Microsoft Word - 11 Gouws Resensie.docx TD The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 9(1) July 2013, pp. 182 - 184. Resensie: Kreatiewe momente van die Mooirivier in beeld en klank saamgevat Resensie: Foto-uitstalling, “Mooirivier: Weerspieëling en weerklank” Plek: Die Galery, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Kunstenaar: Franci Greyling ’n Interdissiplinêre groepuitstalling, is vanaf 9 Mei tot 20 Junie 2013 in die Noordwes- Universiteit se kunsgalery op die Potchefstroomkampus vertoon. Die Mooirivierfoto-projek van prof. Franci Greyling (Vakgroep Skryfkuns in die Skool vir Tale aan die NWU Potchefstroomkampus) “Mooirivier: Weerspieëling en weerklank” het deel van die uitstalling gevorm. Figuur 1. Twee fotobeelde van die Moorivier se water in die kunswerk van Franci Greyling. Foto: JWN Tempelhoff. Twee konsertinaboeke met foto-indrukke van die weerkaatsings in die loop van die Mooirivier wat op verskillende tye van die dag geneem is, het ’n verrassende aanwendig van Resensie: Mooirivier in beeld en klank TD, 9(1), July 2013, pp. 182 – 184. 183 die wisseling van lig op water tot gevolg. Volgens Greyling is hierdie visuele indrukke die uitbeelding van die wyse waarop die rivier oor die tydperk 1840 tot 2012 deur die mens benut, verlê en versaak is. Spieëlbeelde en rippelings is deur die oog van haar lens vasgevang. Dit bestaan uit syfergate, poele, vlakstrome en damme wat strek vanaf Klipgat se droë rivierbedding en die kristalhelderwater van die “Bovenste oog” in die noorde tot by die samevloeiing van die Mooi- met die Vaalrivier by Kromdraai in die suide. Beskawings oor die eeue is aangetrek en het hulle in omgewings waar daar water is om oorlewingsdoeleindes gevestig en weggetrek indien daar ’n tekort ontstaan het. Gedurende die 1840’s het die vestiging van die emigrant-boere in die Boererepublieke, in ’n groot mate om die teenwoordigheid van die Mooirivier en Vaalrivier en die beskikbaarheid van water en weiding gewentel. Die vestigingspatrone en boerdery-aktiwiteite in hierdie water-omgewing strek oor ’n tydperk van meer as 170 jaar. Die foto-indrukke van Greyling word belig deur tekste rakende die mens se ingrepe op en veranderings aan die rivier. Die gees of sin van plek wat ’n religieuse oorsprong in die Romeinse mitologie het, kom hier hoofsaaklik in twee dimensies sterk na vore. Enersyds die objektiewe dimensie, visuele kwaliteit of karakter (wat dokumente, topografiese verwysings, GPS-koördinate) geskiedkundige plekke en foto’s wat deel is van die kultuurlandskap, insluit; en andersyds die subjektiewe gevoel en belewenis van die omgewing (in die vorm van die verhale en mites oor die ou dae wat nog van geslag tot geslag oorvertel word), wat meer simbolies of sielkundig van aard is. Die “gees” van die Mooirivier is suksesvol geïnkorporeer met ’n kulturele reis wat strek oor die tydperk van 1840 tot 2012. ’n Ingrepe-kant is vir dié doel geskep. Koerantberigte en geskrewe inligting rakende fisiese bakens soos onder andere Klerkskraal, Gehard Minnebron, Bosbokdam, Oudedorp, Meulstraat, Noordburg en Mooirivier Mall, asook historiese gebeure soos die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1) word hier belig. Aan die indrukke-kant is daar toepaslike multi-kulturele teksgedeeltes. Hier is die inspirasie van die rivierlandskap vanaf 1840 tot 2012 verweef met die kunstenaar se indrukke van die mense wat sy langs die rivier ontmoet het, hoe die mense die rivier gesien het in stories wat oorvertel is, memoires, en reisindrukke. Sy noem dit “kultuurgeraamtes”. Die kunstenaar het daarby woordbeelde in verskillende groottes en rigtings volgens prominensie met Photoshop- sagteware aanmekaar gevoeg om ’n “woordrivier” visueel uit te beeld. ’n Letterlike rivier van woorde. Die keuse van hierdie indrukke is ’n doelbewuste poging om die gedeelde geskiedenis van verskillende kultuur- en etniese groepe wat in die Mooiriviergebied gewoon het, vas te vang. Verskillende tale en kulture is betrek by die geskiedenis van die omliggende streke, in besonder die Sotho-Tswana, die bruinmense van Rysmierbult, Portugese reisigers, Joodse handelaars, Engelssprekendes en Afrikaners. Deel van die uitstalling is ’n klankopname wat tot aanvulling van die visuele indrukke strek. ’n Unieke “woordrivier” of klankstroom is geskep deur ’n kreatiewe kombinasie van genoemde multi-kulturele tekste, prosa en poësie oor die Mooirivier wat aan die indrukke-kant vertoon is. Die gelaagdheid van Greyling se werk het verskillende betekenisvlakke wat deur haar kombinasie van diverse media tot uitdrukking kom. Musiek vorm deel van haar klankstroom. Die geluid van 'n waterdruppel wat val in water het die harmoniese taal geinspireer vir ’n klavierstuk "Mooirivier fragment" wat deur die orrelis, Gerrit Jordaan, spesifiek vir dié projek gekomponeer is. Volgens Jordaan is sy komposisie 'n fragment (musikale lus) wat 'n paar keer herhaal om iets van die kontinuïteit van die stroom aan te dui. Die energieke “golf-geriffel” van 'n bewegende stroom wat heeltyd van gedaante Gouws 184 wissel word tussen die pianis se twee hande uitgespeel. Die liefdesliedjie “My Sarie Marais” wat deel is van ons volkskultuur, se bekende motief “sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon” is die weerspieëling van die oorkoepelende tema. Dit is in die duskant-deel van die klavierstuk opgeneem, en omgekeerd in die bas gebruik. ’n Sogenaamde “waterspieël” wat meer sê, meer vra as wat op die oppervlak sigbaar is. Die komponis wou met die donker en gevoelvolle bas betekenis gee aan die mens se drome en "ongehoorde dinge" wat praat as daar in die stroom gekyk word, asook die onbekende toekoms van die rivier. Daar is ironie in Greyling se retoriese vraag: wat gaan van ons ‘mooi’ rivier word wat so onbeskaamd besoedel word? Die lotgevalle van die stroomaf watergebruiker is een van die oudste knelpunte in die bestuur van water, die watergebruikers in die Mooirivier-omgewing is tans weens ’n unieke sameloop van omstandighede ook uitgelewer. Sedert die laat-1880’s is in die Witwatersrand vir goud gedelf, en het ’n “kolonialistiese” geneigdheid tot die eksploitering van die bo-stroomse mynbou-aktiwiteite posgevat. Goudmyne wat sedert 1886 hier in bedryf was, sluit en mynwater word nie meer oordeelkundig bestuur nie. Die ondergrondse vlakke van suurmynwater, gevul met soute, swaar metale (waarvan sommiges radio-aktief is) in die uitgewerkte verlate goudmyne styg progressief en besoedel reeds die bestaande riviere aan die Wesrand. Die Wonderfonteinspruit1 hou tans ’n gevaar in terme van watergehalte vir die Mooirivier in. Beide die hoë uraanvlakke in die Gerhard Minnebron en die huidige mynplanne om yster bo- stoom te myn, is ’n bekommernis vir die boorlinge al langs die Mooirivier. Die benutbaarheid van landbougrond word hierdeur nadelig beïnvloed. Die laaste jare word die drinkbaarheid van Potchefstroom se kraanwater deur dorpenaars bevraagteken. Die vernietiging van die rivier as gevolg van mynbouaktiwiteite en besoedeling is ’n moontlikheid. Claudia Gouws Noordwes-Universiteit (Vaal) 1 F. Winde & E.J. Stoch, “Threats and opportunities for post closure development in dolomitic gold mining area of the West Rand and Far West Rand (South Africa) – a hydraulic view (2): opportunities” in Water SA, 26(1), January 2010, pp. 75-82.