Microsoft Word - 07 Pretorius Aucamp.docx TD The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 10(1) July 2014, pp. 123-148. ʼn Persoonlike waardering van Hennie Aucamp as mentor J PRETORIUS1 Opsomming In hierdie studie benut die skrywer die 5D-raamwerk en teoretiese en metodologiese onderbou van waarderende ondersoek en persoonlike waardering vir ʼn persoonlike waardering van die skrywer, Hennie Aucamp. By name handel dit oor die invloed van Aucamp se mentorskap op die navorser se persoonlike en professionele ontwikkeling. Na ʼn waarderende onderhoud met die TV-aanbieder en stemkunstenaar, Coenie de Villiers, word die volgende vyf positiewe temas van sowel die navorser as De Villiers se vriendskap met Aucamp geïdentifiseer en ontleed: • keerpunt – ontmoeting met Aucamp • Aucamp se intellek en ruimheid van gees en ons verwonderdering • mentorskap en briewe • persoonlike keuse van Aucamp se aangrypendste skryfwerk en uitsonderlike vakmanskap • persoonlike beskouings omtrent wat ander kunstenaars by Aucamp kan leer ʼn Foto-collage is saamgestel om as visuele agtergrond vir die waardering te dien. Die navorser het ʼn persoonlike onderhoud met Aucamp gevoer om sy reaksie op die geïdentifiseerde temas te verkry en het Aucamp se reaksie met die bespreking geïntegreer. Trefwoorde: Persoonlike waardering; 5D-siklus van waarderende ondersoek; Hennie Aucamp as mentor; Coenie de Villiers; positiewe temas (English abstract at the end of the article – Ed.) 1. Inleiding In 2012, na ʼn besoek aan Rome om die skilderye van die Italiaanse skilder Michelangelo Merisi da Caravaggio te waardeer, skryf ek ʼn akademiese artikel oor sy lewe en werk wat later deur LitNet Akademies aanvaar en gepubliseer word (Pretorius 2013a). Terwyl ek in Rome is, stuur ek ʼn brief met ʼn aantal poskaarte met afdrukke van Caravaggio se skilderye aan Hennie Aucamp, my mentor en vriend. Hy bedank my daarvoor en het, soos dikwels in die verlede, ń aanbeveling gereed: “Gaan lees tog wat ek oor hom geskryf het in Hittegolf.” Ek doen dit en besluit om Aucamp se sonnet “Caravaggio (1571–1610)” (Aucamp 2002:28) in my artikel in te sluit, omdat dit heelwat van die temas van die navorsing belig. Ek stuur ʼn ʼn kopie van die artikel aan Aucamp en hy skryf op 22 Augustus 2012 die volgende: Nou het gebeur wat ek altyd in die vooruitsig gestel het: jou eksieperfeksie prosastyl het ʼn venue gevind. Mag die Caravaggio-stuk die eerste van ʼn reeks wees wat straks later ʼn publikasie kan word. Ek voel geëerd dat my Caravaggio- gedig gebruik gaan word. 1 . Dr Jannie Pretorius, Skool vir Wiskunde, Natuurwetenskappe en Tegnologie-onderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit van die Vrystaat. E-pos: pretoriusjph@ufs.ac.za Pretorius 124 Op 30 Oktober 2012 skryf ek terug: Baie dankie vir jou moeite met jou laaste brief. Dankie, veral, vir die mooi kommentaar en aanmoediging. Jou wens dat dit die eerste van ʼn reeks sal wees, het my aan die dink gesit: wie kan volgende wees? Ek het dadelik geweet wie. […] Ek het nog nooit ons vriendskap aan die groot klok gehang nie, maar my ervarings wat ek tydens en na die skryf van die Caravaggio-artikel gehad het, het my die waarde en bevrediging van ʼn reis deur interne landskappe laat besef en waardeer. Dit is tyd, Hennie, dat ek my verantwoordelikheid teenoor jou en ons vriendskap nakom: ek moet streng en omvattend gaan dink daaroor, en dan ʼn artikel in die formaat van die Caravaggio-een gaan skryf. Op 19 November 2012 kry ek toestemming van Aucamp om met die navorsing voort te gaan: “Doe zoo voort – alle seën op jou arbeid.” Ek voltooi die persoonlike waardering en in Desember 2013 stuur ek ʼn kopie van die artikel na Aucamp. 2. Die teoretiese begronding van waarderende ondersoek en persoonlike waardering Waarderende ondersoek, volgens Cooperrider, Whitney en Stavros (2008:3), is die soeke na die beste in mense, hul organisasies en die wêreld waarin hulle leef. Dit behels die ontdekking van dit wat “lewe” aan ʼn lewende stelsel gee wanneer dit optimaal effektief is. Hulle argumenteer verder dat dit die kuns behels om onvoorwaardelik positiewe vrae op sodanige wyse te stel dat die positiewe potensiaal van ʼn stelsel verhoog word. Whitney en Trosten- Bloom (2010:1) is van mening dat sodanige vrae en dialoog oor sterk punte, suksesse, waardes, hoop en drome op sigself tot verandering in organisasies kan lei. Hoewel die metodologie van waarderende ondersoek aanvanklik op stelsels en organisasies toegepas is, is die eerste waarderende ondersoek van ʼn individu hier te lande deur Crous, De Bruyn, Roodt e.a. (2006) van die psigometris Johann Schepers gedoen. Pretorius (2010, 2012, 2013a) het drie waarderende ondersoeke van uitsonderlike of artistieke individue onderneem. Die eerste van hierdie studies het ńwaardering van die biologie-onderwyser Gerhardus Bosch behels (Pretorius 2010). Daarop het ʼn waardering van Emme-Lancia Faro, ʼn voormalige hoofmeisie van die Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein gevolg (Pretorius 2012). Na die waardering van die skilder Caravaggio is reeds verwys. Van hierdie studie skryf Reed en Verma (2013:65) in die International Journal of Appreciative Inquiry: One of the messages that the study gives us is that a careful, systematic approach can make a considerable contribution to understanding, where impressions are questioned and conclusions are challenged. An important highlight is about the methodology where at one stage the researcher donned multiple hats, becoming both interviewer and interviewee, and his smooth transitioning back to researcher. His experience validates the inherently improvisational nature of AI. We hope this column will encourage many more AI enthusiasts to experiment with it as a research methodology for unique topics like the one covered in the present column. Volgens Kelm (2005, 2006, 2008), Orem, Blinkert en Clancy (2007), Cooperrider, Whitney en Stavros (2008), Whitney en Trosten-Bloom (2010), asook Watkins, Mohr en Kelly (2011) vorm vyf teoretiese beginsels die grondslag van waarderende ondersoek: die konstruksionistiese beginsel, die gelyktydigheidsbeginsel, die poëtiese beginsel, die afwagtingsbeginsel en die positiewe beginsel. Pretorius (2013a:480-7) het tydens die waardering van Caravaggio hierdie bronne ontleed en die vyf beginsels op persoonlike Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 125 waardering (PW) toegepas. In hierdie persoonlike waardering van Aucamp word daarom slegs kortliks hierna verwys. Die handhawing van die konstruksionistiese beginsel tydens ń PW beteken in wese dat ons lewenservarings nie bloot met ons gebéúr nie, maar dat ons dit eintlik skep. Mense maak dus sin uit hul ervarings soos hulle met die wêreld omgaan. Binne die konteks van hierdie artikel sou dit beteken dat ek sin sou maak of konstrueer uit my verhouding met Aucamp na gelang van my omgaan met die dokumente, bronne en gesprekke. Die poëtiese beginsel veronderstel dat ons vryheid van keuse het met betrekking tot dit wat ons wil bestudeer. Kelm (2005:31) verwoord dit soos volg: We can find whatever we want in a person or situation: good and bad, right and wrong, beautiful and ugly. What we choose to focus on creates our reality. The more attention we give to something, the more it expands as part of our experience. Tydens die persoonlike waardering van Aucamp stel hierdie teoretiese beginsel my in staat om persoonlike voorkeure ten opsigte van die keuse van aspekte van ons vriendskap en sy skryfwerk uit te oefen. Omdat ek byvoorbeeld nog nooit ʼn uitvoering van sy kabarette bygewoon het nie en dus nie daardeur geraak is nie hoef ek nie daarop te fokus nie. ʼn Publikasie soos Lendetaal (Aucamp 2011) vind ek weens my beperkte verwysingsraamwerk in die veld van homo-erotiek in groot mate ontoeganklik en ek kon dit nie gelees kry nie. Sy dagboeke (Aucamp 1996, 1997, 2003a) en briewe gryp my egter aan en ek herlees dit só gereeld dat gedeeltes daarvan in my bewussyn ingebed is. Ek haal dit ook gereeld aan wanneer ek dit nodig kry. Volgens die poëtiese beginsel sal hierdie en ander verkose aspekte van sy oeuvre en ons vriendskap ʼn groter wordende ruimte in my psige inneem, omdat ek bewustelik daarop fokus. Vir Watkins, Mohr en Kelly (2011:73) beteken die gelyktydigheidsbeginsel dat die ondersoek en die verandering wat dit teweeg bring, nie van mekaar geskei kan word nie, want dit vind gelyktydig plaas. Ondersoek ís dus intervensie: “The seeds of change – that is, the things people think and talk about, the things people discover and learn, and the things that inform dialogue and inspired images of the future – are implicit in the very first questions we ask.” Die implikasie wat dit vir my PW van Aucamp inhou, is dat die eerste vrae wat ek aan myself en andere betreffende Aucamp mag vra reeds verandering sal veroorsaak – en ek moet gereed wees om daardie veranderinge aan te teken en te verwerk. Mense en menslike stelsels groei in die rigting van dit waaroor hul aanhoudend vrae vra. Hoewel hierdie PW dus handel oor dit wat Aucamp in die verlede vir my beteken het, sal die PW ook my persoonlike groei in die toekoms beïnvloed en stimuleer. Die afwagtingsbeginsel suggereer dat die prentjies of beelde omtrent die toekoms wat ons in ons gemoedere skep ons huidige aksies rig – en dit skep dan daardie einste toekoms (Kelm 2008:50). Ons toekoms is dus ʼn verrysende realiteit wat geskep word deur die huidige beelde of prentjies van wat ons dink dit sal wees. Ek het daarom ʼn foto-collage geskep wat as visuele agtergrond en verbeelding van die PW van Aucamp kon dien (sien Figuur 3 en bespreking daarna). Die laaste grondliggende beginsel van ń PW is die positiewe beginsel. Positiewe emosies skep meer vreugde, maar dit is ook aan die kern van ʼn produktiewe lewe (Kelm 2008:68): “We can build momentum toward greater joy by focusing on the positive core and paying attention to what really takes us upward.” Kelm (2008:68-9) argumenteer ook dat ons op ander mense Pretorius 126 kan fokus om ons eie persoonlike ontwikkeling te stimuleer: “The more we focus on the positive core of ourselves and others [my kursivering], the happier we become. It is a journey of discovery as we inquire into the best of who we are and what life has to offer.” Hierdie beginsel skep dus vir my die akademiese en professionele vryheid om op die lewegewende, positiewe aspekte van my vriendskap met Aucamp te fokus – nie net omdat die positiewe beginsel die ruimte daarvoor skep nie, maar ook omdat ek aan geen negatiewe aspek kán dink nie. 3. Die metodologie van waarderende ondersoek: die 5D-siklus Ooreenkomstig die 5D-siklus van waarderende ondersoek (Whitney & Trosten-Bloom 2010:6, Watkins, Mohr & Kelly 2011:100-1) – sien Figuur 1 – het die navorsing in vyf fases verloop. Pretorius (2013a) het ook die 5D-siklus vir sy persoonlike waardering van Caravaggio gevolg. Die gebeure tydens elkeen van die fases word vervolgens bespreek. “Define” - Definiëring Positiewe onderwerp: ʼn Persoonlike waardering van die invloed van Aucamp op my persoonlike en professionele ontwikkeling. 2. “Discovery” - Ontdekking “Wat gee lewe aan Aucamp as mentor van my persoonlike en professionele lewe?” (Die beste van wat was) ʼn Persoonlike waardering Die positiewe kern van Aucamp se invloed op my ontwikkeling 3. “Dream” - Droom “Wat kan wees?” (Geleenthede vir die huidige en die toekoms: hoe sal die navorsing en ontdekkingsproses verloop om maksimale persoonlike en professionele begrip - en ʼn akademiese artikel - op te lewer?) Die identifisering van positiewe temas uit waarderende onderhoud 4. “Design” - Ontwerp “Wat behoort die raamwerk van die artikel en persoonlike begrip te wees?” (Die ideale artikel en selfbegrip) Innovering 5. “Destiny” - Destinasie “Hoe en wat skryf ek neer, en wat leer ek uit die ervarings en interpretasies?” (Deurlopende bemagtiging, prestasie en leer) F i g u u r 1 : D i e 5 D - r a a m w e r k a s s t r u k t u r e e l - w e t e n s k a p l i k e o n d e r b o u v i r d i e s t u d i e ( s o o s a a n g e p a s u i t W h i t n e y & T r o s t e n - B l o o m 2 0 1 0 : 6 e n P r e t o r i u s 2 0 1 3 a : 4 9 0 ) Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 127 3.1. Die definiëringsfase Tydens hierdie eerste fase is die hoofdoel of positiewe onderwerp van die studie bepaal as ʼn persoonlike waardering van die invloed van Aucamp se mentorskap en vriendskap op my persoonlike en professionele ontwikkeling oor die afgelope tien jaar. 3.2 Die ontdekkingsfase Tydens die ontdekkingsfase (sien Figuur 1) is ʼn waarderende onderhoud – volgens Whitney & Trosten-Bloom (2010:12) “[T]he starting point and essential component of any Appreciative Inquiry process” –met die TV-aanbieder en stemkunstenaar Coenie de Villiers (De Villiers 2013) oor sy vriendskap met Aucamp gevoer (sien Figuur 2). Sy antwoorde op die volgende waarderende vrae is as katalisators benut om oor my eie antwoorde daarop te reflekteer: F i g u u r 2 : ʼn W a a r d e r e n d e o n d e r h o u d i s o p 2 5 J a n u a r i e 2 0 1 3 m e t C o e n i e d e V i l l i e r s g e v o e r Pretorius 128 1. Wat is jou eerste of aangenaamste herinnering aan Hennie? 2. Hy sê in Koffer in Berlyn (Aucamp 2013a): “Op grond van my modelle kon ek vir Coenie de Villiers sê watter soort musiek ek wil hê as inleiding. As intro het ek musiek gevra wat watergeluide suggereer. En Coenie het dikwels hoogs kundig oor sy toonsettings van my werk gepraat voor skool-skryfgroepe.” Julle het dus ʼn intuïtiewe aanvoeling? 3. Jy het iets gesê oor sy ruimheid van gees. So, as jy nou moet sê, wat is die een enkele ding van hom, die kern van Hennie Aucamp, waarsonder hy nie dieselfde sou wees nie? 4. As jy een spesifieke geleentheid moet uitlig waaroor jy kon sê: “Daardie tyd was ons hoogs betrokke by mekaar en ons was connected”. Wat sou jy daaroor sê? 5. Julle het handgeskrewe briewe ook gewissel. Wat het daardie briewe aan jou gedoen? 6. En as ek nou vra, wat is jou gunsteling geskrewe stuk van hom? Die ding wat jy aanmekaar weer gaan lees, of wat in jou gedagtes leef? 7. Wat sou jy graag wou hê dat toekomstige of ander kunstenaars by Hennie leer? Wat is jou wens daaroor? Hierdie onderhoud is getranskribeer en positiewe temas is daaruit geïdentifiseer. 3.3 Die droomfase en die foto-collage F i g u u r 3 : ʼn F o t o - c o l l a g e t e r u i t b e e l d i n g v a n d i e n a v o r s i n g s p r o s e s ( s i e n b e s p r e k i n g i n t e k s ) Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 129 Tydens die derde fase van die persoonlike waardering is, in ooreenstemming met die algemene praktyk in waarderende ondersoek, ʼn kreatiewe foto-collage saamgestel (Whitney & Trosten-Bloom 2010:184; Watkins, Mohr & Kelly 2011:216) ter uitbeelding van die navorsingsproses (sien Figuur 3). Soos reeds genoem, was die hoofdoel daarvan om die collage as ʼn visuele agtergrond en verbeelding van die verloop van die navorsings- en skryfproses te laat dien. Die kreatiewe proses van die ontwikkeling van die foto-collage is geïnisieer en gevoed deur die voorblad van Beeltenis verbode (Aucamp 1998), na die skildery Verboden af te beelden (1937) – sien Figuur 4 − van Magritte (Aucamp 1998:4). Volgens Aucamp (1998:4) het Magritte die skildery van sy beskermheer Edward James (1907–1984) geskilder toe hy in Londen by James geloseer het. Die skildery toon nie James se gesig nie, slegs die titel van die boek wat op die marmerkaggelrak lê. Die boek is die Franse weergawe van Edgar Allen Poe − ʼn skrywer bekend vir die makabere en die misterieuse −se enigste roman. F i g u u r 4 : V e r b o d e n a f t e b e e l d e n ( M u s e u m v a n B o i m a n s B e u n i n g e n 2 0 1 3 ) Pretorius 130 Wat ek poog om in my foto-collage uit te beeld (sien Figuur 3), is inderdaad die veelvlakkigheid en misterie van my persoonlike waardering van Aucamp. Die proses is geloods met die waarderende onderhoud met De Villiers, wat – soos reeds genoem − ʼn poging was om my eie vriendskap met Aucamp te weerspieël en te herken in dié van De Villiers en Aucamp. Die primêre doel van die persoonlike waardering was wel ʼn verkenning van interne landskappe rondom my ervaring van Aucamp en sy mentorskap, maar ek het dit moeilik gevind om die “ek” deurlopend sentraal te laat staan (Aucamp 1998:7). Ek het probeer om my eie ervarings en interpretasies uit te beeld, maar die beelde en woorde wat dikwels spontaan na vore gekom het, was dié van Aucamp. Hierdie opwelling van woorde en insigte was geensins steurend nie – trouens, dit het my, soos dikwels in die verlede, gehelp om my eie emosies en ervarings te verstaan en te verwoord. ʼn Verdere uitdaging binne hierdie verband was die noodsaak om persoonlike prestasies te vermeld as voorbeelde van die professionele ontwikkeling wat deur Aucamp se mentorskap moontlik gemaak is. Dit het my verleë laat voel. Die invloed van sy mentorskap word egter juis as wetenskaplike verskynsel ondersoek en die omvang daarvan sou nie behoorlik ondersoek of verreken kon word sonder om na persoonlike mylpale te verwys nie. Tydens die droomfase is ʼn onderhoud ook met Aucamp gevoer (Aucamp 2013b) om sy reaksie op die geïdentifiseerde positiewe temas te verkry. Tydens die onderhoud het Aucamp my dan ook gerus gestel dat die woorde en insigte wel uit myself kom: “Jy kan maar net gee wat jy het, jy weet. Jy sou nie by daai antwoorde uitgekom het as jy dit nie reeds lankal in jou omgedra het nie” (Aucamp 2013b). 3.4 Die ontwerpfase Tydens hierdie vierde, voorlaaste fase van die persoonlike waardering is die temas ontleed en ingebed in Aucamp se insigte wat oor die jare daaromtrent gepubliseer is. My korrespondensie met hom is ontleed om voorbeelde van sy invloed op my ontwikkeling uit te lig en met die positiewe temas te belyn. Na sy dood op 20 Maart 2014 is die talle huldeblyke wat in die digitale en gedrukte pers verskyn het, gebruik om die geldigheid van die positiewe temas te bevestig en hul teenwoordigheid in Aucamp se vriendskappe met ander mense aan te dui. 3.5 Die destinasiefase Tydens die laaste fase van die persoonlike waardering is die artikel voltooi, vir keuring voorgelê en vir publikasie goedgekeur. Vervolgens word die positiewe temas van Aucamp se mentorskap aangebied en ontleed. 4. Temas van Aucamp se mentorskap 4.1. Keerpunt: ontmoet vir Aucamp Vir my, soos trouens ook vir De Villiers, verteenwoordig die eerste ontmoeting met Aucamp ʼn keerpunt in ons lewens. De Villiers (2013) beskryf hul dramatiese ontmoeting op treffende wyse: Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 131 Hennie het ek op ʼn baie interessante manier ontmoet en dit is miskien, in my kop, die insident wat vir die res van my lewe geresoneer het. Baie jare gelede, in die sewentigs, vroeë tagtigs, tagtig, een-en-tagtig, ek praat onder korreksie. Daar was baie min Afrikaanse musiek. Mense weet regtig nie hoe min daar was nie. Sonja Heroldt het “Ek verlang na jou” opgeneem en dit was dít. En nou, in retrospek, kan mens sien daar was die Musiek en liriek-beweging en toe daarna die Voëlvry-beweging, maar ons eerste paar ouens het nou maar Musiek en liriek begin. Dit was myself, Laurika Rauch, Koos du Plessis, Lucas Maree, Louis van Rensburg, Jannie du Toit. Daar was so ʼn paar van ons. En destyds het ons by die Markteater gespeel. Daar was nie ʼn beweging nie. Ons was net ʼn paar ‘pêlle’ wat gehou het van wat die ander doen. En toe het ons vyf kaartjies verkoop. En ons was ongelooflik opgewonde daaroor, met Koos du Plessis op die verhoog. Jy sal vandag nie daai kaartjie kan koop met geld nie. En toe, soos die Afrikaner nou maak, toe het hulle besluit om, na die skrywers bietjie werk begin skep het, om ʼn groot konferensie te hou by die SAUK destyds, by name die Musiek en liriek- konferensie, want Afrikaners gee baie graag vir goed etikette en dan verstaan hulle dit beter. En toe is ons af [SAUK toe]. Ons was almal uitgenooi en ʼn paar van ons is genooi om op te tree: Clarabelle van Niekerk, wat nou in Pennsylvania bly, Koos du Plessis, myself, Laurika, Louis van Rensburg, Jannie du Toit. Ek dink nie Lucas was daar nie, maar in elk geval. Ek was in die Weermag gewees – in my basies, aan die einde van my basies. So ek het drie haartjies gehad met die uniform. Ek kom toe uit die bos uit vir hierdie ding, want hulle het gesê: ‘Ons soek hierdie kind. Hy skryf ook Afrikaans wat hierby inpas.’ Toe kom ek daar by hulle. En Jannie, dit was die slegste en die beste dag van my lewe, want ek ... nou sit die hele ouditorium vol kenners. Daar was seker 300, 400 mense: akademici, kundiges, kwasi-kundiges. En op die meeste vyftien skrywers wat actually iets skep, waarvan ek nou deel was. En die inkleding van die ding was dat jy sou nou ʼn song speel en dan sal daar nou kommentaar en gesprek uit die gehoor wees terwyl jy op die verhoog sit. En ek het daar gesit met my uniform, jy weet. En ek het ʼn song gespeel wat op die heel eerste album uit ’82 kom. So, ek dink dit was 1980, ‘79, daar rond, met die naam van ‘Druiweboer’. ‘Somer sluimer hier/in donker eik waar jaar na jaar/die tyd my mos kom roer/en sag die son laat sypel deur die mos.’ Something like that. Ek speel. Toe ek klaar is, toe begin die gesprek. En so ʼn plomperige man, wat sal naamloos bly, staan op. And he ripped into me. Ek dink dit voel soos as ʼn mens vir jou sê jy het ʼn terminale siekte. Ek kon na’and nie meer hoor wat hy sê nie. My mond was droog. My handpalms het gesweet. Ek het gevoel soos ʼn insek onder ʼn mikroskoop. Maar ek het geweet, in daai oomblik, dat ek sal nooit in my lewe weer ʼn woord of ʼn noot skryf nie. Dis oor. En na hom toe staan ʼn man op met so ʼn geel leerbaadjie, so ʼn pampoen- leerbaadjie. En in die mooiste Afrikaans, maar snydend, fyn, geartikuleerd, vat hy toe dié ou aan. Ek sê niks. Ek sit nou maar daar. En hy haal vir hom so stukkie vir stukkie uitmekaar, laat all the king’s horses and all the king’s men sou daai ou nooit weer aanmekaar kan sit nie. En hy eindig toe, toe sê hy: ‘Ek dink wat ons Pretorius 132 gehoor het is ʼn werk wat geniaal is en wat ʼn hele nuwe platform daar skep in Afrikaans – en hoe Afrikaans en liriek tot nou toe gebruik is en ek dink dis magistraal.’ Tjoeps, gaan sit hy. Applous. En ek dog: ‘Ek weet nie wie jy is nie, maar jy – vir wat jy nou gedoen het, sal ek vir die res van my lewe vir jou dankbaar wees.’ Ek gaan toe na ʼn funksie na die tyd, want dit is ook ʼn ding wat Afrikaners goed hou. Ons hou van funksies. Boonste uitkykvloer van die SAUK en snacks, drinks. En die ou is toe daar. En ek sê toe: ‘Wie is daai man?’ En almal sê vir my: ‘Maar weet jy nie wie dit is nie?’ Ek sê: ‘Ek weet nie wie dit is nie. Ek kom uit die Vrystaat, man. En ek kom uit die bos uit nou.’ Jy weet? Hulle sê: ‘Dis professor Hennie Aucamp. Die Hertzogprys- wenner. Dié Hennie Aucamp.’ En toe gaan ek na hom toe en toe sê ek vir hom: ‘Professor Aucamp, ek wil net vir jou baie dankie sê, because today you saved my life. En as jy dit nie gedoen het nie sou ek nooit weer geskryf het nie.’ He was só kind. En he saved my life. Ek sou nooit in my lewe, ooit weer, een wóórd geskryf het as dit nie was vir daai man wat opgestaan het nie. Toe het ons vriende geword, jy weet, en hy het my werk, of wat ek gedoen het – dit klink vreeslik pretensieus om te sê hy’t my werk gevolg – en altyd as iets verskyn het, het hy vir my geskryf. My eie verbintenis met Aucamp het aan die einde van 2003 begin. Ek het die eerste van sy drie gepubliseerde dagboeke – Gekaapte tyd (1996) – pas gelees en was getref deur die insiggewende, verhelderende insigte wat ek daaruit kon put. Ek kon ook aanklank vind by sy beskrywing van sy eie leesprosesse: “Skielik stol ek by ʼn bepaalde passasie: ʼn reël het ʼn oop senuwee geraak. ʼn Reël wat my aan myself verduidelik” (2004:11). Ek beskryf my kennismaking met Aucamp en sy werk tydens die gesprek soos volg aan De Villiers: In 2004 het ek daardie dagboeke van hom gelees, die gepubliseerde dagboeke. En die goed is so vol van daardie ... hulle noem dit mos illuminerende gedagtes. En toe besluit ek net ek gaan berge versit, maar ek moet met die ou praat. En toe het ek hom opgespoor. Toe bel ek hom, toe sê ek vir hom: ‘Prof. Aucamp, ek wil net vir jou sê jou dagboeke inspireer my.’ Ek sê ook vir hom: ‘Ek is ʼn laat vaarder op jou seë, maar jou dagboeke inspireer my.’ Ag, en toe het ek hom gevra hy moet sy boeke teken. En onthou nou, kyk, kom ons sê hy het jou ontmoet as ʼn komponis. My het hy ... ek was van die straat af. ʼn Onderwyser by JF [Jim Fouché Hoërskool in Bloemfontein]. En daai selfde ruimheid van gees met ʼn gewone mens wat ... hy kon tog nie êrens belange in my gehad het en gesê het: ‘Kom ek belê in hierdie ou’ nie. Op 25 Maart 2004 stuur ek toe ʼn faks aan hom waarin ek vra vir ʼn kort ontmoeting, sodat hy voorin ʼn paar van sy boeke in my besit kon teken. Ons ontmoet op 31 Maart vir koffie by die Kaapse Waterfront, en op 5 April skryf ek in ʼn kort bedankingsbrief die volgende: Dat jy, as een van die grootste vakmanne wat Afrikaans ooit gesien het, waaragtig die moeite doen om jouself beskikbaar te stel vir ʼn ontmoeting met een van jou bewonderaars, oortuig my finaal van dít: dat jy nooit jou relevansie sal verloor nie. Dat jy midde-in die kookpot van Afrikaans staan; op grondvlak nog reuse- bydraes maak. Jy’t my literêre leefwêreld binne een enkele uur ʼn hele paar vlakke gelig, ʼn stuk betekenis daarin geplaas. Dankie ook daarvoor. Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 133 Omdat ek na soveel jare nog steeds verwonderd is oor die geredelikheid waarmee Aucamp my binne sy professionele dampkring toegelaat en selfs verwelkom het – hy was immers op daardie stadium reeds een van die mees bekroonde Afrikaanse skrywers – het ek hom pertinent daaromtrent uitgevra tydens my onderhoud met hom: Dit was – en is nog steeds – vir my ʼn verrassing dat jy my – en vele andere – so onvoorwaardelik onder jou vleuels geneem en oor die jare met raad en voorstelle gevoed het. Hóékom, Hennie? In sy antwoord het hy weer-eens sy rol as opvoedkundige beklemtoon, maar hy het dit ook nadruklik gestel dat sy openheid persoonlike en professionele risiko’s ingehou het: Eintlik lê dit alles daarin dat ek ʼn onderwyser is. Ek sou nooit dié dinge gedoen het as ek nie ʼn onderwyser was nie. Ek kyk na my ander stywe vriende – hulle hou hulle baie eenkant en dis vir hulle baie vreemd dat jy jouself so kan oopgooi. Vir my is dit belangrik dat jy gee wat jy het. ‘Wie niet geeft wat hij heeft, is niet waard dat hij leeft.’ Daai reëltjie het vasgesteek. Dis hoekom ek die onderwysberoep gekies het. Jy kan eintlik alles daarna herlei dat ek ʼn onderwyser is. Mense wat nie verstaan dat die onderwys vir my belangrik is nie sal my nooit heeltemal verstaan nie. […] Ek het darem oor die jare versigtiger begin ‘ja’ sê, want ek het ʼn paar nare ondervindings van mense wat my verskriklik misbruik het. Koos Prinsloo is die klassieke voorbeeld. Dit was nie baie aangenaam nie, en dit was onverdiend gewees (Aucamp 2013b). Dat Aucamp ten spyte van so ʼn negatiewe ervaring steeds bereid was om by my professionele ontwikkeling betrokke te raak, beklemtoon en belig juis die vaste oortuiging waarmee hy sy roeping as opvoedkundige volvoer het. Sy onmiddellike en ongeveinsde aanname dat ek, wat geen noemenswaardige publikasies agter my naam gehad het nie, iemand besonders was, het my laat besef: dit sou nie anders kon nie − ek sou móés skryf. Die Hertzogpryswenner Aucamp het immers in my geglo. 4.2. Aucamp se intellek en ruimheid van gees en ons verwondering Ek onthou nie veel van ons eerste ontmoeting by die Kaapse Waterfront nie – net maar dat ek uit my diepte gevoel het tydens die taamlik eensydige gesprek, gestrand tussen al die insigte oor skrywers en boeke wat hy met my gedeel het. Hy reageer binne twee dae op my bedankingsbrief: “Baie dankie vir jou hartversterkende faks. Ek het een paragraaf oorgedra na my dagboek – iets om my te versukkereer vir die pad vorentoe wat, ideologies gesproke, vol slaggate gaan wees.” Die enkele kere daarna wat ons persoonlik ontmoet het, het volgens dieselfde patroon verloop: Aucamp gesels, neem aan dat ek bekend is met die groot skrywers en sangers waaroor sy gesprek gaan, en ek luister verwonderd. Ek het net een foto van so ń ontmoeting – aan die einde van 2005 in sy woonstel (sien Figuur 5). De Villiers (2013) het dieselfde ervaring betreffende Aucamp se besondere intellek: Kyk, ek moet jou sê, tot vandag toe – en hy’s ʼn vriend van my, is ek so geïntimideer deur sy intellek, jy weet? En die wonderlike ding is hoe beskeie hy daaroor is. Hy deel net uit. Hy deel net uit. ‘Wil jy ʼn boek hê? Dis joune.’ Jy weet? En that’s the measure of his greatness. Pretorius 134 Op my vraag omtrent die een enkele ding van Aucamp waarsonder hy net nie dieselfde sou wees nie, het De Villiers (2013) soos volg gereageer: Ek dink daar is twee goed en hulle is aan die heup verbonde. Ek dink dis moeilik om te skei. Die een is sy reuse-intellek. Maar só beskeie, jy weet? Nou, toe ek weer in die Kaap was, ons het die boek [De Villiers 2012] gaan vier, toe vat ek hom vir ete. Jy weet, Jannie, dan sal hy soos ʼn verhandeling doodluiters in die gesprek sit, datums aanhaal, kruisverwysings maak, intertekstuele konneksies maak. Soos ek nou vir jou sê: “Jy sien, die weer vandag is darem maar lekker.” [...] So daar is regtig ʼn baie, baie rare intellek, ʼn diepte, ʼn breedte van ervaring en dan, daarmee saam, ʼn geweldige ruimheid van gees. Hý deel. Hý help. [...] Ek kan net namens myself praat. Ek weet ander mense het dieselfde ervaring. Amanda Strydom sou vir jou dieselfde sê. Elsabé Zietsman sou vir jou dieselfde sê. ʼn Verskeidenheid van mense, jy weet? Ek het vir Aucamp gevra of hy daarvan bewus is dat hy op skynbaar moeitelose wyse met tallose kunstenaars, kunswerke en literatuur omgaan – en dit op so ʼn hoë intellektuele vlak dat dit die mense rondom hom verstom. Hoe kry hy dit reg, was my vraag. Hy was gereed met ʼn gedeeltelike antwoord: F i g u u r 5 : D i e n a v o r s e r e n A u c a m p a a n d i e e i n d e v a n 2 0 0 5 i n s y w o o n s t e l Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 135 Ek dink ek het ʼn antwoord daarop. Ek het gelukkig beland by die Opvoedkunde, waar ek eintlik my eie rooster kon beplan. Ek het nie gevoel ek hoef streng volgens ʼn patroon te werk nie: ek kon baie vryelik beweeg, kreatiewe onderwysmetodes beproef. Ek kon eintlik doen wat ek wou – dis eintlik vreeslik om dit te sê, want daai dae is vir altyd verby. Ek is verskriklik gelukkig dat ek dit gehad het, en dis eintlik maar ʼn stukkie genade (Aucamp 2013b). Hierdie verklaring spreek wel die oorsprong van die kreatiewe prikkels aan wat Aucamp gestimuleer het, maar hy ontwyk op heel bedrewe wyse die intellektuele dimensie van sy skryfwerk en mentorskap. 4.3. Mentorskap en briewe De Villiers (2013) verduidelik hoe sy vriendskap met Aucamp hom beïnvloed het: Hy is baie, baie ruimhartig. En hy is die beste mentor, sonder dat hy ooit vir jou sê: ‘Ek sal vir jou mentor’, wat jy in jou lewe kan kry. Jy sit altyd aan die voete en leer, jy weet? So dis tweërlei. Die een is daai verskriklike intellek wat hy so mildelik en ruimskoots deel, en jy weet met soveel menschkeit - daar is nie ʼn Afrikaanse woord nie. Menschkeit. Dis net gee. So dis my ervaring van Hennie. De Villiers (2013) het verder vertel van ʼn tyd toe hy besonder nou verbonde aan Aucamp gevoel het: Ek dink dit was moontlik die skep van, jy weet, ʼn gekonsentreerde dosis interaksie. Dis maar soos ʼn tesis skryf, was Blomtyd is bloeityd, die kabaret. Dit kom ook uit ʼn era wat kabaret ʼn baie vreemde woord was in Suid-Afrika. Mense het gedink dit is tits and bums, jy weet – dis wortel. Dit het niks daarmee te doen nie. En baie min mense het daaraan gewerk. Ollie Viljoen se wyle eggenoot het haar M daarop gedoen. Stefan Bouwer, wyle Stefan Bouwer – jong, hulle kap in die bos – was hoogs kundig. En hy is ʼn verlies. Hy was ʼn wonderlike intellek. Ek het ʼn bietjie gedoen. Hennie was, tot vandag toe, die grand maestro. Ek meen, daar was net nooit – daar was nie eers ʼn tweede plek nie. Jy weet, hy was voor en ons het maar so hier agterna gekom. Daar was ʼn paar mense wat daaraan geraak het: Rosa Keet. Maar Hennie was ... hy is die Sensei. [...] En ek onthou, toe ek begin werk daaraan [Blomtyd is bloeityd], ek het seker drie, vier songs ʼn dag gedoen, wat baie is. Maar dis Hennie se goed. Jy sit daarna en dit gee vir jou in. Dit sê: ‘Luister, die musiek is reeds daar. En skryf.’ En Hennie was so fantasties. Kort na ons ontmoeting in 2004, het Aucamp se vertroue in my gedien as een van die mees prominente snellers vir my doktorale studie. Ek het hom dan ook pertinent saam met ander vriende voorin die proefskrif bedank: “My dank aan my vriende Johan en Gerda-Marie Oosthuizen, Philip en Sandra de Jonge, Phillip en Anne-Marie Serfontein, Annelie Steyn en Hennie Aucamp, want hulle het my laat glo dat ek mag en kan” (Pretorius 2007:v). In ʼn brief gedateer 12 November 2006 bedank hy my ietwat onwillig vir die erkenning, maar voorsien na aanleiding van my aanstelling as lektor by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes- Universiteit tog rigtingwysers vir ʼn professionele loopbaan aan ʼn universiteit (sien Figuur 6). Ek sluit twee uittreksels van sy handgeskrewe briewe hierby in met die spesifieke doel dat die leser sy netjiese, handgeskrewe briewe eerstehands kan ervaar. Ek het vir De Villiers gevra wat Aucamp se briewe vir hom beteken het. Pretorius 136 Hennie is sonder twyfel ... hy is die ... wat is die mooi woord? Hy is die bellettris van Afrikaans. Daar is niémand wat ʼn mooier brief kan skryf as Hennie nie. In alle opsigte: inhoudelik, as jy dit tik in die boek wat nou uitkom, wat in proses is [Aucamp 2013c], sal dit weer eens bewys dis – dis kunswerk. En benewens dit, as ʼn bellettris, as ʼn briefskrywer van formaat, dis net beeldskoon. So, as jy jou posbus oopmaak en daai ongelooflike penmanship [...] kyk, hy skrýf. En daai ongelooflike penmanship staar jou in die oog, jy weet: it’s a moment. Dis ʼn moment. En dit moet ek ook sê, al is dit hoe klein: as jy ʼn toekenning wen, of die akademie gee vir jou ietsie, of wat, gaan check: dan’s daar ʼn briefie in die pos (De Villiers 2013). Die lees van Aucamp se dagboeke en briewe het sonder twyfel ook mý sensitiwiteit vir en waardering van egodokumentasie verhoog (Aucamp 1998:7). Ek kon dit met toenemende plesier lees. Aucamp (2004:11) verduidelik die effek van sy omgang met literêre bronne, en ek herken dieselfde proses in my eie leeswerk: “Hierdie reëls word vir my energiebronne, en al haal ek hulle nie noodwendig aan nie, voed hul tog ʼn verhaal, ʼn liedteks, en dikwels ʼn hele bundel.” Die eerste aanduiding dat egodokumentêre publikasies ook vir my as energiebronne sou dien, is toe ek op 12 April 2004 sekere inskrywings uit Assassin’s cloak, ʼn bloemlesing van dagboekinskrywings deur Irene en Alan Taylor (Taylor & Taylor 2000), in my brief aan Aucamp insluit. Hy merk in ʼn brief van 18 April 2004 op “[…] dat jy in die greep van egodokumentasie is – en laat ek jou maar waarsku/troos, jy kom nooit weer daaruit nie. Die groot wins van hierdie verslaafdheid is dat jy ʼn indringende en lewegewende kennis van die menslike kondisie opdoen”. Inderdaad. F i g u u r 6 : D i e h a n d g e s k r e w e b r i e f v a n 1 2 N o v e m b e r 2 0 0 6 Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 137 Hy vra ook: “Hoekom begin jý nie aan so iets werk nie? Eers net vir eie plesier, tot jou aangroeiende sitate temas en motiewe begin uitwys.” By nabetragting was daardie enkele vraag die sneller wat ʼn diepgaande verkenning van egodokumentêre bronne en navorsing afgevuur het. Op 19 Mei 2004 skryf ek: “Ek rapporteer opgewonde oor my interaksie met egodokumente.” Op 13 Junie vra hy: “Jy werk so hard aan egodokumentasie, vir eie plesier en verryking in die eerste plek, maar hoekom struktureer jy nie jou arbeid tot iets blywends nie, sê maar ʼn tesis onder prof. Hennie van Coller?” Van die tesis onder prof. Van Coller het niks gekom nie, wel van my dagboekprojek: op 18 Junie bedank ek hom vir “[…] die water wat jy aandra na my egodokumentêre tuintjie toe”. Op 22 Junie 2004 kry my projek ʼn energie-inspuiting, want hy laat weet: “Ek is opgewonde oor die rigting wat jou egodokumentêre navorsing inslaan.” Op 18 November 2004 skryf Aucamp in ʼn openingsin van sy brief iets wat my altyd sal bybly: “Jou brief van 10 Nov. was, soos altyd, ʼn verademing en ʼn inspirasie.” Teen hierdie tyd begin ek my keuse uit gepubliseerde dagboeke op gereelde grondslag aanstuur, want op 22 November lees ek ʼn verdere onvergeetlike sin: “Jannie, ek is bewerig van opwinding oor jou Maart-weergawe van Ligspore” [die projek van die samestelling van ʼn keuse uit gepubliseerde dagboeke]. Die sin het ʼn merkwaardige uitwerking op my, want op 27 November skryf ek: Genugtig! My posbus is ʼn entjie van die huis af (pypsteel-erf), en daar maak ek toe jou brief oop soos ek terugstap. Die eerste sin lanseer my tot ʼn hardloop – tot ek uitasem langs my vrou op die bed neerval en begin voorlees. Dankie vir die mooi woorde. Hoe inspireer dit my nie! In die brief van 22 November onderneem Aucamp om met uitgewers oor die moontlike publikasie van Ligspore te gesels. Dit het hy inderdaad gedoen, maar nie die verlangde reaksie gekry nie. Aucamp volhard egter met sy aanmoediging en ondersteuning. So skryf hy in ʼn brief op 21 Mei 2005 die volgende (sien Figuur 7): F i g u u r 7 : D i e b r i e f v a n 2 1 M e i 2 0 0 5 Pretorius 138 Tydens ńonderhoud met Aucamp (2013b) herinner hy hom sy indruk destyds omtrent my en – deurwinterde en gedrewe opvoedkundige wat hy was – spoor hy my weer eens op kenmerkende wyse aan om hoër te streef: Ek het ontdek jy is iemand wat kan skryf, wat perfekte Afrikaans kan skryf, en jy soek eintlik – ja – ek dink nou nog jy’s nog nie heeltemal – jy’s nou met die regte dinge besig, maar jy’t ʼn wyer doek nodig as wat jy tot dusver gebruik het. Daar’s min mense wat ʼn pragtige natuurlike prosa skryf en dis hoekom dit my so opval as ek dit dan by ʼn jong mens kry. Die positiewe invloed wat Aucamp gedurende hierdie periode op my gehad het, was sonder twyfel blywend van aard en ek kon dit oordra na my akademiese lewe toe ek in Junie 2006, ná die voltooiing van my doktersgraad, eers by die Noordwes-Universiteit en daarna by die Universiteit van die Vrystaat aangestel is. Ek het begin om akademiese waarderings van uitnemende opvoedkundiges en prominente kunstenaars saam te stel en kon daarin slaag om ʼn hele aantal van hierdie studies in akademiese tydskrifte gepubliseer te kry. Ook hierdie veld het vir my oopgegaan na ʼn opmerking van Aucamp. In ʼn brief van 25 Junie 2008 kritiseer hy die omgewing waarbinne akademiese artikels gepubliseer word: Ek begin al hoe meer wonder of die geld wat subsidiedraende artikels genereer die geesteslewe van ʼn breër groep lesers bevorder. Dis vir my ʼn inteelt-situasie: akademici wat vir akademici skryf. En ʼn verdere beswaar: die tegniese voorskrifte van wetenskaplike tydskrifte wat dwars in die weg van kreatiwiteit kom staan, en vloei en spontaneïteit strem. Hoeveel wetenskaplike artikels haal asem? In ʼn brief aan hom op 18 Januarie 2009 bedank ek hom daarvoor: Jou woorde en insigte is ingeweef in my menswees en rig en verkwik my – help dat ek die lewe self kan verduur en geniet. Onlangs nog het jy my op nuwe paaie gestuur in my akademiese skrywery: jou opmerking dat akademici wat vir akademici skryf, op inteling neerkom, het my laat besluit om terug te keer na my eerste liefde: die biografie. Ek het ʼn kollega se lewe en klasse as onderwerp vir ʼn waarderende artikel geneem, en ingestuur Litnet Akademies toe. Nog ʼn biografiese artikel broei reeds ná ʼn werkswinkel vir onderwysers, waartydens ons na ʼn DVD van Cliff Richard gekyk het om te bepaal wat ons by hom kan leer […]. Albei hierdie artikels is wel in 2009 gepubliseer (Pretorius 2009a, 2009b). Studies oor die 1973-fliek The Paper Chase (Pretorius & Von Maltitz 2010) oor die lewens en optredes van die popgroep ABBA (Pretorius, Du Toit, Martin & Daries 2013), Neil Diamond (Pretorius & Van Wyk 2013), Lady Gaga en André Rieu het ook gevolg. Aucamp (2013c:342) was gereed met ʼn opsomming van hierdie studies toe hy my in sy gepubliseerde briewebundel Mits dese wil ek vir jou sê bekend stel met: “Dosent in Opvoedkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, prosaskrywer wat sy nis gevind het in skryf oor artistieke persoonlikhede.” Hy sou myns insiens moes byvoeg: “… wat sy nis onder my mentorskap gevind het in skryf oor artistieke persoonlikhede.” Aucamp (2001:93) se beskrywing van Bill (WA) de Klerk sou sonder meer ook op homself van toepassing gemaak kan word: “Want Bill was nie alleen ʼn ‘jammer hart’ nie, maar ook ʼn aristokraat van die gees wat talent in ander herken en erken het, en, waar dit kon, bevorder het.” Aucamp (2004, in Aucamp 2013c:324) beskryf die sentrale plek wat sy rol as “Waterman” in sy professionele lewe inneem in ʼn brief aan John Kannemeyer: Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 139 Die ‘gewerskap’ waarvan jy en Lina, en jare gelede dr. Anna de Villiers, praat, het juis daarmee te maak. Ek was op stuk van sake vir 30 jaar lank verbonde aan ʼn Fakulteit Opvoedkunde. Maar dan is ek ook ʼn Waterman, (‘Verjaarsdag 20 Januarie; sterreteken: Akwarius’) en dié soort, het my vriendin Rita Elferink my ʼn keer verduidelik, dra gedurig water aan, ook na mense wat nie dors is nie. 4.4. Aangrypendste skryfwerk en uitsonderlike vakmanskap Tydens ons gesprek verwys De Villiers (2013) na Aucamp se uitnemende vakmanskap en Bruidsbed vir tant Nonnie, wat sy waardering vir Aucamp se skryfwerk ingelui het: [...] hy is ʼn vakman. En, vir my ... alle groot letterkunde ... na my mening, het ʼn dawerende intellek onderskraag deur ʼn formidabele hart. En dít het Hennie. As jy na die groot letterkunde ... jy kry skrywers wat ... hulle intellek is onweerlegbaar, ek meen, JM Coetzee, Nadine Gordimer: dis groot, gróót skrywers. Niemand kan dit ontken nie. Vir my persoonlik, die skrywers wat my regtig aangryp, was die Dostojewski’s, die Steinbeck’s, die Hennie Aucamp’s, waar die intellek en die hart bymekaar kom en they create a Sistine Chapel of literature. [...] Ek onthou die eerste keer, jare gelede, toe ek ʼn Bruidsbed vir tant Nonnie gelees het. Ek kon nie glo dat iemand dit in Afrikaans kan doen nie. Dit was of ek die heel ... dis taal wat ek praat, droom, slaap, bid. En dan lees jy dit en dis asof jy vir die heel eerste keer ... dis asof ... alles was swart en wit, en skielik is dit taal in Technicolor. Volkleur. [...] En it was just perfect. Ek meen, hy is die meester van kortkuns. Wat my persoonlike gunstelinge onder Aucamp se tekste betref, deel ek Abraham H de Vries se mening (De Vries 2006, in Aucamp 2010:108) dat “Nag van die ooms” een van sy mooiste tekste is. Een spesifieke gedeelte hieruit (sien ook Botha 1979:122) is vir my ʼn deurlopende bron van plesier – miskien oor die nonchalante gebruik van teelterme deur Oom Kas en Klein-Kas om Klein-Kas se potensiële aanstaande te beskryf, maar ook weens die suiwere woordgebruik en die aansluiting wat ek as plattelander (“well versed in country things” – Aucamp 2000:5) by die situasie kon vind: Oom Kas kón nie duur nie: hy was te gul. Boude soos boerpampoene, en ʼn lag en ʼn stem wat ʼn huis laat skud. Beeste was sy lewe. Hy was ʼn stoetboer wat swaar bulle uit Friesland laat kom het. Op ʼn keer self een gaan haal. Dit was soos ʼn monumentonthulling: ʼn nuwe bul van oom Kas. Die ou saaier, het die boere ʼn bul genoem, en met ʼn ondeunde lig in die oë: ‘En die bôgger dink hy wérk!’ Op ʼn dag moes ek opsluit saam met Klein-Kas na sy pa. Hy wou trouplanne aanroer en het steun nodig gehad. ‘Met ou Tewie se meisiekind?’ Oom Kas begin gevaarlik swel. ‘Hoekom nie, Pa? Sy kan nie help vir haar pa nie.’ ‘Dis waar. Maar sy’s nog ʼn tweetand.’ ‘Sy’s mondig en aangeneem.’ ‘Sy’s te lank in die lies.’ ‘A nee a, Pa, kyk weer. Sy sal ʼn kalf gooi soos min.’ Pretorius 140 Oom Kas het weer gekyk en Klein-Kas het sy sin gekry. En Klein-Kas doop nog al die tyd. Saam met die bostaande gedeelte sou ek ook my reg tot idiosinkratiese voorkeur wou uitoefen deur ʼn dagboekinskywing op 14 November 1994 te vermeld (Aucamp 1996). Aucamp nuttig ontbyt in die “Kompstuin se opelugrestaurant” (Aucamp 1996:65) en beskryf die afloop van sy ete op ʼn wyse wat dit vir my moontlik maak om die bewegings van die meel-ogie op kinematiese wyse voor my geestesoog te sien afspeel – die sinne en woorde vestig volkome harmonie tussen literatuur en tempo en beweging: “ʼn Halfuur later skuif ek my brekfisbord terug. ʼn Meelogie kom land op die bord en gly onwaardig op die olierige oppervlakte, herstel sy balans, en vlieg weg met ʼn reep spek” (Aucamp 1996:66). Aucamp (2013b) het verduidelik hoe hy dit reggekry het: “Ek het eenvoudig net neergeskryf wat ek gesien het. […] Maar jy leer ook om skerper te kyk, nè. Dit word eintlik ʼn leefwyse om die oog te ... ‘the training of the eye.’ En later kom dit vanself, maar dis nie van die begin af so nie.” 4.5. Wat ander kunstenaars by Aucamp kan leer Ek het vir De Villiers gevra wat hy graag sou wou hê toekomstige – of ander – kunstenaars by Aucamp moes leer. Sy antwoord en motivering daarvoor is ʼn uiteensetting van Aucamp se besondere vermoë om liedtekste te skryf en rigtinggewende insette te lewer tydens die toonsetting daarvan. As jy ooit wil leer hoe volmaakte liriek werk, gaan na Aucamp toe. In my ervaring – en ek het met meesterlike skrywers al gewerk. Ek het self probeer. Daar is genoeg evidence daarvan. Skeef en krom, but there it is. Maar Aucamp het regtig kreatief verstaan wat liriek is, maar ook intellektueel en akademies verstaan wat die verskil is tussen ʼn liriek, met ander woorde teks wat in real time gesing word, en dan is die volle storie vertel. As opposed to poetry, which is meant to be read. Dis nie vervlietend nie. Jy kan dit weer lees. Jy kan dit oopsluit. En hy kan óngelooflik onderhoudend praat oor die grootste liedteksskrywers in die wêreld, in die geskiedenis. [...] Al die taai, moeilike goed in Afrikaans – en Afrikaans is, die Váder weet, dis soos taai klei wat jy mee werk. Hy laat hom nie maklik buig nie. Jy weet, nes jy dink jy het dit, dan is daar ʼn dubbele ‘nie’. Dan het jy ʼn ‘ghhh’. Watse klank is ʼn ‘ghhh’, jy weet? ‘Gogga’: dis ʼn moer lelike klank. En dan skryf Aucamp and then it becomes ... dit klink soos die soetste Frans, jy weet, because it’s perfect writing. Maar ek glo honestly dat niemand, wat nog nie teks of liriek geskryf het in Afrikaans, kan skeppende vermoë beter kombineer en actually understanding intellectually what he wrote, en dit is hoekom ... jy weet, nie alles is ʼn meesterstuk nie, maar Hennie se batting average op masterpieces is nie debatteerbaar nie (De Villiers 2013). Aucamp (2013b) het met kenmerkende nederigheid gereageer toe ek De Villiers se woorde vir hom voorgelees het: “Dis baie lief van Coenie om dit te sê – want hy’t self pragtige lirieke geskryf – het jy sy bundel [De Villiers 2012] gekry? [...] Hy’t perfekte lirieke geskryf – ek dink nie hy hoef na my te verwys nie. Ons staan langs mekaar.” Wat sou ek persoonlik wou hê dat ander kunstenaars by Aucamp moet leer? Ek sou kon begin met Aucamp (1998:105) se beskrywing van wat hy as Arthur Miller se “basiese skrywerstoerusting” beskou: “[...] skerp sintuiglikheid, menslikheid, interpretasievermoë; ʼn Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 141 effense gedistansieerdheid [...] die speelsheid van ʼn kind.” Dus, om in verwondering deur die lewe te dwaal en literatuur daarvan te maak. Vir my was dit ook baie nuttig om, soos Aucamp, die skryfproses as ʼn persoonlike metgesel of medewerker te sien; as ʼn vae gedefinieerde wese wat om aandag soek en wat op sowel bewustelike as onbewustelike wyse aan die kreatiewe prosesse meewerk. ʼn Paar voorbeelde van hierdie soort beeldspraak word aangebied om hierdie benadering te illustreer (Aucamp 2000:3). Die eerste voorbeeld gaan oor die “aanmelding” van ʼn verhaal of storie om geskryf te word. Aucamp (2003b:131–2) verwoord dit soos volg: “Hoekom kies ʼn mens ʼn sekere ervaring en laat ander buite rekening? Laat ek tot eie verdediging oorgaan: ek dink nie bewustelike keuse is hier in die spel nie: die verhale kom meld hulle aan wanneer hulle gereed is vir vertel.” Hierdie beeldspraak het deel geraak van my skrywerstoerusting, want in die inleiding van die Caravaggio-artikel gebruik ek dit soos volg: “Dié vrae kom meld dus aan vir beantwoording: hoe kan ʼn waarderende ondersoek van so ʼn geweldenaar moreel en geestelik regverdig word?” (Pretorius 2013a:479). Aucamp (2000:12, 2003b:139) beantwoord as’t ware self dié vraag deur na die rol van “innerlike druk” tydens die skryf van sy “Vir vier stemme” te verwys: “‘Vir vier stemme’ is binne een week geskryf en het die minimum redigering ondergaan. Die innerlike druk was so sterk by die skryf van die verhaal dat die regte woorde, die regte sinne, byna vanselfsprekend daar was.” Alhoewel Caravaggio dus ʼn geweldenaar was, veroorsaak die innerlike druk dat ek nie anders kón as om die studie oor hom te doen nie – ook in dié geval was ek meegesleur deur die bykans betowerende invloed van sy lewe en skilderye. Dit was byna vanselfsprekend dat ek die studie sou doen. Aucamp se verhaal “Maar waar is al die blomme nou?” begin met ʼn verwysing na ervarings en verhale as lewende entiteite: “Ek glo mos vas: ʼn mens kan nie aan jou eie ervarings ontsnap nie. Hulle lê jou en inwag, klaar afgerond – bitter, teer, wreed soos die geval ook mag wees” (Aucamp 2000:5, 2003b:132). Die lewe sélf raak ook vir Aucamp (2000:12, 2003b:141) ʼn menslike wese: “Hy [die lewe] lewer stories by ons af, beslote en afgerond, hul slot beklink nog voordat hulle geskryf is. En eis dat ons verantwoordelikheid vir die stories sal aanvaar.” Aucamp (2000:5, 2003b:132) sê verder oor hierdie verantwoordelikheid teenoor skryfwerk en ervarings: “[...] dan bly daar nog die skrywer se verantwoordelikheid teenoor sy ervaring voor: Ek vermoed dat talle onvoltooide en ongebundelde verhale van die herinneringsoort eers ʼn regstelling van die skrywer nodig het voordat hulle kan word wat hulle vooraf bestem was om te wees.” In die geval van “Maar waar is al die blomme nou?” het Aucamp byvoorbeeld dekades vantevore tydens die skryf van die oorspronklike verhaal dalk nie sy eie hart goed genoeg geken nie – of dalk was hy in daardie stadium bang om gay-kodes deur te gee (Aucamp 2000:6, 2003b:133). Hy het egter die verhaal jare daarna hersien en die gay-perspektief onomwonde aan die leser deurgegee (Aucamp 2000:6-7, 2003b:134). Hy sluit af met ʼn uitdrukking wat ek nou dikwels aanwend om die aanstuwing en voltooiing van eie skryfprosesse te verklaar: “Ek het my volle verantwoordelikheid teenoor ʼn ervaring nagekom, en nou kan die verhaal wat uit dié ervaring voortgekom het, uiteindelik tot rus kom. Sy voorgestemde lot is vervul” (Aucamp 2000:7, 2003:134). Hierdie uitdrukkings het ek gebruik om die afloop van my akademiese artikel oor Caravaggio te beskryf (Pretorius 2013a:510) en, Pretorius 142 soos voorheen vermeld, ook om toestemming by Aucamp te verkry vir die skryf van die artikel oor hóm. Aucamp (2013b) het die rol van die personifikasie van die skryfproses in sy skrywersloopbaan bevestig, maar hy het dit ook moeilik gevind om te verklaar: “Ek dink dit is so ... dis hoekom dit vir my nogal moeilik is om te praat oor dié dinge, want ek is nie baie berekend nie. Hulle kom meld hulle aan en hulle het nog nooit opgehou om hulle aan te meld by my nie.” My laaste versugting oor wat ander kunstenaars by Aucamp kan leer, het duidelik geraak toe ek skielik besef dat die twee kunstenaars waaroor my laaste twee artikels handel – Caravaggio en Aucamp – albei gay was. Tydens ons onderhoud het Aucamp wel die mening uitgespreek dat Caravaggio nie noodwendig gay was nie, maar dat hy wel homoseksuele ervarings gehad het: Sogenaamd – niemand weet nie. Hy’t sekerlik homoseksuele ervarings gehad. Maar ek dink nie dié tyd het eintlik so sterk gediskrimineer tussen ... die mense het eenvoudig maar rondgenaai ... en dis wat mense nie besef nie. Hy hét self ervarings gehad, hy hét self kolporteur ook gespeel (Aucamp 2013b). Aucamp self was gay en ek het hom spesifiek gevra hoekom ek so baie by gay kunstenaars leer – wat dalk ʼn onbillike vraag was. Hoe kan Aucamp immers weet hoekom ék so baie by gay kunstenaars leer? Ek ondersteun wel Aucamp (1996:8) se siening dat mense basies eenders is: Die TV-dokumentêr, ‘Why am I gay?’, het my verleë gelaat, nie net omdat dit so adolessent en gedateerd was nie, maar omdat dit andersheid as uitgangspunt het. Hoe ouer ek word, hoe belangriker word die basiese eendersheid van mense vir my. Eers is jy mens; dán, amper toevallig, gay. Ek vind ook sterk persoonlike aanklank by wat Aucamp (1996:104) die “durende adolessensie” van sommige gays noem. In Aucamp se antwoord op my vraag tydens die onderhoud het hy verder die vreesloosheid en selfs roekeloosheid van sommige gay mense se ondersoekende leefwyses as moontlike verklaring aangebied: Ek dink hulle stel hulle oop, jy weet. Hulle het iewers ʼn besluit geneem en daarna het hulle ʼn roekelose lewe geleef. Daar’s ook dié wat nie roekeloos geleef het nie en wat nooit heeltemal geword wat hulle kón word nie. En as jy eenmaal roekeloos leef en jy leef heeltemal sonder enige remminge – wel, dan kry jy besondere werk, jy weet. Ja, die mense wat net doodgewoon hulle gang gaan en hulle nie ʼn hel steur aan wat die publiek dink of wat ook al nie – die publiek kom terug na hulle, uiteindelik. Hulle het gedoen wat hulle wou doen en kon doen. En nou kan hulle ook help – wat hulle nie sou kon doen as hulle nie deur daai mallemeule of meule gegaan het nie (Aucamp 2013b). Aucamp (1997:79–80) sien ook die basiese onvoltooidheid van die gay in die besonder en die mens in die algemeen as die stimulus vir van ʼn lewenslange soeke na voltooidheid: Daar is gays wat vroeg reeds – en tot hul eie gemoedsrus – ontdek dat daar in ieder lewe ʼn armoede (Boudier-Bakker!), ʼn onvoltooidheid, skuil. Die skeppende mens ‘herstel’ dié onvoltooidheid van dag tot dag met wat hy voortbring, maar die mens sonder ʼn kreatiewe uitlaatklep het nie ʼn helingsdevies nie. Hy mor en pruttel van dag tot dag. Net die beste volgens die katalogus vir hom: die beste wyne, die beste silwer, die beste porselein; die beste, die allerbeste vertolking van ʼn bepaalde musiekwerk op CD. Hy voltooi homself in besittings en nie in Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 143 skeppings nie, en vergeet, in sy gemor en gepruttel, dat lewensvreugde ook ʼn skepping is. Dit word deur ʼn lewensfilosofie, ʼn sonnige kyk na dinge gehaal. 5. Ter opsomming en bevestiging Hierdie artikel was inderdaad “ʼn sonnige kyk” na die invloed van Aucamp op my as persoon en op my professionele ontwikkeling. Die vreugde wat ek daaruit kon put was ʼn uitvloeisel van my omgang met hom en die positiewe temas van sy mentorskap. Die sonnige wintersdag in Julie 2013 toe ek Aucamp by sy woonstel opgelaai en ons by Ons Huisie Restaurant, met ʼn uitsig op Robbeneiland, gaan beesstert en doekpoeding eet het, sal ek vir ewig onthou en koester. Die rustige wyshede wat hy met my gedeel het, is benut om my insig van ons vriendskap en sy mentorskap in die besonder en menswees in die algemeen uit te bou. Ek is weer eens verryk deur my omgang met sy dagboeke en ander egodokumentêre publikasies. Die waardering van Aucamp en die verandering wat dit teweeg gebring het, is inderdaad nie van mekaar te skei nie: dit het gelyktydig plaasgevind. Ek is opnuut verander en geïnspireer deur Aucamp se opmerking dat ek dan nou volgens hom perfekte Afrikaans kan skryf (Aucamp 2013b). Uit die aard van die saak was of is dit nie altyd die geval nie – en dit sal sekerlik nie altyd moontlik wees nie – maar dit sal my van nou af deurlopend inspireer en aanmoedig: ek het nou ʼn dure verantwoordelikheid om altyd na beter vakmanskap te strewe. Hierdie inspirasie het ook daartoe gelei dat ek meer energiek begin skryf het: In Die Burger se By van Saterdag 20 Julie 2013 is byvoorbeeld ʼn stukkie prosa van my oor my buurman wat sy pyp op estetiese wyse stop en rook, gepubliseer (Pretorius 2013b:2). Daarna het drie ander bydraes op LitNet gevolg: ʼn huldeblyk aan Aucamp wat op hierdie artikel gebaseer is (Pretorius 2014a), ʼn meningstuk oor die optrede van advokaat Gerrie Nel tydens die Oscar Pistorius-verhoor (Pretorius 2014b) en ʼn bydrae oor Jesus se beroep as timmerman (Pretorius 2014c). De Villiers (2013) beklemtoon aan die einde van my waarderende onderhoud met hom dat Aucamp ook ʼn positiewe invloed op verskeie prominente persoonlikhede in die Afrikaanse kultuuromgewing uitgeoefen het: Dit was vir my só ʼn plesier en dit was vir my ʼn wonderlike voorreg om dit te doen oor Hennie. Wat ek nou vanmiddag vir jou gesê het: as jy met Amanda Strydom praat, Elsabé Zietsman praat, Johann De Lange praat. The list goes on and on and on. Hulle sal almal vir jou dieselfde sê. Met sy laaste sin het De Villiers Aucamp se invloed as mentor tot verskeie swaargewigte in die Afrikaanse kultuurwêreld uitgebrei. Gedurende die nag van Donderdag 20 Maart 2014 sterf Aucamp op tagtigjarige ouderdom in sy woonstel in Kaapstad. Na sy dood verskyn talle huldeblyke aan hom in koerante en op die internet. Die temas wat hierbo bespreek is, kom deurlopend in hierdie huldeblyke voor en bevestig dan ook hul teenwoordigheid in Aucamp se omgang met talle skeppende geeste. Aucamp het, soos Van der Colff (2014) dit stel, “... ʼn hele geslag sangers, liriekskrywers, teaterpraktisyns, regisseurs en gehore se lewens verryk, nét met sy bydrae tot die Afrikaanse liriekeskat. Dan práát ons nie eens van sy ‘stories’ nie!” Petra Müller, digter en kortverhaalskrywer, meen ook dat hy “vir ons almal” paaie in die letterkunde en die lewe oopgemaak het (Volksblad, 22 Maart 2014:13) . Johann de Lange, digter en kortverhaalskrywer, maak melding van Aucamp se ruimhartigheid: “In sy laaste weke het hy vriende laat kom en besittings aangegee, want dit was nie wéggee nie. Elke geskenk was ʼn stuk van sy leef- en denkwêreld waarmee die ontvanger kon en móés Pretorius 144 voortwoeker” (Volksblad, 22 Maart 2014:13). Vir die digter Daniël Hugo was die mens, skrywer en opvoeder wat Aucamp was ʼn onlosmaaklike drie-eenheid: hy het integriteit help gee aan ons menswees in ʼn tyd toe Afrikaans en sy gebruikers met minagting en agterdog bejeën is (Volksblad, 22 Maart 2014:13). Eloïse Wessels, uitvoerende hoof van NB-uitgewers, meen Aucamp was een van die eerste Afrikaanse skrywers wat openlik oor die gay-ervaring en –lewensruimte geskryf het (Volksblad, 22 Maart 2014:13). Joan Hambidge, digter en literator, maak ook hiervan melding: “Hy het skrywers, veral gay-skrywers, geleer om sonder skroom oor hul ervarings te skryf” (Volksblad, 22 Maart 2014:13). Sy het ook by Aucamp geleer dat mens ʼn ervaring eers emosioneel moet verwerk voordat dit as verhaal of gedig “werk”. Marthinus Basson, teaterskepper en regisseur, gee ook erkenning aan die enorme invloed wat Aucamp op hom as jong man gehad het: Sy gesprekke, toe ek hom later leer ken het omdat hy ʼn kranige teaterondersteuner was, was opwindend, intimiderend en elkeen ʼn lesing in die keurigste en rykste Afrikaans op onderwerpe wat kon strek van die mees verhewe tot die smetsigste. En altyd ʼn plesier (Volksblad, 22 Maart 2014:13). Hy maak ook melding van die durende en sentrale invloed wat Aucamp se kabaret Sewe Doodsondes het op studente in die kabaretkursus wat hy elke jaar aanbied: “... [ek] vind grenslose plesier elke jaar daaraan om te sien hoe studente wat lank reeds uit voeling is met hulle taal hulle kan verkneukel aan sy beeldspraak en skunnige idiome” (Volksblad, 22 Maart 2014:13). Juanita Swanepoel, teatervervaardiger en regisseur, het ongelooflik baie respek vir Aucamp as mens gehad (Volksblad, 22 Maart 2014:13). As skrywer het hy deurgaans met haar gepraat en sy is dol op sy werk. Sy vakmanskap was volgens haar onberispelik, want daar is niks lukraak aan sy werk nie. Amanda Strydom, sanger en komponis, het Aucamp altyd “meester” genoem (Volksblad, 22 Maart 2014:13). Ook vir haar was hy ʼn mentor, vriend, leermeester en ook vaderfiguur. Dit was Aucamp wat haar geïnspireer het om haar loopbaan te volg: “Hy het vir my gesê kabaret is my forte. En hy het my inspireer om self tekste en lirieke te skryf. Hy het vir my strukture van hoe om te skryf gegee.” Haar verweer was dat sy nie slim genoeg is nie (Strydom 2014): “Dan het ʼn preek gevolg wat my moed gegee het om tóg te probeer.” Sy het altyd haar lirieke vir hom aangestuur, en dan het hy vir haar raad gegee, kritiek gelewer en dit goedgekeur. Toe hy een van haar eerste opvoerings van ʼn Uur gevang in glas – uit sy pen – bygewoon het, het dit haar opgeval dat hy die gehoor meer dopgehou het as die kabaret, en hy was oorstelp met die reaksie: “Jy het hulle in die palm van jou hand gehad, liewe Amanda!” (Strydom, 2014). Sy dood laat haar verlore voel, want sy weet nie wie sy nou op sodanige manier gaan vertrou nie. Ook vir Danie Botha, uitgewer en regisseur, was Aucamp ʼn mentor op verskeie lewensterreine (Botha, 2014). Spies (2014:9) beskou Aucamp as ʼn gewer en mentor. Hy het haar tot baie van haar gedigte geïnspireer, veral deur boeke en gesprekke oor visuele kunstenaars. Volgens Botha (2014) sal hierdie invloed egter nie tot ʼn einde kom nie, want dit sal op ander terreine voortbestaan: in sy boeke, in Botha se persoonlike argief, maar veral in sy geheue. Van Vuuren (2014:10) se woorde dien as gepaste opsomming van Aucamp se lewe as gewer en aangewer: Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 145 Want gul met gee en aangee van skatte was dié Oubie. Nie net aan bergies en hongeriges nie, ook aan enigeen wat een van sy vele belangstellingsvelde gedeel het: kuns en rotskuns, musiek, letterkunde, outobiografie en ego-dokumentasie, gay-letterkunde, die orale folklore van die San en Khoi, kookkuns en resepte. Hierdie vrygewigheid en mededeelsaamheid van Aucamp het verseker dat sy invloed ingebed is in die psige van vele kunstenaars wat skeppende werk in Afrikaans en ander tale lewer. Sy mentorskap sal na sy dood voortduur. 6. Kritiese refleksie betreffende metodologiese kwessies Omdat die toepassing van die vyf teoretiese beginsels en die 5D-siklus van waarderende ondersoek op persoonlike waarderings van hierdie aard relatief nuut en eksperimenteel is, is ʼn kritiese beoordeling daarvan wenslik. Die onderhoude met De Villiers en Aucamp is individueel gevoer (in Johannesburg en Kaapstad) weens logistieke beperkings. As sodanig, kon die sosiale dimensie van ʼn gesamentlike gesprek dalk nie optimaal ontsluit word nie. Dieselfde geld natuurlik die menings van ander kunstenaars vir wie Aucamp ʼn mentor was. By nabetragting sou dit oorweeg kon word om al hierdie rolspelers in een lokaal bymekaar te bring sodat hulle ook met mekaar waarderende onderhoude kon voer. Weens die geografiese verspreiding en tydskedules van hierdie persone lyk dit egter vir my terselfdertyd na ʼn bykans onmoontlike onderneming. Binne die konteks van PW sou dit verder veroorsaak het dat die fokus eerder op ʼn algemene as persoonlike waardering van Aucamp se mentorskap sou val en dat die hoofdoel van die ondersoek sodoende nie suksesvol aangespreek sou word nie. Soos voorheen genoem, het ek dit ook moeilik gevind om die “ek” sentraal te laat staan – hoewel ek dit moes doen om reg te laat geskied aan Aucamp se invloed op my lewe en werk. Die besonder uitdagende opdrag in hierdie verband was om persoonlike mylpale bloot ter illustrasie van die positiewe invloed van Aucamp se mentorskap op my ontwikkeling aan te bied sonder om selfgenoegsaam voor te kom. Ek het dus ʼn sekere balans in hierdie verband probeer handhaaf. Of ek daarin kon slaag sal net die leser kan oordeel. Bibliografie Aucamp, H. 1996. Gekaapte tyd. Kaapstad: Human & Rousseau. —. 1997. Allersiele. Kaapstad: Human & Rousseau. —. 1998. Beeltenis verbode. Kaapstad: Human & Rousseau. —. 2000. Ook skaduwees laat spore: ʼn Keuse uit sy populêre verhale. Kaapstad: Tafelberg. —. 2001. Bly te kenne: ʼn Bundel portrette. Kaapstad: Tafelberg. —. 2002. Hittegolf: Wulpse sonnette met ʼn nawoord. Kaapstad: Homeros. —. 2003a. Skuinslig. Pretoria: LAPA Uitgewers. —. 2003b. In die vroegte. Kaapstad: Tafelberg. Pretorius 146 —. 2004. Bondgenoot of medepligtige? ʼn Skrywer besin oor sy dagboek. Ongepubliseerde rede gehou by die bekendstelling van Skuinslig op 20 Maart 2004 in die Protea Boekwinkel in Stellenbosch (kopie in besit van die artikelskrywer). —. 2010. Oor en weer. Pretoria: Protea Boekhuis. —. 2011. Lendetaal. Pretoria: Protea Boekhuis. —. 2013a. Koffer in Berlyn: Essays oor kabaret. Pretoria: Protea Boekhuis. —. 2 Julie 2013b. Persoonlike onderhoud met Aucamp. Kaapstad (elektroniese opname in besit van die artikelskrywer). —. 2013c. Mits dese wil ek vir jou sê: Briewe van Hennie Aucamp. Saamgestel deur Petrovna Metelerkamp. Hermanus: Hemel & See Boeke. Botha, D. 2014. ʼn Mens onthou maar ... By die heengaan van Hennie Aucamp. http://www.litnet.co.za/Article/n-mens-onthou-maar-by-die-heengaan-van-hennie- aucamp (5 April 2014 geraadpleeg). Botha, E. (samesteller en inleier). 1979. Hennie Aucamp: In een kraal. ʼn Keuse uit die prosa van Hennie Aucamp. Kaapstad: Tafelberg. Cooperrider, D.L., Whitney, D. & Stavros, J.M. 2008. Appreciative Inquiry handbook. 2de uitgawe. Brunswick, OH: Crown Custom Publishing, Inc. / San Francisco: Berrett- Koehler Publishers, Inc. Crous, F., de Bruyn, G.P., Roodt, G., van Vuuren, L., Schoeman, W.J. & Stuart, A.D. 2006. Appreciating Johann M. Schepers. SA Tydskrif vir Bedryfsielkunde, 32(4):3-7. De Villiers, C. 25 Januarie 2013. Persoonlike onderhoud. Johannesburg. (elektroniese opname in besit van die artikelskrywer). —. 2012. Hartlangs: Lirieke 1973-2102. Saamgestel deur Cas Vos. Stellenbosch: SUN MeDIA. Kelm, J.B. 2005. Appreciative living: The principles of Appreciative Inquiry in personal life. Wake Forest: Venet Publishers. —. 2006. Walking the talk: The principles of AI in daily living. AI Practitioner, Februarie:5– 8. —. 2008. The joy of Appreciative living: Your 28-day plan to greater happiness in 3 incredibly easy steps. New York: Penguin. Museum van Boimans Beuningen. 2013. René Magritte: La reproduction interdite. http://collectie.boijmans.nl/en/work/2939%20(MK) (20 Julie 2013 geraadpleeg). Orem, S.L., Blinkert, J. &Clancy, A.L. 2007. Appreciative coaching: A positive process for change. San Francisco: Jossey-Bass. Pretorius, Jannie. 2014a. Hennie Aucamp – vaarwel aan ʼn geliefde mentor en vriend.http://www.litnet.co.za/Article/hennie-aucamp--vaarwel-aan-n-geliefde- mentor-en-vriend (5 Junie 2014 geraadpleeg). Pretorius, Jannie. 2014b. Advokaat Gerrie Nel, ‘Beste Professor’ en die groter prentjie. http://www.litnet.co.za/Article/advokaat-gerrie-nel-beste-professor-en-die-groter- prentjie (5 Junie 2014 geraadpleeg). Aucamp as mentor TD, 10(1), July 2014, pp. 123- 148. 147 Pretorius, Jannie. 2014c. Is Hy dan nie ʼn timmerman nie? http://www.litnet.co.za/Article/is- hy-dan-nie-n-timmerman-nie (5 Junie 2014 geraadpleeg). Pretorius, J.P.H. 2007. Houdings en persepsies van studente teenoor samelewingsdiensleer: Implikasies vir implementering en bestuur deur programhoofde. Ongepubliseerde DTech-verhandeling, Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Bloemfontein. —. 2009a. Estetiese hoedanighede in die lewe en werk van Lorraine Botha: ʼn Estetiese ondersoek na pedagogiese kunstenaarskap. LitNet Akademies, 6(2):132–56. http://www.oulitnet.co.za/newlitnet/pdf/la/LA_6_2_pretorius.pdf (16 November 2013 geraadpleeg). —. 2009b. Cliff Richard: ʼn Opvoedkundige waardering. LitNet Akademies, 6(3):155–84. http://www.oulitnet.co.za/newlitnet/pdf/la/LA_6_3_pretorius.pdf (16 November 2013 geraadpleeg). —. 2010. ʼn Waarderende ondersoek na die pedagogiese hoedanighede van Gerhardus P.V. Bosch. LitNet Akademies, 7(3):212–35. http://www.oulitnet.co.za/akademies_geestes/pdf/LA_7_3_pretorius.pdf (16 November 2013 geraadpleeg). —. 2012. ʼn Positiewe profiel van ʼn buitengewone hoofmeisie as rolmodel: Emme-Lancia Veronique Faro van die Sekondêre Meisieskool Oranje. LitNet Akademies, 9(1):118– 43. http://www.litnet.co.za/assets/pdf/6_Pretorius.pdf (16 November 2013 geraadpleeg). —. 2013a. ʼn Persoonlike waardering van Michelangelo Merisi da Caravaggio (1571-1610). LitNet Akademies, 10(1):475–512. http://litnet.co.za/assets//pdf/joernaluitgawe%2010(1)/10(1)_GW_Pretorius.pdf (16 November 2013 geraadpleeg). —. 2013b. ‘Oor twak en pypstop en doodgaan’. By in Burger en Beeld, 20 Julie:2. Pretorius, J.P.H. en van Wyk, C. 2013. The utilisation of the performances of Neil Diamond for improving the classroom practices of educators: an educational appreciation. The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 9(3):493-504. Pretorius, J.P.H, Du Toit, D.S., Martin, C. & Daries, G. 2013. ABBA: An educational appreciation. Journal of Aesthetic Education, 47(1):92–103. Pretorius, J.P.H. & Von Maltitz, M. 2010. Artistry in education and aesthetic education: A report of arts-based staff training and learning. Journal for New Generation Sciences, 8(3):120–51. Reed, J. & Verma, N. 2013. Appreciative Inquiry research notes. International Journal of Appreciative Inquiry, 15(4):65-6. Spies, L. 2014. ‘Totsiens, my vriend’. Rapport, 23 Maart:9. Strydom, A. 2014. Hennie Aucamp: Ek het hom Meester genoem. http://www.litnet.co.za/Article/hennie-aucamp-ek-het-hom-meester-genoem (5 April 2014 geraadpleeg). Taylor, I. & Taylor, A. 2000. The assassin’s cloak: An anthology of the world’s greatest diarists. Edinburgh: Canongate Books. Pretorius 148 Van der Colff, M. 2014. Oor Hennie Aucamp en mentors. http://www.litnet.co.za/Article/oor-hennie-aucamp-en-mentors (5 April 2014 geraadpleeg). Van Vuuren, H. 2014. ʼn Woordstilis enig in sy soort: Hennie Aucamp het byna alle genres beoefen. Volksblad, 27 Maart:10. Volksblad. 2014. ‘Reis veilig en lig, Hennie…’ Volksblad, 22 Maart:13. Watkins, J.M., Mohr, B. &Kelly, R. 2011. Appreciative Inquiry: Change at the speed of imagination. 2de uitgawe. San Francisco: Pfeiffer. Whitney D. &Trosten-Bloom, A. 2010. The power of Appreciative Inquiry: A practical guide to positive change. 2de uitgawe. San Francisco: Berret-Koehler. Abstract A personal appreciation of Hennie Aucamp as mentor J Pretorius In this study, the researcher utilises the 5D-framework and theoretical and methodological foundation of appreciative inquiry and personal appreciation to conduct a personal appreciation of the influence of author Hennie Aucamp’s mentorship on the researcher’s personal and professional development. After an appreciative interview with the TV-presenter and voice artist, Coenie de Villiers, the following five positive themes of the friendships of De Villiers and the researcher with Aucamp are identified and analysed: • turning point – meeting Aucamp • Aucamp’s intellect and generous spirit and our awe • mentorship and letters • personal choice of Aucamp’s most gripping work and extraordinary craftmanship • personal views of what other artists could stand to learn from Aucamp A photo collage was assembled to serve as visual background to the personal appreciation. The researcher himself conducted a personal interview with Aucamp with a view to obtaining the latter’s responses to the identified themes and then integrated Aucamp’s reaction in the discussion. Keywords: Personal appreciation; 5D-cycle of appreciative inquiry; Hennie Aucamp as mentor; Coenie de Villiers; positive themes