Microsoft Word - 1981 7-1 Faktorstruktuur v SA Persoonlikheidsvraelys.doc 'N ONTLEDING VAN DIE FAKTORSTRUKTUUR VAN DIE SUID-AFRIKAANSE PERSOONLIKHEIDSVRAELYS J.C.D. AUGUSTYN DEPARTEMENT BEDRYFSIELKUNDE RANDSE AFRIKAANSE UNIVERSITEIT ABSTRACT In order to further clarify its factor structure the South African Personality Questionnaire is administered along with the Thurstone Temperament Schedule to a sample of 191 students. The results are factor analysed and the resulting factor matrix is rotated by means of an orthogonal (Varimax) rotation. Results indicate a factor structure consisting of five factors which are almost exact replicas of the factors found by Steyn (1974). The use of the South African Personality Questionnaire in future research is strongly recommended. 'n Oorsig van onlangse studies in Suid-Afrika binne die breë veld van persoonlikheid dui daarop dat in bykans al hierdie studies gebruik gemaak word van persoonlikheidsvraelyste met 'n buitelandse oorsprong. Instrumente wat dikwels gebruik word is TAT (Van der Spuy, 1970); angsskale soos die IPAT (Botha, 1976); persoonlikheidsvraelyste soos die 16 PF (Aspeling, 1979) en EPI (Brophy, 1977) en aanpassingskale soos die Rotter (De Vos, 1978). Hoewel die Suid-Afrikaanse Persoonlikheidsvraelys reeds sedert 1974 vrylik beskikbaar is, wil dit voorkom asof hierdie vraelys op die huidige stadium baie beperkte (indien enige) gebruik vind in persoonlikheidsnavorsing. Die vraelys is spesifiek vir Suid- Afrikaanse toestande deur die Nasionale Instituut vir Personeelnavorsing ontwikkel. Die Suid-Afrikaanse Persoonlikheidsvraelys fokus primêr op normale gedragsfunksionering en is besonder geskik vir toepassing in die bedryf, in die beroepsvoorligting en in ander situasies waar 'n betroubare meting van persoonlikheidstrekke benodig word. Dit is derhalwe jammer dat navorsers nie dié vraelys meer dikwels vir persoonlikheids- meting oorweeg nie. Bo en behalwe die Suid-Afrikaanse oorsprong van die vraelys is dit konseptueel en empiries besonder goed saamgestel en toon dit 'n besondere hoë interne Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1981 7.1 Faktorstruktuur van die SA Persoonlikheidsvraelys (J.C.D. Augustyn) 2 bestendigheid oor verskillende steekproewe asook 'n bevredigende faktorstruktuur (Steyn, 1974). Hierdie ondersoek had primêr ten doel om die faktorstruktuur van die Suid-Afrikaanse Persoonlikheidsvraelys weer eens te ondersoek ten einde veral die psigometriese suiwerheid van hierdie meetinstrument te demonstreer. METODE Die Suid-Afrikaanse Persoonlikheidsvraelys is tesame met die Thurstone Temperament Schedule (Thurstone, 1950) by 'n steekproef van 191 tweede- en derdejaarstudente in Bedryfsielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch geadministreer. Die Thurstone Temperament Schedule (Thurstone, 1950) is as addisionele meetinstrument gekies op grond van besonder goeie resultate wat met hierdie meetinstrument in vorige navorsing verkry is (Augustyn, 1978) en ten einde sekere subskale van die Suid-Afrikaanse Persoonlikheids- vraelys soos sosiale responsiwiteit en dominansie te dupliseer. Die verkreë subtoets-interkorrelasiematriks is deur middel van die SPSS-program (Nie, Hull, Jenkins, Steinbrenner en Bent, 1975) aan 'n hoofkomponent faktoranalise onderwerp. 'n Eigenwaarde van 1,0 het as afsnypunt vir die faktore gedien en hierdie faktore is geroteer deur middel van 'n ortogonale (Varimaks) rotasie. Steyn (1974) het by die ontwikkeling van hierdie vraelys 'n skuinsrotasie gebruik. Die Varimaksrotasie is in hierdie studie egter spesifiek gekies ten einde elke faktor tot sy mees eenvoudige struktuur te reduseer. Dit is weliswaar 'n nadeel van die betrokke tipe rotasie dat daar vooraf van die veronderstelling uitgegaan word dat die korrelasie tussen faktore nul is. Aangesien daar egter nie beplan is om hoër-orde faktoranalise te doen nie is daar geoordeel dat meer voordele verbonde is aan die vereenvoudiging van die spesifieke faktore (kolomme in die faktormatriks) deur 'n Varimaksrotasie in teenstelling met die verkryging van 'n interkorrelasiematriks (vir potensiele hoërorde faktoranalise) tussen faktore deur middel van skuinsrotasie. RESULTATE EN BESPREKING Die geroteerde faktormatriks het vyf duidelik onderskeibare faktore opgelewer. Die faktorbeladings op hierdie vyf faktore word in Tabel 1 aangedui: Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1981 7.1 Faktorstruktuur van die SA Persoonlikheidsvraelys (J.C.D. Augustyn) 3 Tabel 1 is dit duidelik dat die gesamentlike faktoranalise van die Suid-Afrikaanse Persoonlikheidsvraelys en die Thupstone Temperament Schedule 'n relatief eenvoudige en duidelik interpreteerbare faktorstruktuur opgelewer het. Faktor 1 word gedefinieer deur 'n hoë positiewe belading van die SAPV se angsskaal en hoë negatiewe beladings deur emosionele stabiliteit (TTS) en aktiwiteit (TTS). Hierdie faktor is bykans identies aan Faktor I wat verkry is by die oorspronklike ontwikkeling van die SAPV en bevestig dat beangstheid en emosionele onsekerheid 'n kenmerk is van hoë presteerders op meetmiddels met hoë beladings op hierdie faktor. Kenmerkend van Faktor II is die hoë positiewe belading wat vyandigheid (as subskaal van die SAPV) daarop het. Sosiabiliteit (TTS) en aktiwiteit (TTS) toon relatief hoë negatiewe Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1981 7.1 Faktorstruktuur van die SA Persoonlikheidsvraelys (J.C.D. Augustyn) 4 beladings op hierdie faktor. Hierdie faktor kom baie nou ooreen met die oorspronklike Faktor V van die SAPV en beskryf gedrag wat vyandig, onsosiaal en onaktief is. Die subskaal buigsaamheid van die SAPV toon 'n hoë positiewe belading op Faktor III terwyl die subskaal impulsiwiteit (TTS) 'n hoë negatiewe belading op hierdie faktor het. Hierdie faktor toon sterk ooreenkoms met die oorspronklike Faktor IV van die SAPV en bevestig dat hoë presteerders op meetmiddels met hoë beladings op hierdie faktor 'n ordelike, onbuigsame en nie-impulsiewe gedragspatroon handhaaf. Faktor V word gekenmerk deur 'n hoë positiewe belading wat dominansie (SAPV), dominansie (TTS), aktiwiteit (TTS) en lewenskragtigheid (TTS) daarop het. Buigsaamheid toon 'n hoë negatiewe belading op hierdie faktor. Hierdie faktor is bykans 'n presiese replika van Faktor III wat by die SAPV gevind is en beskryf aktiewe, lewenskragtige en dominante gedrag. Uit die voorafgaande resultate is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse Persoonlikheids- vraelys vyf faktore oplewer en dat hierdie faktore onderskeidelik die konstrukte sosiale responsiwiteit, angs, vyandigheid, buigsaamheid en dominansie beskryf. Hierdie resultaat bevestig in 'n groot mate die faktorstruktuur wat Steyn (1974) gevind het deur die Suid- Afrikaanse Persoonlikheidsvraelys en die 16 PF te faktoranaliseer. GEVOLGTREKKING Hierdie ondersoek bevestig dat die Suid-Afrikaanse Persoonlikheidsvraelys (ten minste sover dit sy faktorstruktuur aangaan) 'n besondere suiwer instrument vir algemene persoonlik- heidsmeting is. Wanneer die psigometriese eienskappe van hierdie vraelys met die van ander soortgelyke instrument soos byvoorbeeld die MMPI, Eysench Personality Inventory en California Test of Personality (Andrulis, 1977) vergelyk word blyk dit dat die Suid- Afrikaanse Persoonlikheidsvraelys in alle psigometriese opsigte 'n beter vraelys is. Aangesien hierdie vraelys spesifiek vir Suid-Afrikaanse toestande ontwikkel is behoort die gebruik daarvan in plaaslike navorsingsprojekte sterk aangemoedig te word. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1981 7.1 Faktorstruktuur van die SA Persoonlikheidsvraelys (J.C.D. Augustyn) 5 OPSOMMING In 'n poging om die faktorstruktuur van die Suid-Afrikaanse persoonlikheidsvraelys verder te ondersoek is dié vraelys tesame met die "Thurstone Temperament Schedule" aan 'n steekproef van 191 studente geadministreer. Die interkorrela- siematriks is gefaktoranaliseer en die faktormatriks is geroteer deur middel van 'n ortogonale (Varimaks) rotasie. Die vyf faktore wat geïdentifiseer is kom baie nou ooreen met die faktorstruk-tuur wat deur Steyn (1974) beskryf is. Die gebruik van die Suid-Afrikaanse Persoonlikheidsvraelys in toekomstige navorsings-projekte word sterk aanbeveel. VERWYSINGS Andrulis, R.S. Adult Assessment: A Source Book of Tests and Measures of Human Behavior. Springfield, Illinois: Charles C. Thomas, 1977. Aspeling, E.G. Die Persoonlikheidsbeeld van Links- en Regshandiges. Ongepubliseerde Magisterverhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, 1979. Augustyn, J.C.D. Tyd as Fundamentele Konsep in Menslike Gedrag met Spesifieke Verwysing na die Beroeps- en Bedryfswêreld. Ongepubliseerde Doktorale Proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1978. Botha, P.P. Sosio-kulturele Agtergrond en Persoonlikheid as Determinante van die Rookgewoonte by die Kliniekskooldogter. Ongepubliseerde Magisterverhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, 1976. Brophy, R.H. The Effect of Neuroticism on Job Behavior. Ongepubliseerde Magisterverhandeling, Universiteit van Stellenbosch, 1977. De Vos, J.C. Kontrole as 'n Persoonlikheids- en Situasionele Faktor in Ruimtelike Oorbesetting. Ongepubliseerde Magisterverhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, 1978. Nie, N.H., Hull, C.H., Jenkins, J.G., Steinbrenner, K. & Bent, D.H. Statistical Package for the Social Sciences. New York: McGraw-Hill, 1975. Steyn, D.W. Handleiding vir die Suid-Afrikaanse persoonlikheidsvraelys. Johannesburg: Nasionale Instituut vir Personeelnavorsing, 1974. Thurstone, L.L. Examiners Manual for the Thurstone Temperament Schedule. Chicago, Illinois: Science Research Associates, 1950. Van der Spuy, H.I.J. The Influence of Alcohol on the Personality of the Alcoholic. Ongepubliseerde Doktorale Proefskrif, Universiteit van Pretoria, 1970. Vermeulen, C.P. 'n Persoonlikheidsevaluering van die Professionele Duiker op Grond van Bepaalde Veranderlikes. Ongepubliseerde Magisterverhandeling, Universiteit van Pretoria, 1972. ______________________