Schabort familiegeskiedenis 1500 2000 / Schabort family history 1500 200 Piet en Peet Schabort ISBN 0620275464 Private publikasie Johannesburg Eerste uitgawe (ook kennisname van jongste Engelse vertaling) 2001 Posbus 95268 Emmarentia 2029 Resensie deur Dr W.A. Cruywagen Historikus en genealoog, Pretoria Op die vakgebied van die genealogie sorg kenners, gewoonlik akademiese historici, vir die filosofiese besinning, teorie en metodologie van die studieveld. Ten opsigte van genealogiese navorsing met die oog op die skrywe van familiegeskiedenis word die meeste van die werk deur amateur-historici uit liefde vir die geskiedenis en die familie gedoen. Die produk van die arbeid van twee “amateur hande”, regter Piet en Peet Schabort, Schabort Familiegeskiedenis 1500 - 2000, het in 2001 die lig gesien. Piet Schabort het die werk ook in Engels vertaal - Schabort Family History 1500 - 2000. Dit is ‘n indrukwekkende stuk werk, vlak aan die 500 bladsye. Wat vroeg reeds opval is die uitgebreide navorsing wat nie net in Suid- Afrikaanse argiewe gedoen is nie maar ook in Duitsland en die argiewe van die Mormoonse Kerk in Salt Lake City. Indrukwekkende studie van Suid-Afrika se Schaborts TD: The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, Vol. 4 no. 2, December 2008, pp. 453-456. 454 Die ontsyfering van ou Duitse geskrifte moes ‘n tydrowende en uitputtende oefening gewees het. Dit was vir die navorsers egter ook bevredigend want hulle meld dat byvoorbeeld kennismaking met die Merckse linie van die voorgeslag “opwindende onthullings” ingehou het. Die eindresultaat was lonend want die vier hoofstukke oor die Europese voorsate vorm ‘n insiggewende aanloop tot die vestiging van Johan Christoph Schabort aan die Kaap. Op die skeepsmonsterrol van “Die Generale Vrede”, die skip waarop hy hier op 10 Augustus 1716 aangeland het, staan hy aangeteken as Christoffel Schabort wat as soldaat in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie opgeneem is. Onder dié naam het die geskiedenis van ‘n “nuwe” familie aan die Kaap ‘n aanvang geneem. Die algemeen aanvaarde beginsel en uitgangspunt is dat geskiedenis en kultuurgeskiedenis hand aan hand sal loop en dat genealoë die kultuurgeskiedenis nie sy plek sal ontsê nie maar dit ten volle sal integreer in die skrywe van familiegeskiedenis. Van hierdie beginsel het die skrywers van die Schabortgeskiedenis terdeë kennis geneem. Dwars deur die werk word die nou band tussen geskiedenis, kultuurgeskiedenis en genealogie eerbiedig en gehandhaaf. Die kundige invleg van kultuurgeskiedenis en die breër implikasies van name en datums kom na vore. Die resultaat is die beter verstaan van gebeure in bepaalde tydsomstandighede. Voorts gee dit ‘n verrykende en verruimde insig in die leefomstandighede van mense, gemeenskaplikhede in gebruike, opvattings en oortuigings. Die kultuurmilieu waarin mense gebore word en opgroei, bring hul menslikheid tot ontplooiing. Die stempel wat die aanwesige kultuur nagelaat het, word oral in die Schabortboek raakgelees. Name kry nuwe betekenis en word vermenslik - van die vernames en aansienlikes tot die doodgewones. Ek glo nie ek het al ‘n familiegeskiedenis gelees waarin die rol van vroue so uitgelig word as in hierdie werk nie, en welgedaan want die belangrike rol van die vrou is in familiegeskiedenis vir te lank verswyg. ‘n Belangrike bron van inligting vir die skrywers was vele familiebriewe, memoires en foto’s wat behoue gebly het en steeds in besit van familieverwante is. Op p.134 word uit ‘n brief aangehaal wat so ver terug as 1875 geskrywe is. Daar word vermeld van ‘n Schabortafstammeling wat 90 liefdesbriewe besit wat Charlie Neethling aan Sukie Schabort geskrywe het. Sy poging was nie vrugteloos nie. Die twee is op 14 November 1893 getroud. Daar is foto’s van familiesaamtrekke waar tot vyftig persone teenwoordig was en elkeen se naam is bekend - tot die kindertjies wat voor op die grond sit. Die Schabortboek onderstreep die belangrikheid om familiegeskrifte te bewaar. Vir toekomstige skrywers van familiegeskiedenis is sodanige bronne van onskatbare waarde. Lees gerus die Schabortgeskiedenis as u nie oortuig is nie. ‘n Mens kom onder die indruk van die betekenis wat ‘n plaas, wat 455 lank in ‘n familie se besit was, op geslagte afstammelinge gehad het. In ‘n verwysing na die plaas Eversdal in die Tygerberg wat van 1855 tot in die sewentiger jare van die twintigste aan (.:!:. 115 jaar) in Schabort besit was, word gesê: “Hierdie plaas het ... vir lank as veilige familievesting van ons voorsate en gewaardeerde bodem vir voortbouing op ‘n sinvolle familiekultuur gedien” (p. 194). Vir die Frankfortse tak van die Schaborts was die plaas, Glen Alphen, in die destydse distrik Vrede, blykbaar ook vir lank so ‘n familievesting. Hoeveel sulke “familievestings” en “gewaardeerde bodems” is daar nie in S.A. nie? Dit sal jammer wees as hierdie kweekbodems van familiekultuur misgekyk word! Die skrywers het deurgaans daarna gestrewe om “objektiwiteit en ewewig” te handhaaf. Hulle slaag uitmuntend daarin selfs waar dit moeilik geword het “namate meer regstreekse en onmiddellike betrokkenheid by persoonlikhede” voorgekom het. Daar is reeds gemeld dat die Schabort-geskiedenis ook in Engels vertaal is - ‘n reuse taak wat op voortreflike wyse deur Piet Schabort gedoen is en wat pas verskyn het. Die vertaling het die voordeel dat foute wat in die Afrikaanse weergawe voorkom, reggestel kon word en ‘n paar historiese foto’s wat intussen ontdek is, ingesluit kon word. Dit is egter “n voldonge feit dat met “n vertaling baie van die segkrag van die oorspronklike verlore gaan. Iets van die intimiteit wat byvoorbeeld uit briewe straal, kan nie met dieselfde gevoel onder woorde gebring word nie. Indien hierdie grootse werk as ‘n akademiese dissertasie aangebied is, sou daar baie aanwysingskorreksies in die voetnote aangebring moes word. Terwyl dit die werk van amateur-historici is, kan hierdie tekortkoming oorgesien word. Toeligting wat in voetnote gedoen is, werp verdere lig op bepaalde gebeure en kom handig te pas. ‘n Groot tekortkoming van hierdie pragwerk is dat dit geen bronnelys bevat nie. Die voetnote bring ‘n mens op die spoor van die wye spektrum van bronne wat geraadpleeg is. Om egter “n bron in die voetnote te soek, is tydrowend teenoor die maklike weg om die inligting te kry in ‘n goedversorgde en volledige bronnelys. Ruimtebeperking verhoed dat nog gesigspunte oor die Schabortboek aangestip word: Die geloofsonderbou waarop geslagte hulle leefstyl en optrede ingerig het, die verwoesting en leed wat deel van die familie met die Anglo-Boereoorlog getref het en die moedige heropbou ná die verwoesting kon aandag geniet het, maar ... By die lees van familiegeskiedenis - van die eie familie en selfs ook van ander - wel daar in die gemoed ‘n gevoel van trots op oor ‘n mens se herkoms en oor alles wat voorgeslagte vermag het. Dit versterk die eie selfrespek en stimuleer ‘n voorneme en wil om waardige voorouer TD, 4(2), December 2008, pp. 453 456. Boekresensie 456 se nagedagtenis in ere te hou en hulle in ware menswees na te lewe. Die Schabortboek wek beslis sodanige emosies. Die skrywers sluit hulle Voorwoord af met die verwagting dat diegene wat “wonder en graag wil weet” moontlik antwoorde in die boek sal vind. Baie meer lesers as Schabortafstammelinge sal beslis baat vind: deeglike navorsing, goedversorgde taalgebruik, objektiwiteit, metodologiese riglyne, en baie meer. Die skrywers het uitmuntend daarin geslaag om aan soekende belangstellendes antwoorde te verskaf!