(Microsoft Word - 1985 11-2 Meting van Sistematiese Tydori\353ntasie.doc) DIE METING VAN SISTEMATIESE TYDORIËNTASIE AS 'N SIELKUNDIGE KONSTRUK VAN BEROEPSGEDRAG J.I. DE JAGER * DIE MAGALIESBERGSE GRAANKOÖPERASlE BPK BRITS ABSTRACT Research on systematic time orientation as described by Augustyn (1978) was done in order to develop a personality description of a person with such a time orientation style and to develop a refined measuring instrument for systematic time orientation. Results show that the developed questionnaire has an acceptable internal consistency and that it can be considered a refined instrument for measuring systematic time orientation. Ten einde bedryfsielkundige kennis te konsolideer stel Raubenheimer (1978) 'n 4- dimensionele klassifikasieteorie van menslike gedrag voor. Hy postuleer dat menslike gedrag in terme van die hoogte, diepte en breedte dimensies beskryf kan word, nadat dit in terme van die tyddimensie wat as 'n primêre eerste orde maatstaf van klassifikasie beskou word, geklassifiseer is. Tydoriëntasie word gekoppel aan die mens se vermoë om aan te pas by beweging en verandering. Sonder tydsverloop kan daar geen beweging en verandering plaasvind nie. Verskillende mense reageer verskillend op beweging en verandering en dus op tyd sodat hul hantering van tyd verskil. Op grond hiervan het Augustyn (1978) vier basiese tydoriëntasie- style geïdentifiseer waarvolgens mense geklassifiseer kan word. Die style is naamlik omgewingsgebonde, roetinegebonde, sistematiese asook skeppende en evaluerende tydoriëntasie. Augustyn (1878) het 'n vraelys (die R-A 78 tydoriëntasievraelys Vorm B) ontwikkel om die verskillende style te identifiseer, maar het gevind dat die vraelys nie voldoende tussen al die verskillende tydoriëntasiestyle onderskei nie. * Versoeke vir afskrifte moet aan skrywer gerig word. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1985 11.2 Meting van Sistematiese Tydoriëntasie (J.I. de Jager) 2 Die doel van die onderhawige studie was om die konstruk sistematiese tydoriëntasie verder te omlyn ten einde 'n persoonsbeeld van 'n individu met sodanige tydoriëntasiestyl daar te stel en om 'n verfynde instrument vir die meting van tydoriëntasiestyl te ontwikkel. Uit die literatuur is 'n aantal persoonlikheidstrekke geïdentifiseer wat logies en rasioneel aan die sistematiese tydgeorienteërde individu toegeskryf kan word op grond van die gedrag wat hierdie individu openbaar. Die eienskappe van die sistematiese individu kan soos volg saamgevat word (De Jager, 1984, 70-73). Hy het in 'n redelike mate kontrole oor gebeure wat hy binne bepaalde tydsones wil of kan laat plaasvind omdat hy die vermoë besit om gebeure effektief te beplan en te organiseer ter doelbereiking. Hierdie vermoë vereis dat hy 'n duidelike koppeling tussen die verlede, hede en toekoms moet kan maak en dit stel hom instaat om orde te skep wanneer 'n aantal dinge gelyktydig plaasvind. Sover dit persoonlikheidstrekke aan betref is so 'n persoon toekomsgeoriënteerd, doelgerig, intelligent, doeltreffend, ordelik, gedissiplineerd, presies, heg waarde aan detail, beskik oor uithouvermoë, versigtig, konkreet, objektief, logies, het selfvertroue, energiek, prestasiegeoriënteerd, kompeterend, selfaktualiserend, optimisties, matig angstig, gemotiveerd, kreatief, oorspronklik, konsensieus onafhanklik, realisties, emosioneel stabiel, streng interne kontrole, goeie insig, hoe selfesteem, aggressief, 'n hoë frustrasietolleransie, geïntegreerd, stiptelik en verantwoordelik. DIE ONTWIKKELING VAN DIE VERFYNDE MEETINSTRUMENT In die ontwikkeling van die meetinstrument is daar uiteraard grootliks op die konseptuele omlyning van die konstruk sistematiese tydoriëntasie gesteun deurdat die gebiede waaruit itemstamme getrek is uit die literatuur voortgevloei het. Die volgende gebiede is deur die items gedek: tydervaring in die werksituasie, tyd in sosiale en kulturele omgewings, tyd en interpersoonlike verhoudings, tyd en spesifieke persoonlikheidstrekke asook tydoriëntasie en beroepskeuse. Die vraelys was 'n meervoudige keuse vraelys waar elke item vier gedragsankers had waarvan die individu daardie een moes kies wat homself die beste omskryf. Ankers is so geskryf dat slegs die eerste anker sistematiese tydoriëntasie verteenwoordig. In sommige gevalle is die skale omgeswaai in 'n poging om bepaalde responsneigings te verminder sodat die vierde anker sistematiese tydoriëntasie verteenwoordig. Die korrekte antwoord kry 'n punt Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1985 11.2 Meting van Sistematiese Tydoriëntasie (J.I. de Jager) 3 van een en die individu se telling vir sistematiese tydoriëntasie word dan verkry deur die aantal "korrekte" response bymekaar te tel. Daar is 'n paar belangrike probleme verbonde aan die gebruik van 'n meervoudige keuse vraelys, byvoorbeeld met die formulering van gedragsankers, die sosiale aanvaarbaarheid van vraelysitems en die moontlike semantiese probleme wat vraelysitems kan skep. Met die skryf van gedragsankers is dit nie verseker dat die gedragsketse wat by die onderskeie items gebruik word beslis so verskil dat daar slegs een anker is wat sistematiese tydoriëntasie verteenwoordig nie. Sosiale aanvaarbaarheid verwys na die neiging by individue om eerder positiewe of sosiaal meer aanvaarbare dinge omtrent hulself op selfrapporteervraelyste weer te gee. Hierdie neiging beïnvloed die resultate wat deur middel van so 'n vraelys verkry word. Dit is dus wenslik om die vraelysitems vooraf te toets vir die sosiale aanvaarbaarheid daarvan. Semantiese probleme verwys na die moontlikheid dat 'n toetsling 'n woord of frase verkeerd kan verstaan of dalk glad nie die betekenis daarvan ken nie asook die moontlikheid dat hy dalk die navorser se basiese doelstellings uit die woordgebruik in die vraelys kan aflei. Hierdie probleem kan egter ook uitgestryk word deur vooraf te bepaal of die toetsling enige semantiese probleme by die invul van die vraelys kan ondervind. ‘n Voorlopige vraelys bestaande uit 88 items is onderwerp aan 'n semantiese en sosiale aanvaarbaarheidsbeoordeling, deur die vraelys deur 32 voltydse voorgraadse studente verbonde aan die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe van die Randse Afrikaanse Universiteit te laat aflê. Geen semantiese probleme is ondervind nie, maar op grond van sosiale onaanvaarbaarheid het 38 items uitgeval sodat slegs 50 items oorgedra is na die volgende fase van die ontwikkeling van die meetinstrument. Itemontleding Die voorlopige vraelys is by 304 proefpersone afgeneem wat saamgestel was uit 215 onderwysers verbonde aan skole in die Brits-omgewing en by 89 klerke werksaam by banke, Die Magaliesbergse Graankoöperasie en die Munisipaliteit van Brits. Die Kuder-Richardson 20 betroubaarheidskoëffisiënt vir die 24 beste items was 0,779. Hierdie items is gevolglik geselekteer om in die finale R-A-D 84 tydoriëntasievraelys (Vorm C) opgeneem te word. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1985 11.2 Meting van Sistematiese Tydoriëntasie (J.I. de Jager) 4 Met die samestelling van die verfynde meetinstrument is een van die doelstellings van die studie bereik. Die empiriese bewys dat die meetinstrument wel 'n verbetering is op vorige instrumente wat vir die omlyning van die konstruk sistematiese tydoriëntasie gebruik is, het vervolgens aan die beurt gekom. OMLYNING VAN DIE KONSTRUK SISTEMATIESE TYDORIËNTASIE AAN DIE HAND VAN DIE VERFYNDE MEETINSTRUMENT Daar is gepostuleer dat sistematiese individue 'n hoë telling op die R-A-D 84 tydoriëntasievraelys (Vorm C) sal behaal teenoor nie-sistematiese individue wat 'n lae telling sal behaal en dat die R-A 78 tydoriëntasievraelys van Augustyn (1978) in hierdie opsig telkens swakker sal vaar. Laasgenoemde vraelys sal dus nie so goed onderskei tussen sistematiese en onsistematiese individue as die R-A-D 84 tydoriëntasievraelys (Vorm C) nie. Ten einde bogenoemde se toets, is daar 'n vergelyking getref tussen twee beroeps- groepe, met verskillende tydoriëntasiestyle se prestasie op die twee meetinstrumente. Die twee beroepsgroepe wat vir hierdie analise gebruik is, is onderwysers en klerke. Augustyn (1978) het reeds gevind dat onderwysers neig om 'n sistematiese tydoriëntasiestyl te openbaar terwyl klerke nie die tydoriëntasie toon nie. Die volgende hipoteses is dus vir die doeleindes van hierdie ondersoek gestel: Hipotese 1 Klerke (nie-sistematiese individue) sal ten opsigte van sistematiese tydoriëntasie 'n beduidend hoër telling op die R-A 78 tydoriëntasievraelys (Vorm B) as op die R-A-D 84 tydoriëntasievraelys (Vorm C) behaal. Hipotese 2 Onderwysers (sistematiese individue) sal ten opsigte van sistematiese tydoriëntasie 'n beduidend hoër telling op die R-A-D 84 tydoriëntasievraelys (Vorm C) as op die R-A 78 tydoriëntasievraelys (Vorm B) behaal. Hipotese 3 Daar sal geen beduidende verskil wees tussen klerke en onderwysers se prestasie op die roetine gebonde skaal van die R-A 78 tydoriëntasievraelys (Vorm B) nie. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1985 11.2 Meting van Sistematiese Tydoriëntasie (J.I. de Jager) 5 Hipotese 4 Klerke en onderwysers sal ten opsigte van sistematiese tydoriëntasie min of meer dieselfde telling op die R-A 78 tydoriëntasievraelys (Vorm B) bepaal. Die twee groepe se prestasie sal dus nie beduidend van mekaar verskil sover dit sistematiese tydoriëntasie aangaan nie. Hipotese 5 Klerke en onderwysers se tellings op die R-A-D 84 tydoriëntasievraelys (Vorm C) sal beduidend van mekaar verskil. As ontledingsmetode is daar van die t-toets gebruik gemaak. Die t-toets is gebruik om te bepaal of die verskil tussen onderwysers en klerke se prestasie op die R-A-D 84 tydoriën- tasievraelys (Vorm C) beduidend is en om te bewys dat hul soortgelyke prestasie op die R-A 78 tydoriëntasievraelys (Vorm B) te wyte is aan die onvermoë van die vraelys om voldoende tussen die verskillende tydoriëntasiestyle te diskrimineer. Om te bepaal watter items van die R-A-D 84 tydoriëntasievraelys (Vorm C) beter tussen onderwysers en klerke diskrimineer is daar van Hotelling se t-toets gebruik gemaak. RESULTATE Die resultate ten opsigte van hipoteses 1 tot 4 word in Tabel 1 saamgestel. Vir resultate ten opsigte van hipotese 5 vergelyk de Jager (1984, pp. 119-127). Die resultate lyk redelik gunstig in die lig daarvan dat net hipotese 3 nie bevestig kon word nie. Die resultate dui daarop dat die R-A-D 84 tydoriëntasievraelys (Vorm C) wel ‘n verfynde meetinstrument van die konstruk sistematiese tydoriëntasie is en daar kan dus aangeneem word dat die persoonlikheidstrekke soos vroeër genoem, wel die van die siste- matiese individu is. Daar is ook gevind dat sewe van die 24 items beduidend tussen onderwysers en klerke se prestasie op die R-A-D 84 tydoriëntasievraelys (Vorm C) onderskei. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde 1985 11.2 Meting van Sistematiese Tydoriëntasie (J.I. de Jager) 6 TABEL 1 VERSKILLE TUSSEN GEMIDDELDES VIR DIE VERSKEIE HIPOTESES Hipotese Nr. Veranderlike X n t p 1 RAD 84 48,97 89 7,48 ,000 RA 78 32,17 2 RAD 84 50,48 215 12,97 ,000 RA 78 31,11 3 RA 78 (onderwysers) 20,10 215 -2,37 ,019 RA 78 (klerke) 22,80 89 4 RA 78 (onderwysers) 31,11 215 -0,85 ,397 RA 78 (klerke) 32,17 89 Dit wil voorkom asof daar nie duidelikheid bestaan oor die tydoriëntasiestyl van klerke nie. Volgens die resultate verkry op die R-A 78 tydoriëntasievraelys (Vorm B) het klerke ten opsigte van sistematiese tydoriëntasie anders as verwag, ʼn hoër rekenkundige gemiddelde as die onderwysers behaal. Verdere navorsing in die ontwikkeling van verfynde vraelyste vir elk van die drie ander tydoriëntasiestyle sal dus 'n groot bydrae lewer tot die validering van die 4- dimensionele teorie. OPSOMMING Met hierdie navorsing is gepoog om 'n persoonsbeeld van 'n individu met ‘n sistematiese tydoriëntasiestyl saam te stel, en om 'n verfynde instrument vir die meting van sistematiese tyd- oriëntasie te ontwikkel. Resultate toon dat die vraelys wel 'n bevredigende interne bestendigheid het en ook as ‘n verfynde instrument vir die meting van sistematiese tydoriëntasie beskou kan word. VERWYSINGS Augustyn, J.C.D. Tyd as 'n fundamentele konsep in menslike gedrag met spesifieke verwysing na die beroeps- en bedryfswêreld. Ongepubliseerde Doktorale proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1978. De Jager, J.I. Sistematiese tydoriëntasie as 'n sielkundige konstruk van beroepsgedrag. Ongepubliseerde Magisterskripsie, Randse Afrikaanse Universiteit, 1984. Raubenheimer, I. van W. Raamwerk vir die ontwikkeling van 'n 4-dimensionele teorie van menslike gedrag. Perspektiewe in die Bedryfsielkunde, 1978, 4(5), 33-72. _____________________