(Microsoft Word - 1983 9-1 Tydori\353ntasie vs Diepte-ori\353ntasie.doc) TYDORIËNTASIE VERSUS DIEPTE-ORIËNTASIE AS DIMENSIES VAN DIE 4-D TEORIE I. VAN W. RAUBENHEIMER * J.H. VISSER DEPARTEMENT BEDRYFSIELKUNDE RANDSE AFRIKAANSE UNIVERSITEIT ABSTRACT The relationship between two of the dimensions of the 4-D theory (Raubenheimer, 1978), namely the time dimension (Augustyn, 1978) and the depth dimension (De Jager, 1979) has been investigated. The hypothesis that there is no correlation between an individual's time orientation and his depth orientation, is substantiated by the data. The possible influence of pre-selection factors on the results, however, cannot be ignored. Met die omlyning van die vier dimensies van die 4-dimensionele teorie van gedrag (Raubenheimer, 1978; Augustyn, 1978; De Jager, 1979) word 'n benadering gevolg wat in drie hooffases uiteenval. In die eerste fase word die fisiese dimensies van hoogte, diepte, breedte en tyd as vertrekpunt geneem en word daar vir elk 'n psigiese analoog gekonsep- tualiseer. In die tweede fase word hierdie psigiese analoë konseptueel omlyn en gekoppel aan reeds bekende konstrukte van menslike gedrag. In die derde fase word 'n meetmiddel vir elk van die dimensies ontwikkel wat as basis kan dien vir empiriese verifieëring (validering dus) van elk van die 4 dimensies (of konstrukte) van menslike gedrag. Slegs die tydsdimensie (Augustyn, 1978) en die diepte-dimensie (De Jager, 1979) is dusver konseptueel verfyn en gevalideer sodat die verhouding tussen dié twee dimensies op hierdie stadium verder ondersoek kan word. 'n Implisiete veronderstelling van die 4-dimensionele teorie is dat al die dimensies, behalwe tyd, konseptueel ortogonaal teenoor mekaar staan - juis omdat die fisiese dimensies van hoogte, diepte en breedte die ortogonale asse van 'n ruimtelike sfeer vorm. Die drie psigiese dimensies vorm derhalwe die primêre (ortogonale) asse van die psigologiese sfeer. * Versoeke vir afdrukke moet aan die eerste skrywer gerig word. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1983 9.1 Tydoriëntasie vs. Diepte-oiëntasie (I. van W. Raubenheimer en J.H. Visser) 2 Die tydsdimensie staan egter los van die ander dimensies. Dit is streng gesproke nie 'n fisiese dimensie nie, omdat dit onder andere geen bepaalde rigting in die fisiese sfeer aandui nie. Die funksie van die tydsdimensie is om betekenis te verleen aan die ander drie dimensies. Sonder 'n tydsaanduiding is die lokalisering van 'n objek binne 'n fisiese sfeer (dus in terme van hoogte, diepte en breedte) onmoontlik. Net so, word veronderstel, verleen tyd in psigologiese sin, 'n besondere betekenis aan die ander drie psigiese dimensies. Die aard van die interaksie tussen tyd in psigiese sin (dit wil sê, tydoriëntasie soos deur Augustyn, 1978, omskryf) en die ander drie psigiese dimensies is egter nog nie empiries nagevors nie. Sodanige navorsing is dus 'n logiese verdere stap in die uitbouing van die 4-dimensionele teorie. KORT OMSKRYWING VAN DIE DIEPTE-EN TYDSDIMENSIES Die diepte-dimensie Dieptewaarneming behels die waarneming en rangskikking van objekte op grond van die fisiese afstand tussen daardie objekte en die waarnemer daarvan, deur gebruik te maak van sekere wenke uit die omgewing (byvoorbeeld, relatiewe grootte, skaduwees, akkommodasie van die oog en binoku1êre dispariteit). Hoe groter die afstand tussen die objek(te) en die waarnemer word, hoe moeiliker raak dit om hierdie wenke te benut en realistiese verhoudings tussen die objekte waar te neem. Dit spreek vanself dat daar individuele verskille sal wees in die gemak waarmee 'n persoon sodanige realistiese verhoudings kan bepaal tussen objekte en tussen homself en daardie objekte (met ander woorde, 'n beweging op die diepte-dimensie van visuele waarneming), aangesien dieptewaarneming beide akkurate afstandskatting en die bepaling van die relatiewe posisie tussen objekte behels. Die psigiese analoog van dieptewaarneming (dit wil sê, beweging op die sielkundige diepte-dimensie) veronderstel dat die individu homself kan distansieer van sy onmiddellike omgewing en psigologies verplaas na situasies en omstandighede weg van hom. Hy is dus in staat om (i) 'n gebeurtenis in die toekoms of uit die verlede sonder vaaghede in sy geestesoog te (her)konstrueer, en (ii) bepaalde verhoudings tussen objekte en tussen homself en daardie objekte op te stel. Weens die direkte of indirekte betrokkenheid van die individu by hierdie Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1983 9.1 Tydoriëntasie vs. Diepte-oiëntasie (I. van W. Raubenheimer en J.H. Visser) 3 konstruksie, impliseer dit dat sy eie plek, posisie en rol in die gekonstrueerde situasie bepaal en so duidelik en realisties moontlik uitgebeeld word. So 'n konstruksie kan enige situasie uitbeeld en die figure daarin kan lewende en/of nie- lewende dinge wees (byvoorbeeld, 'n fisiese, psigologiese, maatskaplike, sosiale, mensver- houding- of beroepsituasie). Iemand wat maklik "uitbeweeg" op die diepte-dimensie sou dus iemand wees wat homself maklik kan verplaas en in 'n situasie indink of inleef. Die gemak waarmee mense op hierdie psigologiese diepte-dimensie beweeg kan gevolglik ook individuele verskille teweegbring. 'n Empatiese en meelewende persoon sou byvoorbeeld homself waarskynlik makliker in andere se posisies en omstandighede kan indink, situasies en omstandighede daaraan gekoppel kan ontleed en akkuraat opsom, en sy besluite dan daarvolgens neem. Ander persone sou weer minder geslaagd hierin wees. Diesulkes het 'n vaste ankerpunt of verwysingsraamwerk nodig waarbinne hulle hul gedrag kan beplan. Hul gedrag is meer aan die onmiddellik waarneembare gekoppel. Volgens De Jager (1979) behels beweging op die diepte-dimensie verder 'n beweging (i) in tyd en rigting (met ander woorde, 'n rekonstruksie van 'n gebeurtenis uit die verlede of 'n konstruksie van 'n toekomstige situasie), (ii) oor fisiese afstand (met ander woorde, of daar van afstand sprake is en hoe groot die afstand is), (iii) oor "kulturele" afstand (met ander woorde, dat 'n persoon hom moet kan inleef in 'n vreemde kultuur of subkultuur) asook (iv) oor sielkundige afstand (met ander woorde, die mate waarin die individu instaat is tot empatie). Dit word gepostuleer dat diepte-oriëntasie (soos al die ander dimensionele oriëntasies) reeds in die vroeë kinderjare beslag kry by wyse van die soort van gedrag wat in die ouerhuis versterk of uitgewis (bestraf) word. Indien die kind byvoorbeeld meelewing en toenadering sou toon tot ander huisgenote of sy mening lug oor wat in bepaalde situasies in die verlede of toekoms werklik gebeur het of sal gebeur, en dit word deur ouers afgekeur as synde vrypostigheid of dergelike meer, sou sodanige uitbeweeg op die diepte-dimensie vir die kind onsekerheid meebring wat hy/sy later sal vermy. Die tydsdimensie Volgens Raubenheimer (1978) en Augustyn (1978) word tydoriëntasie as 'n dimensie van menslike gedrag primêr gekoppel aan die mens se oriëntasie tot beweging en verandering. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1983 9.1 Tydoriëntasie vs. Diepte-oiëntasie (I. van W. Raubenheimer en J.H. Visser) 4 In 'n fisiese, statiese ruimte (dit wil sê, 'n ruimte waarin voorwerpe en die waarnemer nie beweeg nie) is daar slegs sprake van een bepaalde (statiese) oriëntasie van die waarnemer tot sy omgewing. Wanneer objekte egter in hierdie omgewing beweeg, verander die waarnemer se posisie relatief tot die objekte (asook die relatiewe posisies van die objekte tot mekaar) en vereis dit 'n ander oriëntasie van die waarnemer tot sy omgewing. Hierdie oriëntasie tot bewegende of veranderende objekte in die mens se fisiese omgewing impliseer dus eintlik ook 'n oriëntasie tot tydsverloop, aangesien beweging tydsverloop veronderstel en daar van beweging sonder tydsverloop geen sprake is nie. Aangesien beweging (met ander woorde, groei, ontwikkeling, verandering) 'n basiese kenmerk van lewe self is, word gepostuleer dat (i) tydsverloop die mees fundamentele ervaring en gewaarwording van die mens is, en (ii) 'n oriëntasie tot beweging neerkom op 'n fundamentele oriëntasie tot die lewe self. Indien die lewe beweging veronderstel en beweging tydsverloop impliseer, word aanvaar dat die mens 'n tydoriëntasie ontwikkel wat dien as 'n voortbestaansmeganisme. Laasgenoemde stel die mens in staat om kontak te hou met die verlede en toekoms, en groter beheer te verkry oor sy aktiwiteite in die hede. In sy omlyning van die konstruk tydoriëntasie het Augustyn (1978) vier tydoriëntasie- style, naamlik omgewingsgebonde, roetinegebonde, sistematiese, en skeppende- en evaluerende tydoriëntasie, geïdentifiseer en beskryf. Omgewingsgebonde tydoriëntasie verwys kortliks na die oriëntasie tot tyd van 'n individu wat daarvan hou om geen tydbeplanning te doen nie, maar dit oorlaat aan die diskresie en oordeel van andere. Hy werk byvoorbeeld 'n vaste aantal ure per dag, het vaste roetines wat skof- en teetye betref, en het 'n voorgeskrewe indeling van sy dagtaak. Roetinegebonde tydoriëntasie verwys na die oriëntasie tot tyd wat bepaal word deur die deur-tyd-omlynde omgewing asook 'n formele onderverdeling van tyd wat deur die omgewing vir die individu gedoen word en waarbinne hy 'n beperkte mate van beplanning, tydsinrigting en tydkoördinering kan doen. Die beperkte mate van beplanning en koördinasie veroorsaak egter dat die individu nie volkome sekerheid het oor die plaasvind (of nie-plaasvind) van gebeurtenisse nie. In vergelyking met die vorige twee tydoriëntasies is die gedrag van die persoon met 'n sistematiese tydoriëntasie baie meer aktief ten opsigte van die hantering van tyd, en noodsaak die groot verskeidenheid gebeurtenisse waarmee hy homself daagliks besig hou, beplanning, organisering en skedulering van hierdie aktiwiteite. Sy basiese oriëntasie is gerig op die Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1983 9.1 Tydoriëntasie vs. Diepte-oiëntasie (I. van W. Raubenheimer en J.H. Visser) 5 ordelike en sistematiese plaasvind van sekere gebeurtenisse en dit maak hierdie persoon by uitstek 'n goeie organiseerder. 'n Persoon met 'n skeppende- en evaluerende tydoriëntasie word nie slegs deur die plaasvind of nie-plaasvind van gebeurtenisse beïnvloed nie, maar is ook ingestel op waarom dit gebeur, die tydsimplikasies daarvan, die volgorde waarin dit gebeur, asook die belangrikheid of wenslikheid (tydsgewys gesproke) van sodanige gebeurtenis. Hy beplan en koördineer sy aktiwiteite in terme van tyd, en is by uitstek 'n evalueerder en inisieërder sover dit sy hantering van tyd betref. Dit word gepostuleer dat hierdie style onafhanklik van mekaar is en dat 'n individu oorwegend een van die oriëntasies tot tyd sal hê. 'n Bepaalde tydoriëntasie kleur dus 'n individu se beweging op die ander drie dimensies, maar dit korreleer nie daarmee nie. 'n Meganiese ingenieur wat waarskynlik 'n sistematiese of skeppende- en evaluerende tydoriëntasie het, sou goedskiks na aan die nulpunt van die diepte-oriëntasieskaal kon lê. Die fabriekswerkster aan die lopende band (omgewingsgebonde tydoriëntasiesituasie) wat reeds jare lank die bepaalde werk verrig en dit aanvaarbaar vind, sou konseptueel enige posisie op die diepte-dimensie kon inneem. In haar rol as moeder en familielid sou sy selfs 'n hoë telling op 'n diepte-dimensieskaal kon behaal. Ook ten opsigte van die tydsdimensie word gepostuleer dat dit in die kinderjare beslag kry. In 'n ouerhuis waar sake streng volgens tyd gereel word (byvoorbeeld, eettyd, slaaptyd, oefentyd, huiswerktyd) en geen afwykings daarvan geduld word nie en die ouer self die tye aankondig, sou die kind mettertyd onseker word indien hy buite die tydgrense sou beweeg. Hy/sy sou derhalwe ook daarvan afhanklik word en gewoond daaraan raak dat tyd deur 'n ander persoon (sy ouers of omgewing dus) gereël word. Meting van die diepte- en tydsdimensies Die diepte-dimensie De Jager (1979) het die grondwerk gedoen vir die meting van persone se sielkundige diepte-oriëntasie. Hy het 'n meervoudige-keuse tipe vraelys (die RD-Dieptevraelys) bestaande uit 38 items en vier kensketssituasies per item ontwikkel en gevalideer. Van toetslinge word verwag om daardie kensketssituasies te kies wat die beste beskrywing van hulle gedrag verteenwoordig. Gedragsankers is so geskryf dat hulle 'n kontinuum volg wat die mate van Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1983 9.1 Tydoriëntasie vs. Diepte-oiëntasie (I. van W. Raubenheimer en J.H. Visser) 6 diepte-oriëntasie verteenwoordig, sodat 'n telling van 1 dui op 'n relatief swak diepte- oriëntasie en 4 op 'n relatief sterk diepte-oriëntasie. Die volgende areas word deur die vraelys gedek : Houdings en gewoontes, huidige tuiste en gesin, ontspanning, skool en opvoeding, selfindrukke, waardes en voorkeure, asook beroep. (Vir volledige besonderhede kyk De Jager, 1979, pp. 172-204). Die tydsdimensie 'n Meetinstrument (die RA-78 Tydoriëntasie vraelys) is deur Augustyn (1978) ontwikkel vir die meting van tydoriëntasie. Ses-en-twintig items is in die finale (geforseerde- keuse) vraelys opgeneem. Hierdie items is op 'n rasionele en logiese wyse saamgestel en gevalideer. Elke item bestaan uit 4 alternatiewe wat elke tydoriëntasiestyl verteenwoordig. NAVORSINGSTRATEGIE Probleemformulering en hipotesestelling Volgens die 4-dimensionele teorie van gedrag (Raubenheimer, 1978; Augustyn, 1978) kan tyd beskou word as 'n eerste-orde klassifikasieveranderlike. Met ander woorde, 'n individu word eerstens volgens sy oriëntasie tot tyd geklassifiseer, en daarna word sy posisie in die psigiese ruimte na aanleiding van die ander drie dimensies (breedte, hoogte en diepte) bepaal. Tyd het ook 'n tweede funksie, naamlik dat dit betekenis verleen aan die ander drie dimensies. Soos reeds aangetoon, is daar in 'n fisiese, statiese ruimte slegs sprake van een bepaalde (statiese) oriëntasie van die waarnemer tot sy omgewing. Sonder tydsverloop en tydspersepsie sou die ander drie psigiese dimensies dus geen bestaansreg hê nie. In die lig van hierdie veronderstelde betekenis wat tyd in 'n psigologiese sin aan die ander drie dimensies verleen, word gepostuleer dat daar geen verband is tussen 'n persoon se tydoriëntasie en die posisie wat hy op die diepte-dimensie inneem nie. Soos wat die drie dimensies ortogonaal teenoor mekaar staan, hou elkeen afsonderlik geen verband met die tydsdimensie nie. Die aanname is gemaak dat die onafhanklikheid van die tyds- en diepte-dimensies weerspieël sal word in 'n onbeduidende verskil tussen die gemiddelde diepte-oriëntasietellings vir elke tydoriëntasiestyl. Verder is verwag dat die omvang van verspreidings van diepte- Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1983 9.1 Tydoriëntasie vs. Diepte-oiëntasie (I. van W. Raubenheimer en J.H. Visser) 7 oriëntasietellings binne elke tydoriëntasiestyl min of meer van dieselfde orde sou wees, aangesien die tydoriëntasiestyl wat 'n individu het, in ooreenstemming met die teorie nie die mate waarin hy op die diepte-dimensie kan beweeg, beïnvloed nie. Die volgende hipoteses is dus gestel: H0l : Daar is geen beduidende verskil tussen die gemiddelde diepte-oriëntasietellings van persone met omgewingsgebonde, roetinegebonde, sistematiese of skeppende- en evaluerende tydoriëntasiestyle nie. H02 : Daar is geen beduidende verskil tussen die variansies van diepte-oriëntasietellings per tydoriëntasiestyl nie. Die monster Die monster het bestaan uit 36 voltydse tweedejaarstudente en 18 derdejaarstudente in Bedryfsielkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Geen addisionele besonderhede van die proefgroep is vir die ondersoek benodig nie, aangesien daar slegs in hulle response op die twee vraelyste belang gestel is. Prosedure Die RD-Diepte vraelys en RA-78 Tydoriëntasie vraelys is by twee afsonderlike geleenthede aan die proefpersone uitgedeel. Die invul van vraelyste het tydens lesingperiodes geskied, en toesig is gehou om te verseker dat elke persoon die vraelyste op sy eie beantwoord. Ruim tyd is toegelaat vir die invul van die vraelyste. Die inligting wat deur middel van die twee vraelyste ingesamel is, is soos volg verwerk: − Die RA-78 Tydoriëntasie vraelys - 'n telling is vir elke proefpersoon ten opsigte van die vier tydoriëntasiestyle bepaal met behulp van nasienmaskers. 'n Proefpersoon se oorwegende tydoriëntasiestyl verteenwoordig daardie kategorie ten opsigte waarvan hy die meeste items (met 'n minimum van nege uit die 26 items) beantwoord het. − Die RD-Diepte vraelys - 'n telling is vir elke proefpersoon bereken na aanleiding van die response op die 38 items van die vraelys. Minimum en maksimum tellings van onderskeidelik 38 en 152 kon behaal word. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1983 9.1 Tydoriëntasie vs. Diepte-oiëntasie (I. van W. Raubenheimer en J.H. Visser) 8 − Die proefpersone se diepte-oriëntasietellings is vervolgens teenoor hulle oorwegende tydoriëntasiestyle aangeteken. 'n Opsomming hiervan word in Tabel 1 weergegee. TABEL 1 KLASSIFIKASIE VAN DIEPTE-ORIËNTASIETELLINGS VOLGENS TYDORIËNTASIESTYLE Tydoriëntasiestyl Diepte-oriëntasietellings (N= 54) Omgewingsgebonde (N=2) 115, 115 Roetinegebonde (N=1) 105 Sistematies (N= 17) 103, 105, 106, 111, 111, 113, 114, 115, 115, 116, 117, 120, 120, 120, 121, 126, 126, Skeppende- en evalue- rende (N=34) 79, 102, 102, 103, 103, 104, 105, 105, 108, 109, 109, 109, 109, 111, 111, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 118, 118, 118, 119, 119, 119, 121, 123, 125, 126, 127, − 'n Gemiddelde diepte-oriëntasietelling en 'n standaardafwyking is vir elkeen van die vier tydoriëntasiestyle bereken (Tabel 2) TABEL 2 GEMIDDELDE DIEPTE-ORIËNTASIETELLINGS EN STANDAARDAFWYKINGS VOLGENS TYDORIËNTASIESTYLE Tydoriëntasiestyl Gemiddelde diepte-oriëntasietelling en standaardahvyking Omgewinggebonde (N = 2) X = 115 s = - Roetinegebonde (N=l) X = 105 s = - Sistematies (N= 17) X = 115, 24 s = 6,5 Skeppende- en evalu- erende (N= 34 ) X = 112, 29 s = 9,1 'n t-Toets is uitgevoer om te bepaal of daar beduidende verskille bestaan tussen die gemiddelde diepte-oriëntasietellings in elke tydoriëntasiekategorie. Aangesien 51 (94,4 %) van die proefpersone oorwegend sistematiese of skeppende- en evaluerende tydoriëntasiestyle Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1983 9.1 Tydoriëntasie vs. Diepte-oiëntasie (I. van W. Raubenheimer en J.H. Visser) 9 en slegs 3 persone (5,6 %) roetinegebonde of omgewingsgebonde tydoriëntasies had, kon 'n t- toets net in eersgenoemde geval gedoen word. RESULTATE Ten opsigte van hipotese 1 Geen beduidende verskil tussen die gemiddelde diepteoriëntasietellings van persone met sistematiese en skeppende- en evaluerende tydoriëntasies in elke tydoriëntasiekategorie kon op grond van die verkreë resultate aangedui word nie (t(49) = 1,16, p ≤ 0,01). Ten opsigte van Hipotese 2 Daar is geen beduidende verskil gevind tussen die variansie van diepte- oriëntasietellings in die sistematiese en skeppende- en evaluerende tydoriëntasiestyle nie (F = 1,89, p ≤ 0,02). GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS − Die bevinding dat daar geen beduidende verskil tussen die gemiddelde diepte- oriëntasietellings per tydoriëntasiestyl blyk te wees nie, ondersteun 'n belangrike postulaat van die 4-D teorie, naamlik dat die vier dimensies onafhanklik van mekaar funksioneer. Weliswaar is slegs die diepte- en tydsdimensies in hierdie studie betrek, maar soortgelyke navorsing wat die verskillende dimensieverhoudinge bloot lê behoort in die toekoms aandag te kry. − Die bevinding dat die omvang van verspreidings van diepteoriëntasietellings binne elke tydoriëntasiestyl min of meer van dieselfde orde is, verleen verdere steun aan die teorie sover dit die onafhanklikheid van dimensies aangaan. − Hoewel die bevindinge besonder bemoedigend is, moet dit met versigtigheid bejeen word. Die feit dat die proefgroep uit studente in die bedryfsielkunde bestaan het, versterk die moontlikheid dat die resultate deur pre-seleksie faktore geaffekteer kon gewees het. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1983 9.1 Tydoriëntasie vs. Diepte-oiëntasie (I. van W. Raubenheimer en J.H. Visser) 10 VERWYSINGS Augustyn, J.C.D. Tyd as 'n fundamentele konsep in menslike gedrag met spesifieke verwysing na die beroeps- en bedryfswêreld. D.Com proefskrif. Universiteit van Stellenbosch, 1979. De Jager, L.C. Sielkundige diepte-oriëntasie as determinant van menslike gedrag met spesifieke verwysing na die beroepswêreld. D.Com proefskrif, Randse Afrikaanse Universiteit, 1979. Raubenheimer, I. van W. Raamwerk vir die ontwikkeling van 'n 4-dimensionele teorie van menslike gedrag. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde, 1978, 4(5) 33-72. ___________________