verband te hou met die afstand van verplasing op die diepte-dimensie. − Fisiese afstand. 'n Tweede aspek is die fisiese afstand waaroor verplasing plaasvind. Die werklike fisiese afstand van verplasing is nie soseer die belangrikste nie. Sommige persone kan hulle ewe gemaklik oor een of oor eenduisend kilometer verplaas en hulle sodoende in 'n situasie inleef. Ander persone, daarenteen, kan hulself nie oor 'n afstand verplaas nie en dit is gevolglik vir hierdie persone moeilik om 'n vreemde situasie realisties te konstrueer. − Kultureel-sosiale afstand. Soms word dit van die individu verwag om homself na 'n ander kultuur of subkultuur as sy eie te verplaas sodat hy homself kan inleef in die gewoontes, en dies meer van die persone in die vreemde kultuur. Party persone vind dit maklik om die "gaping" tussen kulture te oorbrug en hulself in te leef in die vreemde kultuur se gebruike, godsdiens, ensomeer. Aan die ander kant is daar persone vir wie dit uiters moeilik is om sulke situasies, wat kultureel en sosiaal van hulle verwyder is, realisties te konstrueer en te beleef. − Sielkundige afstand. 'n Persoon kan ook sielkundig van 'n situasie verwyder wees. Die sielkundige afstand (verwydering) tussen twee persone kan daartoe aanleiding gee dat die een persoon hom nie in die ander se situasie of omstandighede kan inleef en dit op ‘n realistiese wyse kan konstrueer nie. * Sien De Jager (1979) vir 'n vollediger bespreking in die verband. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 4 Suiwerheid en realisme van konstruksie Die suiwerheid en realisme waarmee konstruksie van 'n situasie plaasvind, hang nou saam met die mate waartoe die individu die situasie empaties meeleef. Sommige persone sal hulle dus in die situasie waarheen verplasing plaasvind so meeleef dat hulle daartoe in staat is om dit realisties en suiwer, met ander woorde, in relevante detail te konstrueer. Hierteenoor behoort persone vir wie dit moeilik is om hulself te verplaas, ook nie daartoe in staat te wees om die situasie op 'n realistiese en suiwer grondslag te konstrueer nie. Die konstruksie van laasgenoemdes sal dus vaag wees en sal irrelevante aspekte van die situasie bevat. In die lig van die voorafgaande bespreking behoort daar dus twee groepe individue te wees, naamlik: − daardie groep wat die situasie waarheen hulle maklik sielkundig uitbeweeg (of waarheen verplasing plaasvind) suiwer en realisties kan konstrueer; en − daardie groep wat dit relatief moeilik vind om hulleself sielkundig na 'n situasie te verplaas (of uit te beweeg) sodat konstruksie van die situasie gevolglik onsuiwer en onrealisties sal wees. Die diepte-dimensie van die 4-dimensionele teorie van menslike gedrag kan gesien word as 'n basiese konstruk van menslike gedrag en behoort dus as sodanig met sekere gedragswyses (kognitief, konatief en affektief) verband te hou (Raubenheimer, 1978). Met bostaande omlyning van sielkundige diepte-oriëntasie in gedagte word die konstruk dus vervolgens op 'n logiese wyse aan kognitiewe en nie-kognitiewe gedrag gekoppel. TEORETIESE KOPPELING VAN SIELKUNDIGE DIEPTE-ORIËNTASIE AAN ANDER ALGEMENE KONSTRUKTE VAN MENSLIKE GEDRAG Die gepostuleerde verband tussen die sielkundige diepte-dimensie en sekere vorme van gedrag (veral kognitief) dui daarop dat beweeglikheid op hierdie dimensie ook verband behoort te hou met daardie konstrukte wat volgens Vernon (1973, p. 139) betrokke is by baie kognitiewe aktiwiteite en wat verantwoordelik is vir individuele verskille in 'n verskeidenheid van kognitiewe-, perseptuele- en persoonlikheidsveranderlikes. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 5 As die omskrywing van sielkundige diepte-oriëntasie indringend beskou word en dit vergelyk word met wat algemeen bekend staan as kognitiewe style, is dit duidelik dat die teoretiese omlyning van sielkundige diepte-oriëntasie as konstruk van menslike gedrag juis hier moet begin. Hierdie benadering word ook as wenslik geag omdat die literatuur nie spesifiek na die beweeglikheid op die diepte-dimensie verwys nie en kognitiewe styl sekere aspekte van diepte-oriëntasie aanraak, hoewel daar tog 'n fundamentele verskil tussen hierdie konstrukte is. Ten einde in staat te wees om die konstruk sielkundige diepte-oriëntasie aan kognitiewe en nie-kognitiewe gedrag te koppel, is dit noodsaaklik om die verskillende kognitiewe style kortliks saam te vat en dan aan te dui hoe die konstruk met die kognitiewe en nie-kognitiewe gedragskorrelate van elkeen verband hou. Veldafhanklikheid - veldonafhanklikheid Veldafhanklikheid verwys na die neiging om op die visuele veld staat te maak wanneer die individu homself vertikaal oriënteer. Veldonafhanklikheid, daarenteen, verwys na die neiging van individue om op liggaamlike prikkels staat te maak wanneer vertikale oriëntasie plaasvind. Laasgenoemde neiging vereis 'n analitiese benadering deur die individu, terwyl eersgenoemde neiging 'n globale benadering vereis (Witkin, Dyk, Faterson, Goodenough & Karp, 1962; Witkin, Lewis, Hertzman, Machover, Meissner en Wapner, 1954). Volgens Witkin, et al. (1954; 1962) kan waarneming as analities (geartikuleerd), in teenstelling met globaal gesien word indien die persoon oor die vermoë beskik om 'n item diskreet van sy agtergrond waar te neem wanneer die veld gestruktureerd is. Wanneer waarneming geartikuleerd is, word die persoon veldonafhanklik genoem. 'n Globale benadering, daarenteen, verwys na veldafhanklikheid. Persone met 'n geartikuleerde kognitiewe styl (veldonafhanklikes) is geneig om 'n geartikuleerde liggaamskonsep te hê en beleef gevolglik hulle liggame as afgebaken en begrensd en toon tekens van 'n goed ontwikkelde gevoel van onafhanklike identiteit (Schimek, 1968; Witkin, 1967; Witkin, et al., 1954; 1962). Veldonafhanklikes, in teenstelling met veldafhanklikes, organiseer julle ondervindinge aktief, gebruik relatief ingewikkelde verdedigingsmeganismes soos isolasie en intellek- tualisering en beleef beide hulle omgewing en liggame op 'n analitiese en gestruktureerde wyse (Witkin, et al. 1954; 1962). Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 6 Veldonafhanklikes presteer relatief beter in take van 'n analitiese en perseptuele aard, terwyl veldafhanklikes beter presteer in take wat verbale vermoë vereis (Clark, 1968; De Fazio, 1973; Witkin, et al., 1962). Die veldafhanklike persoon in vergelyking met veldonafhanklike, word meer deur buitefaktore beïnvloed (Witkin, et al., 1962), is meer emosioneel (Witkin, et al., 1954) is sosiaal afhanklik van ander (Witkin, et al., 1954; 1962), stel belang in beroepe wat meer mens-georiënteerd is (Gruenfeld & MacEachron, 1975), word gekenmerk deur passiwiteit wanneer hulle met die omgewing handel (Witkin, et al., 1954), en is meer geneig tot ekstraversie (Evans, 1967). Wanneer die konseptuele omskrywing van sielkundige diepte-oriëntasie vergelyk word met bostaande omskrywing van veldafhanklikheid-veldonafhanklikheid, wil dit voorkom asof daar 'n verband tussen diepte-oriëntasie en sekere van die gedragsveranderlikes van veldafhanklikheid-onafhanklikheid bestaan. Diegene wat oor die vermoë beskik om hulleself gemaklik sielkundig te verplaas (uit te beweeg) na 'n situasie, behoort byvoorbeeld ook daartoe in staat te wees om hulle omgewing op 'n analitiese wyse te ondervind en te benader, om 'n goed ontwikkelde gevoel van onafhanklike identiteit te hê en om hulle ondervindinge aktief te organiseer. Sonder hierdie vermoëns is dit moeilik om in te sien hoedat 'n persoon homself sielkundig na 'n situasie weg van hom af kan verplaas en daartoe in staat kan wees om die situasie suiwer en realisties te konstrueer. Verder sou daar ook verwag kon word dat die persoon met 'n groot mate van diepte- oriëntasie relatief meer bewus sal wees van sy innerlike behoeftes en motiewe, dat hy minder deur eksterne druk beïnvloed sal word, dat hy geneig sal wees om ‘n beroep te volg wat analitiese en skeppende vermoëns vereis, dat hy sosiaal betrokke sal wees en belangstelling in ander persone se behoeftes en menings sal toon en gevolglik ook meer empaties sal wees. Gelykmaking-verskerping Verskerping verwys na die neiging by individue om stimulusverskille in die stimulusveld te vergroot. Dit beteken dat maksimum kompleksiteit en differensiasie nagestreef word. Die kenmerke van die figuuragtergrond konteks word dus vermeerder en dit kom in sensitiwiteit vir versteekte stimuli en uitbuiting van differensiasie tot uiting. Mense wat gelykmaak is geneig om stimulusverskille te verminder en verkies om dinge as dieselfde te sien eerder as om dit verskillend te sien. Die gelykmaker ondervind gevolglik probleme om figuur van agtergrond te skei. Gelykmakers organiseer 'n veld kenmerkend op 'n eenvoudige Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 7 of diffuse wyse en maak ook staat op ankers en sterk gedefinieerde verwysingsraamwerke om 'n organisasie te behou (Gardner, Holzman, Klein, Linton & Spence, 1959; Holzman & Klein, 1954). Gelykmakers het die neiging om ou en nuwe stimuli te vermeng, terwyl verskerpers in 'n groot mate die geheue van vorige stimuli en die inligting in verband met nuwe stimuli geskei hou (Gardner, et al., 1959). Verder is daar gevind dat verskerpers meer uitgaande is (Klein, 1951), dat hulle behoeftes aan outonomie en prestasie ervaar (Klein, 1951) en dat hulle relatief meer van obsessie as verdedigingsmeganisme gebruik maak (Gardner, et al., 1959). Aangesien die persoon wat gemaklik op die diepte-dimensie uitbeweeg daartoe in staat behoort te wees om dinge afsonderlik van mekaar, maar tog in verhouding tot mekaar, gedifferensieerd en verskillend van mekaar te sien, behoort sodanige persoon sommige van die nie-kognitiewe gedragskorrelate van die verskerper te openbaar. Die persoon met 'n hoë mate van diepte-oriëntasie behoort relatief meer uitgaande te wees, 'n behoefte aan prestasie te toon, asook 'n behoefte aan outonomie te openbaar. Laasgenoemde twee behoeftes behoort gevolglik ook tipiese kenmerke te wees van die persoon wat homself gemaklik kan verplaas na 'n situasie en wat die situasie suiwer en realisties kan konstrueer. Verdraagsaamheid vir onrealistiese ondervindinge Verdraagsaamheid vir onrealistiese ondervindinge word gedefinieer as die aanvaarding van ondervindinge wat nie 'n ooreenstemming is met wat die individu weet die werklikheid is nie (Gardner, et al., 1959). Om 'n situasie waarheen verplasing plaasvind realisties en suiwer te kan konstrueer, behoort die individu daartoe in staat te wees om te onderskei tussen ondervindinge wat nie realisties is nie en die wat wel realisties is. Die persoon wat gemaklik op die diepte-dimensie uitbeweeg behoort dus relatief min verdraagsaamheid vir onrealistiese ondervindinge te openbaar. Kategoriewydte Kategoriewydte verwys na die omvang van stimuli wat in dieselfde klas of kategorie geplaas word en wat dieselfde gemeenskaplike naam ontvang (Gardner, et al., 1959). Sommige persone sien redelik uiteenlopende dinge as dieselfde, terwyl ander dit weer nie so Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 8 sien nie. Kategorisering is ook nou verwant aan die neem van risiko's (Bruner & Tajfel, 1961; Pettigrew, 1958). Sommige persone sal die risiko loop om sekere dinge by 'n kategorie in te sluit of sekere dinge wat eintlik in die kategorie tuishoort weg te laat (Pettigrew, 1958). Dit is uiters moeilik om hierdie styl logies aan die sielkundige diepte-dimensie te koppel aangesien beide sielkundige verplasing na en konstruksie van 'n situasie weinig te doen het met kategoriseringsgedrag. Die persoon met 'n hoë mate van diepte-oriëntasie kan dus 'n nou of 'n wye kategoriseerder wees. Daar kan gevolglik tot die gevolgtrekking geraak word dat diepte-oriëntasie en kategoriewydte onafhanklik is. Skandering Skandering verteenwoordig die mate van aandagontplooiing met betrekking tot voorwerpe, kenmerke van voorwerpe en gebeure. Dit bestaan uit twee aspekte, naamlik: − 'n neiging om bewustheid te beperk en om belewenisse diskreet te hou; en − 'n neiging om emosie van idee te skei (Schlesinger, 1954). Die ekstensiewe skandeerder is 'n persoon wat van baie aspekte van die stimulusveld bewus is omdat hy die veld deeglik skandeer of daaraan aandag skenk. Die beperkte skandeerder, daarenteen, se aandagontplooiing is heelwat nouer (Gardner, 1959; Gardner, et al., 1959). Met ekstensiewe skandering word voorts geïmpliseer dat irrelevanthede uit die belewenis van 'n persoon geskakel word (Schlesinger, 1954). Ekstensiewe skandeerders maak in 'n groter mate as beperkte skandeerders van isolasie en projeksie as verdedigingsmeganismes gebruik (Benfari, 1966; Gardner & Long, 1962). Ekstensiewe skandeerders is ook minder emosioneel en raak nie maklik by ander persone betrokke nie. (Schlesinger, 1954). Aangesien die persoon met 'n hoë mate van diepte-oriëntasie (wat verplasing na en konstruksie van 'n situasie betref) bewus moet wees van verskeie aspekte van die omgewing, daartoe in staat moet wees om belewenisse diskreet te hou en irrelevante aspekte uit sy belewenis te skakel en besorg moet wees oor eksaktheid, kan daar geredeneer word dat daar 'n positiewe verband tussen diepte-oriëntasie en die verdedigingsmeganisme projeksie behoort te bestaan. Gevolglik behoort die diepte-georiënteerde persoon ook minder emosioneel te wees en ook nie maklik emosioneel by ander persone betrokke te raak nie. Laasgenoemde eien- skappe is van belang by veral die realistiese en suiwere konstruksie van 'n situasie. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 9 Interne teenoor eksterne kontrole van versterking Interne-eksterne kontrole verwys na die mate waartoe 'n individu voel dat hy beheer oor die versterkings of belonings het wat relatief tot sy gedrag voorkom. Eksterne kontrole kom voor by persone wat voel dat faktore buite hulle beheer (faktore soos geluk, noodlot en toeval) verantwoordelik is vir die voorkoms van 'n versterking (James & Rotter, 1958). Interne kontrole kom voor wanneer 'n individu voel dat hy sy eie lot beheer en dat hy die enigste persoon is wat bepaal of 'n versterking sal voorkom of nie (Rotter, 1954; 1966). Persone wat interne kontrole openbaar, toon dieper insig in probleme (Tolor & Reznikoff, 1967), onthou inligting langer (Phares, 1968), neem stadiger besluite (Rotter & Mulry, 1965) en is minder geneig om risiko's te loop (Liverant & Scodel,1960). Hulle dink ook in die algemeen meer aktief aan hulle omstandighede (Lefcourt & Telegdi, 1971), hulle verken omstandighede beter (Lefcourt & Telegdi, 1971), bied meer weerstand teen oorreding (Rotter, 1966), is meer bewus van hulle eie toestand (Seeman & Evans, 1962), ervaar die prestasiebehoefte meer intens (Rotter & Mulry, 1965) en is geneig om meer inligting omtrent ander persone te soek (Davis & Phares, 1967). Dit wil voorkom asof heelwat van die kenmerke van die interne persoon, soos dit hierbo uiteengesit is, baie nou saamhang met die kenmerke van 'n persoon wat maklik op die diepte-dimensie uitbeweeg. As laasgenoemde persoon homself gemaklik na 'n situasie wil verplaas en daardie situasie suiwer en realisties wil konstrueer, behoort hy dieper insig in probleme te toon, minder geneig te wees om risiko's te loop, meer intensief oor sy om- standighede te dink, sy omstandighede beter te verken, meer bewus te wees van sy eie posisie, inligting langer te onthou, meer weerstand teen oorreding te bied en geneig te wees om meer inligting omtrent ander persone te soek. Kompleksiteit-simplisiteit Die sentrale gedagte van kognitiewe kompleksiteit is op die vermoë van die individu om die gedrag van ander te differensieer, toegespits (Bieri, 1961; 1971). Dit handel uitsluitlik oor die verwerking van inligting vanuit die sosiale wêreld. Die meer kognitief komplekse persoon het 'n groter aantal beskikbare dimensies as die minder kognitief komplekse persoon waarmee hy die gedrag van ander kan verklaar. Omdat die kognitief komplekse persoon meer dimensies het waarmee hy sy sosiale omgewing kan verklaar, is hy ook meer akkuraat met die voorspelling van ander se gedrag (Beiri, 1961; 1971) Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 10 Kognitiewe kompleksiteit hou positief verband met sosiale intelligensie (Sechrest & Jackson, 1961), buigsaamheid, impulsiwiteit, onafhanklikheid en oorspronklikheid (Barron, 1953). Daar is ook gevind dat persone wat kompleksiteit verkies, geneig is om goeie smaak, wye belangstelling en artistieke uitdrukking te openbaar (Barron, 1953), skeppend te wees (Barron, 1963), realistiese beroepskeuses te maak (Bodden, 1970), geïntegreerde geheel- indrukke van ander persone te vorm (Nidorf & Crockett, 1965), en dogmaties te wees (Nidorf & Argabrite, 1968). As die konseptuele omlyning van die konstruk diepte-oriëntasie in gedagte gehou word, behoort die persoon wat homself maklik verplaas op die diepte-dimensie daartoe in staat te wees om ander se gedrag akkuraat te voorspel, 'n breë belangstelling te hê, skeppend te wees, geïntegreerde geheelindrukke van ander te kan vorm en om relatief onafhanklik en oorspronklik te wees. Repressie-sensitisering Individue kan op 'n kontinuum van sielkundige verdedigings geplaas word wat strek van repressie tot sensitisering met betrekking tot hulle kenmerkende wyse van optrede in die teenwoordigheid van dreigende stimuli (Byrne, 1961; 1964; Byrne, Barry & Nelson, 1963). Met die ontwikkeling van verskillende objektiewe en goed gestandaardiseerde skale vir die meting van repressie-sensitisering, het navorsers (Altrocchi, Parsons & Dickoff, 1960; Byrne, et al., 1963) al hoe meer belangstelling begin toon in die sielkundige- en gedragsver- anderlikes wat met repressie en sensitisering korreleer. Repressors en sensitiseerders openbaar verskillende temperamentpatrone. Eersgenoemde gebruik die verdedigingsmeganismes van ontkenning, repressie en die vermyding van stimuli wat emosioneel belaai is (Byrne, 1964). Sensitiseerders, daarenteen, reageer teenoor soortgelyke stimuli deur intellektualisering, bepeinsing, of die openbaring van obsessionele en kompulsiewe gedrag (Byrne, 1964). Vanuit voorgaande bespreking van repressie-sensitisering wil dit tog voorkom asof 'n logiese koppeling gemaak kan word tussen diepte-oriëntasie en sommige van die nie- kognitiewe gedragskorrelate van repressors en sensitiseerders. Daar behoort 'n positiewe verband tussen intellektualisering en bepeinsing en diepte-oriëntasie te bestaan. Albei hierdie eienskappe behoort aanwesig te wees by die persoon wat homself gemaklik sielkundig kan verplaas na 'n situasie en wat die situasie realisties en suiwer kan konstrueer. Daarenteen behoort sodanige persoon emosioneel belaaide stimuli te vermy en te onderdruk. Daar kan dus verwag word dat vermyding en repressie negatief met diepte-oriëntasie sal korreleer. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 11 Konseptuele style Konseptuele style bestaan uit drie kategorieë van kognitiewe style wat veral by kinders voorkom. Hierdie drie style staan as die kategoriese, beskrywende en verwante style bekend (Kagan, Moss & Sigel, 1963; Kagan, Rosman, Day, Albert & Phillips, 1964). Die beskrywende (analitiese) individu vorm konsepte op grond van gemeenskaplike kenmerke van stimuli (byvoorbeeld 'n horlosie en 'n liniaal het albei syfers). Hierdie styl word analitiese konseptualisering genoem omdat die individu ooreenkomste tussen konkrete detail van stimuli in ag neem. Omgewingstimuli word dus in onderdele opgebreek en die individu hanteer hierdie stimuli as diskrete eenhede (Coop & Sigel, 1971; Kagan, et al., 1963; Robinson & Gray, 1974). Die beskrywende (analitiese) persoon is huiwerig om op vriende en familie staat te maak alhoewel hy baie in sosiale erkenning en intellektuele bemeestering belangstel (Kagan, et al., 1964). Analitiese persone leer ook analitiese konsepte makliker as wat hulle verwante of afgeleide konsepte leer (Kagan, et al. 1963; 1964), is meer gemotiveerd om prestasie- verwante doelstellings te bereik (Kagan, et al., 1963), is meer ambisieus (Kagan, et al., 1963) en geneig om ontspanne, emosioneel stabiel en onafhanklik te wees (Sigel, Jarman & Hanesian, 1967). Die verwante styl verwys na die voorkeur om voorwerpe in die omgewing op grond van die funksionele verhouding wat daar tussen hulle bestaan te groepeer (byvoorbeeld, 'n hond word gebruik om skape aan te jaag). Na hierdie styl word as globale, samehangende of tematiese groepering verwys omdat 'n individu 'n volle stimulus met 'n ander volle stimulus assosieer om 'n interafhanklike funksionele verhouding daar te stel eerder as om 'n konsep te vorm (Coop & Sigel, 1971; Kagan, et al., 1963; Robinson & Gray, 1974). Persone wat verwante konsepte verkies is meer afhanklik, relatief minder ambisieus en meer emosioneel labiel (Sigel, et al.,1967). Die kategoriese reaksie verwys na die gebruik van gemeenskaplike klasse om stimuli in verband te bring (byvoorbeeld, 'n hond en 'n skaap is albei diere). Hierdie styl word na verwys as 'n afgeleide wyse van konseptualisering omdat die gebruik van abstrakte name 'n manier is om die gedetailleerde verhouding tussen stimuli op te som (Coop & Sigel, 1971; Kagan, et al., 1963; Robinson & Gray, 1974). Geen objektiewe kenmerk word uitgesonder as grondslag van klassifikasie nie. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 12 Vir die doeleindes van hierdie bespreking word konseptuele style in twee breë kategorieë saamgevat. Die eerste styl word die analitiese (beskrywende) styl genoem en die tweede die nie-analitiese (verwante en kategoriese) styl genoem. Hierdie groepering van style in analitiese en nie-analitiese style word deur Kagan et al. (1963) en Kagan, et al. (1964) aanbeveel. In 'n studie deur Wachtel (1968) is daar 'n verwantskap tussen die beskrywende (analitiese) konseptuele styl en die dimensie veldonafhanklikheid gevind. Daar is ook vroeër aangedui hoedat die diepte-dimensie met sekere van die nie-kognitiewe gedragskorrelate van veldafhanklikheid-veldonafhanklikheid verband behoort te hou. As gevolg van hierdie interverwantskap behoort diepte-oriëntasie positief met sosiale erkenning, emosionele stabiliteit, sosiale onafhanklikheid en prestasiebehoefte verband te hou. Laasgenoemde gedragskorrelate is tipies van die analitiese styl (Sigel, et al., 1967). Wat die nie-analitiese styl (kategories en verwant) betref, behoort diepte-oriëntasie negatief te korreleer met sosiale afhanklikheid en emosionele labiliteit. Refleksie-impulsiwiteit Refleksie-impulsiwiteit is een van die baie determinante van analitiese en nie-analitiese houdings. Refleksie-impulsiwiteit verwys na die mate waartoe 'n persoon oor die geldigheid van die oplossing tot 'n probleem reflekteer (nadink), indien daar verskeie alternatiewe oplossings is en daar onsekerheid bestaan oor welke oplossing die korrekte een is. Sommige persone reageer vinnig deur 'n alternatief te kies en maak gevolglik dikwels foute. Sodanige persone word as impulsief beskou. Ander persone neem egter 'n tydjie om oor die verskillende alternatiewe te besin voordat een gekies word. Hulle is gewoonlik reg in hulle keuse en word reflektief genoem (Kagan, et al., 1964; Massari, 1975; Messer, 1976). Refleksie-impulsiwiteit hou verband met die kwaliteit van induktiewe redenering (Kagan, Pearson & Welch, 1966). Daar is gevind dat impulsiewe kinders meer geneig is om foute in induktiewe redeneringsprobleme te maak. Reflektiewe persone, in teenstelling met impulsiewe persone, is beter probleemoplossers en beter beplanners (Mann, 1973). Voorts is daar ook gevind dat impulsiewe kinders meer foute in 'n herroeptaak maak (Kagan & Kogan, 1970), rusteloos, hiperaktief, hiperaggressief, emosioneel onbeheersd (Kagan, 1965; Kagan, 1966; Kagan, et al., 1964; Kagan & Kogan, 1970) en risikonemend is (Kopfstein, 1973). Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 13 Om 'n situasie suiwer en realisties te kan konstrueer behoort die persoon die situasie waarheen hy homself verplaas te kan oordink en beredeneer. Sodanige persoon behoort dus nie impulsief op te tree nie, maar eerder oor die situasie te reflekteer of na te dink. Met bogenoemde gedragskorrelate van reflektiewe en impulsiewe persone in gedagte, kan diepte-oriëntasie logies aan sommige van hierdie gedragskorrelate gekoppel word. Diepte-oriëntasie behoort dus positief met probleemoplossing en kwaliteit van beplanning te korreleer. Voorts behoort diepte-oriëntasie negatief met die aantal foute in 'n herroeptaak, emosionele beheerstheid en risikoneming te korreleer. Alhoewel daar verwag kan word dat die persoon met 'n hoë mate van diepte-oriëntasie 'n mate van aggressie behoort te openbaar, word daar voorsien dat die bepaalde posisies op die diepte-dimensie geen verband met hiperaggressie en hiperaktiwiteit behoort te toon nie. Op grond van die voorgaande koppeling van sielkundige diepte-oriëntasie met kognitiewe en nie-kognitiewe gedrag, behoort die posisie wat 'n persoon op die sielkundige diepte-dimensie inneem positief met die volgende te korreleer: ekstraversie, bewustheid van innerlike behoeftes en motiewe, outoritêre houding, strewe na selfaktualisering, strewe na prestasie, skeppende en analitiese beroepe (byvoorbeeld argitektuur, uitvoerende kunste en besigheid), belangstelling in ander persone se behoeftes, gevoelens en menings, empatie, strewe na outonomie, die verdedigingsmeganisme projeksie, emosionele stabiliteit, insig in probleme en probleemoplossing, bewustheid van persoonlike posisie, akkuraatheid van voorspelling van ander se gedrag, wye belangstelling, skeppendheid, vorming van geïntegreerde geheelindrukke, die verdedigingsmeganisme intellektualisering, bepeinsing, nadenkendheid en kwaliteit van beplanning. Plasing op die sielkundige diepte-dimensie behoort verder ook negatief met die volgende te korreleer: beïnvloeding deur eksterne druk, aggressie, verdraagsaamheid vir onrealistiese ondervindinge, emosionele betrokkenheid, risikoneming, weerstand teen oorreding, konformering, sosiale afhanklikheid, onderdrukking en vermyding van emosioneel belaaide stimuli en aantal foute in 'n herroeptaak. Laastens is daar ook ‘n aantal gedragsvorme waarmee sielkundige diepte-oriëntasie geen verband behoort te toon nie, te wete: repressie, kategoriseringsgedrag, hiperaktiwiteit en hiperaggressie. Dit is van belang om daarop te let dat die verskillende kognitiewe style in die literatuur slegs in enkele gevalle empiries met mekaar 'n verband toon. Sielkundige diepte-oriëntasie, Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 14 daarenteen, toon 'n logiese verband met sekere aspekte van 'n relatief groot aantal kognitiewe style en hul kognitiewe en nie-kognitiewe gedragskorrelate. Hierdie verskynsel versterk die aanname dat die konstruk sielkundige diepte-oriëntasie 'n wye reeks van konstrukte insluit. Dit op sigself beklemtoon die meer fundamentele aard van die sielkundige diepte-dimensie. OPSOMMING Die sielkundige diepte-dimensie as konstruk van menslike gedrag in die 4-dimensionele klassifikasieteorie van menslike gedrag (Raubenheimer, 1978) word konseptueel omskryf en afgebaken. Kognitiewe en nie-- kognitiewe gedragskorrelate van verskillende kognitiewe style word ook op 'n logiese wyse aan die konstruk sielkundige diepte-oriëntasie gekoppel. VERWYSINGS Altrocchi, J., Parsons, O.A. & Dickoff, H. Changes in self-ideal discrepancy in repressors and sensitizers. Journal of Abnormal and Social Psychology, 1960, 61(1), 67-72. Augustyn, J.C.D. Tyd as 'n Fundamentele Konsep in Menslike Gedrag met Spesifieke Verwysing na die Beroeps- en Bedryfswêreld. Ongepubliseerde Doktorale Proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1978. Barron, F. Complexity-simplicity as a personality dimension. Journal of Abnormal and Social Psychology, 1953, 48(2), 163-172. Barron, F. Creativity and Psychological Health. Princeton, N.J.: Van Nostrand, 1963. Benfari, R. Defence and control: further indications. Perceptual and Motor Skills, 1966, 22, 736-738. Beiri, J. Complexity-simplicity as a personality variable in cognitive and preferential behavior. In D.W. Fiske & S.R. Maddi (Reds.), Functions of Varied Experience. Homewood, Illinois: Dorsey, 1961. Beiri, J. Cognitive structures in personality. In H.M. Schroder & P. Suedfeld (Reds.), Personality Theory and Information Processing. New York: Ronald Press, 1971. Bodden, J.L. Cognitive complexity as a factor in appropriate vocational choice. Journal of Counselling Psychology, 1970, 17, 364-368. Bruner, J.S. & Tajfel, H. Cognitive risk and environmental change. Journal of Abnormal and Social Psychology, 1961, 62(2), 231-241. Byrne, D. The repression - sensitization scale: rationale, reliability, and validity. Journal of Personality, 1961, 29, 334-349. Byrne, D. Repression-sensitization as a dimension of personality. In B.A. Maher (Red.), Progress in Experimental Personality Research. New York: Academic Press, 1964. Byrne, D., Barry, J. & Nelson, D. Relation of the revised repression sensitization scale to measures of self-description. Psychological Reports, 1963, 13, 323-334. Clark, S.L. Authoritarian attitudes and field dependence. Psychological Reports, 1968, 22, 309-310. Coop, R.H. & Sigel, I.E. Cognitive style: implications for learning and instruction. Psychology in the Schools, 1971, 8, 152-161. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 15 Davis, W.L. & Phares, E.J. Internal-external control as a determinant of information-seeking in a social influence situation. Journal of Personality, 1967, 35, 547-561. De Fazio, V.J. Field articulation differences in language abilities. Journal of Personality and Social Psychology, 1973, 25(3), 351-356. De Jager, L.C. Sielkundige Diepte-Oriëntasie as Determinant Van Menslike Gedrag met Spesifieke Verwysing na die Beroepswêreld. Ongepubliseerde Doktorale Proefskrif, Randse Afrikaanse Universiteit, 1979. Evans, F.J. Field dependence and the Maudsley Personality Inventory. Perceptual and Motor Skills, 1967, 24, 526. Gardner, R.W. Cognitive control principles and perceptual behavior. Bulletin of the Menninger Clinic, 1959, 23(6), 241-248. Gardner, R.W., Holzman, P.S., Klein, G.S., Linton, H. & Spence, D.P. Cognitive control: a study of individual consistencies in cognitive behavior. Psychological Issues, 1959, 1 (4, Monografie 4). Gardner, R.W. & Long, R.I. Control, defence and concentration effect: a study of scanning behavior. British Journal of Psychology, 1962, 53(2), 129-140. Gruenfeld, L. & MacEachron, A.E. A cross-national study of cognitive style among managers and technicians. International Journal of Psychology, 1975, 10, 27-55. Holzman, P.S. & Klein, G.S. Cognitive-system principles of levelling and sharpening: individual differences in assimilation effects in visual time-error. Journal of Psychology, 1954, 37, 105-122. James, W.H. & Rotter, J.B. Partial and 100% reinforcement under chance and skill conditions. Journal of Experimental Psychology, 1958, 55, 397-403. Kagan, J. Impulsive and reflective children: significance of conceptual tempo. In J. Krumboltz (Red.), Learning and the Educational Process. Chicago: Rand McNally, 1965. Kagan, J. Body build and conceptual impulsivity in children. Journal of Personality, 1966, 34, 118-128. Kagan, J. & Kogan, N. Individual variation in cognitive processes. In P. Mussen (Red.), Carmichael's Manual of Child Psychology (Vol. 1). New York: Wiley, 1970. Kagan, J. Moss, H.A. & Sigel, I.E. Psychological significance of styles of conceptualization. Monographs of the Society for Research in Child Development, 1963, 28(86), 73-112. Kagan, J., Pearson, L. & Welch, L. Conceptual impulsivity and inductive reasoning. Child Development, 1966, 37, 583-594. Kagan, J. Rosman, B.L., Day, D., Albert, J. & Phillips, W. Information processing in the child: significance of analytic and reflective attitudes. Psychological Monographs, 1964, 78 (1 Deel 578). Klein, G.S. The personal world through perception. In R.R. Blake & G.V. Ramsey (Reds.), Perception: An Approach to Personality. New York: Ronald, 1951. Kopfstein, D. Risk-taking behavior and cognitive style. Child Development, 1973, 44, 190- 192. Lefcourt, H.M. & Telegdi, M.S. Perceived locus of control and field dependence as predictors of cognitive activity. Journal of Consulting and Clinical Psychology, 1971, 37, 53-56. Liverant, S. & Scodel, A. Internal and external control as determinants of decision making under conditions of risk. Psychological Reports, 1960, 7, 59-67. Mann, L. Differences between reflective and impulsive children in tempo and quality of decision making. Child Development, 1973, 44, 274-279. Massari, D.J. The relation of reflection-impulsivity to field dependence - independence and internal-external control in children. Journal of Genetic Psychology, 1975, 126, 61-67. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1980 6.4 Sielkundige Diepte-Oriëntasie (L.C. de Jager) 16 Messer, S.B. Reflection-impulsivity: a review. Psychological Bulletin, 1976, 83(6), 1026- 1052. Nidorf, R.J. & Argabrite, A.H. Dogmatism, sex of the subject, and cognitive complexity. Journal of Projective Techniques, 1968, 32, 585-588. Nidorf, L.J. & Crockett, W.H. Cognitive complexity and the integration of conflicting information in written impressions. Journal of Social Psychology, 1965, 66, 165-169. Pettigrew, T.F. The measurement and correlates of category width as a cognitive variable. Journal of Personality, 1958, 26, 532-544. Phares, E.J. Differential utilization of information as a function of internal-external control. Journal of Personality, 1968, 36, 649-662. Raubenheimer, I. van W. Raamwerk vir die ontwikkeling van 'n 4-dimensionele teorie van menslike gedrag. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde, 1978, 4.5, 33-72. Robinson, J.E. & Gray, J.L. Cognitive style as a variable in school learning. Journal of Educational Psychology, 1974, 66(4), 793-799. Rotter, J.B. Social Leaning and Clinical Psychology. Englewood Cliffs Prentice Hall, 1954. Rotter, J.B. Generalized expectancies for internal versus external control of reinforcement. Psychological Monographs, 1966, 10 (1, Deel Nr. 609). Rotter, J.B. & Mulry, R.C. Internal versus external control of reinforcement and decision time. Journal of Personality and Social Psychology, 1965, 2(4), 598-604. Schimek, J.G. Cognitive styles and defences: a longitudinal study of intellectualization and field independence. Journal of Abnormal Psychology, 1968, 73, 575-580. Schlesinger, H.J. Cognitive attitudes in relation to susceptibility to interference. Journal of Personality, 1954, 22, 354-374. Sechrest, L. & Jackson, D.N. Social intelligence and accuracy of interpersonal predictions. Journal of Personality, 1961, 29, 167-182. Seeman, M. & Evans, J.W. Alienation and learning in a hospital setting. American Sociological Review, 1962, 27, 772-783. Sigel, I., Jarman, P. & Hanesian, H. Styles of categorization and their intellectual and personality correlates in young children. Human Development, 1967, 10, 1-17. Tolor, A. & Reznikoff, M. Relation between insight, repression-sensitization, internal- external control, and death anxiety. Journal of Abnormal Psychology, 1967, 72(5), 426- 430. Vernon, P.E. Multivariate approaches to the study of cognitive styles. In J.R. Royce (Red.), Multivariate Analysis and Psychological Theory. New York: Academic Press, 1973. Wachtel, P.L. Style and capacity in analytic functioning. Journal of Personality, 1968, 36, 202-212. Witkin, H.A. A cognitive style approach to cross-cultural research. International Journal of Psychology, 1967, 2(4), 233-250. Witkin, H.A., Dyk, R.B., Faterson, H.F., Goodenough, D.R. & Karp, S.A. Psychological Differentiation: Studies of Development. New York: Wiley, 1962. Witkin, H.A., Lewis, H.B., Hertzman, M., Machover, K., Meissner, P.B. & Wapner, S. Personality Though Perception: An Experimental and Clinical Study. New York: Harper, 1954. _____________________