Die reikwydte van 11 September in die filmmedia PIETER DE KLERK Noordwes Universiteit Films: United 93, regisseur Paul Greengrass, 2006. World Trade Center, regisseur Oliver Stone, 2006. Vyf jaar na die gebeure op 11 September 2001 begin die gevolge daarvan al duideliker word. Amerika se buitelandse beleid, maar ook die Amerikaners se lewensuitkyk is ingrypend daardeur beïnvloed. Oor die reeks gebeurtenisse wat so ’n belangrike invloed op Amerika en die wêreld gehad het, het daar reeds ’n hele aantal dokumentêre films verskyn, maar nou ook twee films wat as gedramatiseerde weergawes beskou kan word en wat wêreldwyd in bioskope vertoon is. Daar is reeds talle resensies oor die twee films geskryf. In hierdie kort bespreking word slegs gepoog om die vraag te beantwoord in hoeverre die films daartoe bydra om ons kennis van die gebeurtenisse van 11 September te verruim. In United 93 word die verhaal vertel van die vliegtuig waarmee die skakers waarskynlik in Washington se Capitol wou vasvlieg, maar wat nie sy teiken bereik het nie en in die staat Pennsylvania neergestort het. Greengrass het baie navorsing gedoen en onder meer inligting van familielede van die passasiers en bemanning ingewin. Aangesien die mense in die vliegtuig tot in die laaste minute telefonies met familie en vriende in verbinding kon bly, is redelik baie bekend van wat in die vliegtuig gebeur het. Greengrass bied ’n geheelbeeld van die gebeure rakende die rampvlug waarby hy binne die raamwerk van die gegewens skets hoe sake moontlik kon verloop het. Hy gebruik nie bekende akteurs nie en fokus ook nie op enkele persone wat deel van die drama was nie. Tonele binne die vliegtuig word afgewissel met tonele in die Amerikaanse National Traffic Control Center, ander lugbeheertorings en ’n militêre beheerkamer. TD: Die Joernaal vir Transdissiplinêre Navorsing in Suider Afrika, Vol. 2 nr. 2, Desember 2006, pp. 513 515. 514 Greengrass slaag goed daarin om die verwarring en chaos in hierdie sentrums uit te beeld nadat daar gerapporteer is dat een en daarna ook ander vlugte van hulle normale koers begin afwyk. Dit blyk ook goed uit die film dat, toe dit begin duidelik word dat die kapers die vliegtuie as missiele wou gebruik om bepaalde teikens te tref, die militêre struktuur glad nie voorbereid was om so ’n bedreiging die hoof te bied nie. Die pogings om akkuraat weer te gee wat in die be- heersentrums gebeur het (en waarby enkele persone wat daardie dag op diens was self in die film optree), bring mee dat dit nie altyd maklik is om te begryp wat daar aan die gang is nie. Vir die gewone filmkyker is die prosedures wat by sulke beheersentrums gevolg word taamlik onbekend en vereenvoudiging asook groter konsentrasie op enkele fasette sou waarskynlik kon help om ’n duideliker beeld te vorm van die gebeure op daardie besondere oggend. Daarenteen is dit maklik om te volg wat in die vliegtuig gebeur. Die meeste mense wat na hierdie film kyk, het waarskynlik ’n goeie idee van hoe dit binne ’n passasiersvliegtuig lyk en van die roetine wat gewoonlik op ’n vlug gevolg word. Met hierdie agtergrondskennis is dit nie moeilik om ’n beeld te vorm nie van hoe die skakers te werk gegaan het en wat die reaksie van die bemanning en die passasiers was. Kykers wat self al vliegtuigpassasiers was, sal hulle met hierdie mense kan identifiseer en sien dat hulle optree soos wat hulle self waarskynlik in so ’n situasie sou optree. Soos algemeen bekend het ’n groepie passa- siers daarin geslaag om die skakers te oorrompel en die stuurkajuit binne te dring. Dit is nie seker of die vliegtuig wel sy teiken sou getref het as die passasiers nie tot hierdie daad oorgegaan het nie. Greengrass probeer ook nie voorgee dat dit die geval sou gewees het nie; hy dui juis aan dat die skakers foute gemaak het en dalk te lank gewag het om tot aksie oor te gaan. Sy weergawe van die passasiers se verset teen die skakers dui ook nie daarop dat dit ’n heroïese daad was om te verhoed dat die kapers hul teiken tref nie, maar eerder dat hul gehoop het om, deur beheer oor die vliegtuig oor te neem, dalk nog hul eie lewens te red. Die beskikbare gegewens is nie voldoende om te weet presies wat in die vliegtuig gebeur het nie, maar dit is duidelik dat Greengrass probeer het om ’n beeld te bied wat die beste met die feite klop. Ook die optrede van die skakers word baie geloofwaardig uitge- beeld. Hy probeer hul geensins demoniseer nie, maar beeld hulle uit as gelowige Moslems wat sterk toegewyd was aan die uitvoering van hul opdrag. United 93 kan dus gesien word as ’n film waar dramati- sering versigtig en oordeelkundig aangewend word sonder om belang- rike gegewens te verdraai, en die kyker se kennis en begrip van die besondere historiese gebeure word beslis daardeur verruim. Tegelyker- tyd bied dit ’n allesbehalwe vervelige kykervaring. Al is dit van die begin af bekend wat die lot van almal aan boord van die vliegtuig gaan wees, laat Greengrass die gebeure op die vliegtuig soos ’n spannende drama ontvou waarby die kyker steeds nou betrokke voel. Filmresensies 515 Terwyl United 93 oor die algemeen baie positief deur die resensente ontvang is, was die meeste resensies van World Trade Center minder vleiend. Die film handel hoofsaaklik oor die lotgevalle van twee polisiemanne wat, nadat die vliegtuie die twee torings van die World Trade Center getref het, een van die geboue binne gegaan het in ’n poging om lewens te red, maar, toe die gebou in mekaar stort onder die puin beland het, en eers na 14 uur deur ’n reddingspan gevind is. Die eerste deel van die film bied ’n geloofwaardige weergawe van sommige van die gebeure wat hul by die World Trade Center afgespeel het, maar in die grootste deel van die film word gefokus op die twee polisiemanne wat onder die puin begrawe lê. Hoewel hulle onbenydens- waardige lot aangrypend uitgebeeld word, verskil dit nie baie van mense wat byvoorbeeld as gevolg van ’n aardbewing in ineengestorte geboue vasgekeer is nie. Daar is ook verskeie tonele waarin ons die twee hoof- karakters se familielede te sien kry, maar dit wat hulle moet deurmaak lyk nie juis anders as dit wat met talle mense in soortgelyke omstandig- hede, soos byvoorbeeld tydens ’n mynramp, gebeur het nie. Deur die film toe te spits op twee persone wat die ramp van 11 September oor- leef het en min aandag te gee aan die duisende wat omgekom het, kom die tragiese gevolge van die ineenstorting van die World Trade Center in die film nie goed na vore nie. Vir die kykers wat reeds ’n basiese kennis van die gebeure van 11 September het, bied Stone se film dus nie veel nuwe kennis of insig nie. Eintlik is die titel van die film misleidend; dit gee geensins ’n geheelbeeld van die gebeure rondom die aanval op die World Trade Center nie. In hierdie geval het die dramatisering van gebeure dus nie gelei tot groter historiese kennis en insig nie. Filmresensies TD, 2(2), Desember 2006, pp. 513 515.